“Remember that when you leave this earth, you can take with you nothing that you have received — only what you have given.”
― Francis of Assisi —
Ek is jonk genoeg om te onthou hoe dit was om water uit ʼn tuinslang te drink, in mamba- en pofadderwêreld ʼn boomhuis te bou, adresse en aanwysings te memoriseer, en telefoonnommers uit jou kop te geken het. Ons is ingeënt teen masels, waterpokkies, polio, hardegatgeit, en nukke sonder dat iemand gewonder het wat in die spuit of rottang is.
Ons het nie baie gehad nie, maar daar was nie ʼn sosiale media, of ‘sponsored ads’ om te sê ons het nie genoeg nie. Wat ons gehad het, was genoeg.
Op die verskeie sendingstasies waar ek grootgeword het, was daar altyd ʼn diep respek vir die kultuur en tradisie van die mense op wie se grond hospitale, skole, en kerke gebou is. Dit was altyd in konsultasie met die stam-kapteins en hoofmanne. Daar was ʼn wedersydse erkenning van mekaar se menswaardigheid.
Alhoewel my ouers konserwatief was, onthou ek hoe my pa altyd gesê het, “Hoe vreemd dat ons aan dié mense die Evangelie bring om saam met ons hemel toe te gaan, maar hul mag nie Sondae saam met ons kerk toe gaan op die dorp nie.”
Miskien is dit ʼn teken dat ek oud word, want met heimwee dink ek terug aan ʼn tyd wat voel of ons hemel nader was. Ons huis was toeganklik vir almal — die avo, litchi-, mango-, en papajabome wat wild gegroei het, was vir almal se kombuis, en ons het geweet om nie in mekaar se beddings te speel nie.
Waar het ons dit verloor? Het ons te slim vir onsself geword? Het televisie, films, koerante, en die internet iets daarmee te make? Was dit die begin van ʼn gesindheid wat vergelyk, weeg en meet, en moet kompeteer? Waar het ons só agterdogtig, só onvergenoegd, só bang geword?
Die Industriële Rewolusie tussen 1760 en 1860 het ʼn groot invloed gehad op die mens se emosionele, finansiële, intellektuele, en spirituele welstand.
Slawerny was op sy hoogtepunt en is vandag nog in ons samelewing geweef. Mense word uitgebuit deur korporasies en werk soos slawe teen ʼn minimum loon vir maatskappye wat nét hul aandeelhouers dien. Ons het slawe geword van banke wat gretig geld vir mense leen wat teen enorme rente nooit afbetaal kan word nie. Ons is slawe van ambisie en materiële welvaart. Slawe van ons woede en verbitterdheid.
Regverdigheid is gereserveer vir waar dit mý pas, wanneer en hoe dit mý pas. Geregtigheid is vervang deur wraak. Billikheid is vervang met vergelding. After all — as God ʼn onskuldige kan laat sterf ter wille van sondaars, hoekom nie ook dieselfde doen nie?
Geweld het elke aspek van ons samelewing gepenetreer. Ons gesinne het die slagveld geword van verkragting en moord. Die tydgees is eenvoudig dat as ek van jou verskil, of nie van jou hou nie, en net dink jy kan moontlik ʼn bedreiging wees, dan elimineer ek jou. Die ‘cancel culture’ van ons tyd is ʼn goeie voorbeeld daarvan.
Wat het geword van die oeroue waarheid:
“Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle jul gedagtes rig.” — Filippense 4:8
Dit geld tog vir elke verhouding waarin ek staan — met God, met myself, my medemens, die natuur, en my werk.
Ja, daar is dinge wat in jou lewe gebeur. Goed waaroor ons nie beheer het nie, en hoe jy daarop reageer, sal bepaal wie jy is — it will define who you are.
Ons REAKSIES bepaal of ek hemel of hel ervaar.
Dit lyk vir my — hemel, óf hel, is ʼn keuse:
Kom ons sluit Sondag ons tema — HEMEL OP AARDE — af met ʼn gesprek oor die Vrugte van die Gees (Galasiërs 5:22).
Soos altyd
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
― Romeine 8:38-39 ―