“The two most important days in your life are the day you are born and the day you find out why.”
― Mark Twain —Een van die pilare in Judaïsme is die sogenaamde Tikkun Olam (“repairing the world”) waar ons aktief opgeroep word tot die verbetering van die wêreld deur middel van vriendelikheid (kindness), geregtigheid, en sosiale verantwoordelikheid. Deur liefdadigheidswerk (tzedakah) te doen, geregtigheid na te streef, en om vir ander te sorg, dra by tot ʼn betekenisvolle lewe.
Die Oostenrykse Jood en holocaust survivor Viktor Frankl som dit mooi op as hy sê —
“The meaning of life is not found in things, but in the people we love and the impact we have on their lives.”
In die maand waar ek ʼn geboortedatum herdenk, is daar baie vrae in my gemoed oor die betekenis van die lewe in die algemeen en die betekenis van mý lewe spesifiek. Vrae oor wat is sinvol, wat is my taak en roeping, wat is my bydrae tot die samelewing waarin ek leef?
In my dagboek van 10 jaar gelede het ek ook ʼn aantal vrae neergeskryf en nou besoek ek daardie vrae weer om te sien hoe ek dit verwesenlik het en wat ek saamneem na die volgende dekade in my lewe:
Uiteraard het ʼn mens se verstaan en ervaar van die lewe enorm geskuif oor ʼn dekade.
Daar was ʼn verdieping in ʼn mens se intellektuele, emosionele, en spirituele groei. Daar was ook teleurstellings en terugslae. Daar was afskeid en hartseer, maar daar was ook geskenke van liefde en vernuwing.
Ons vra hierdie maand — WAT GEE BETEKENIS AAN JOU LEWE?
Laas week het gegaan oor Interpersoonlike Verhoudings en vandag gaan oor Waardes.
Waardes verwys na die rigtinggewende beginsels en oortuigings wat ʼn mens (of gemeenskap) as belangrik, wenslik en betekenisvol beskou. Waardes dien as ʼn gids vir ons optrede, keuses, en prioriteite in die lewe, en vorm die grondslag vir persoonlike en sosiale gedrag. Dit beïnvloed hoe ʼn mens dink, voel, handel, en keuses maak.
Van tyd tot tyd is dit nodig om introspeksie te doen en te bepaal wat vir jou die belangrikste is. Waar ek vandag in my lewe is, sal ek sê dat waardes soos integriteit, deernis, regverdigheid, kindness, en lojaliteit vir my van groot betekenis is.
ʼn Mens het baie oortuigings (beliefs) wat beïnvloed word deur die tyd, plek, en omstandighede waar jy op die oomblik in jou lewe is. Dit is belangrik om so nou en dan te reflekteer oor hierdie oortuigings oor die wêreld, mense, sosiale kringe, loopbaan, en die lewe en jou plek daarin.
Hierin speel my spiritualiteit (verhouding met God) ʼn enorme belangrike rol. Dit is die een konstante in my lewe. Dit is die fontein waaruit my leivore van liefde vloei. Dit is die ruspunt waar ek vrede en vreugde hengel. Daar vind ek geduld met myself en mense om my. Dit is die inspirasie vir ʼn lewe wat geken word deur kindness en om goed te doen aan ander. Dit gee my krag om getrou en sagmoedig te wees in elke aspek van my menswees. Bowenal, hou dit my nederig en waak dit oor my om met selfbeheersing keuses te maak wat my Hoër Doel dien.
Met hierdie Vrugte (waardes) kan ʼn mens veilig om die slaggate van die lewe reis. Dit hou jou getrou aan jou ware Self sodat ʼn mens nie besluite maak waarvan ʼn mens die implikasies en konsekwensies nie eers kan begin bereken nie. Dit maak jou hart oop om die Teenwoordigheid van God te ervaar en die seëninge (wat reeds daar is) te sien.
Dit lyk my genoeg vir vandag.
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.