“Our Great Mother does not
take sides, She protects
the balance of life. The Earth
stays in balance, always.”
― Neytriti: in the movie ‘Avatar’ —
Ons sit ons gesprek voort oor die tema: HEMEL OP AARDE — en het die laaste twee weke tot die slotsom gekom dat Hemel is nie ʼn geografiese plek êrens in die kosmos nie, maar Hemel is ‘die TEENWOORDIGHEID van God’.
Hemel is nie vir eendag ná ons fisiese dood nie, maar hier en nou as ons sterf in ons ego-denke. Sterf in ons mensgemaakte projeksies en persepsies, en ons gedagtes vernuwe om plek te maak vir ʼn Goddelike perspektief.
Hemel is alomteenwoordig en word gevind waar liefde gedy en seëvier; waar die vrede wat alle verstand te bowe gaan oor my gedagtes en gevoelens die wag hou; waar ʼn innerlike vreugde nie afhang van omstandighede nie; en waar ons mekaar met medemenslikheid en menswaardigheid behandel.
HEAVEN is the presence of God
let us must BE the awareness of the presence of God.
Elke dag, op ʼn duisend plekke, op ʼn duisend maniere loop ons hemel raak. Sien jy dit? Is jy bewus daarvan?
Ons word gebore, ons leef en ons sterf. Ons ken armoede en dan weer oorvloed. Ons het werk, ons bedank en verander van loopbaan. Ons is gesond en word siek en weer gesond. Ons trou en ons skei en ontmoet iemand nuut en trou dan weer. Ons het kinders wat grootword, skool toe gaan, en na skool hul eie potjie krap. Ons voel geseënd en dan weer vergeet. Ons maak foute (wonde) en het berou en kom weer tot ons sinne.
Die storms van lewe is nie HEL nie, ons reaksie daarop vat ons óf na die moeras van hel óf na die tuin van hemel.
Om deur een of ander skeiding te gaan (werk, huwelik, vriende, familie), is nie HEL nie, maar hoe ons daarop reageer gooi ons óf in die vagevuur van HEL of bring ons na die oase van ʼn hemelse vrede en vergiffenis.
“The mind is its own place, and in itself, can make heaven of Hell, and a hell of Heaven.”
— John Milton
Dit is ék wat myself in die hel gooi net om keer op keer die Stem van God te hoor, “Wat maak jy daar? Dis nie jou plek nie. Kom terug huis toe!”
In 1945 is die ‘Evangelie van Thomas’ ontdek by Nag Hammadi in Egipte. Daar is 114 verse en geskryf in die antieke Koptiese Taal. Dit word algemeen aanvaar dat die teks outentieke uitsprake van Jesus bevat wat volgens oorlewering oorgedra is van gemeente tot gemeente in die antieke wêreld.
“Wanneer jy die twee één maak — die innerlike die uiterlike en die uiterlike soos die innerlike en dit wat bo is, dieselfde as onder, dan sal julle ingaan [in die Koninkryk van God] ... Ek is die Lig wat bo alles is, Ek is die alles, die alles kom van My en alles behoort aan My. Split jy ʼn stuk hout — Ek is daar; lig jy ʼn klip, sal jy my daar kry.
Verder het Jesus gesê: ‘as julle leiers vir julle sê: ‘kyk die Koninkryk van God is in die hemel’ sal die voëls van die hemel julle vooruitgaan. As hulle sê: ‘dit is in die see’ sal die visse julle vooruitgaan. Maar die Koninkryk van God is in julle en om julle.” (Evangelie van Thomas)
Lees dit nou saam met Lukas 17:20-21
“EN toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.”
Ons het hierdie Waarheid so versluier onder die dekmantel van godsdienstigheid dat ons dit vergeet het. Hemel is nie buite nie, dit is binne. Soos soveel ander aspekte van ons lewe is A Course in Miracles reg as dit sê: “If you don't go within, you will go without.”
Ons het dit dikwels al gesê, ons kom uit ʼn milieu waar ons van kleinsaf moes kompeteer. Aanhoudend herinner is dat ons nie mooi, nie slim, nie ryk, nie sterk, nie goed genoeg is nie. Reeds in ons vormingsjare is ons geïndoktrineer om onsself te betwyfel. Die kerk het ʼn aktiewe rol hierin gespeel deur ons te leer dat ons ook nie goed genoeg is vir God nie, en verdien om gestraf te word.
Dit was hel.
Om voortdurend te leef in die vrees vir mislukking en die vrees vir verwerping.
Dit is hel.
Vandag het ons ʼn nuwe insig oor wie God is en hoe God in en deur ons liefde manifesteer. God is nie langer ʼn projeksie van my skuldgevoelens en vrees nie.
God is die inwonende krag wat deur ons aksies en reaksie geopenbaar word.
Hierin is Jesus vir ons ʼn voorbeeld en bron van inspirasie van wat dit beteken om elke dag die LIEFDE te hengel vir ons spens (hemel) sodat ons in dae wat ons swaar dra, verlore en verdwaal rondtas in die donker, weer sal onthou dat God is nie weg of vêr of buite bereik nie.
Kom ons verken Sondag die dualisme van God versus duiwel, hemel versus hel, sonde versus seëninge, verlore versus gered.
Mag die week in alles wat mooi en goed is vir jou ontvou.
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“One God and Father of all,
who is over all and through all,
and in all.”
― Ephesians 4:6 ―