Potgooi:
“The only thing worse than being blind, is having sight but no vision.” — Helen Keller
Ons sit ons gesprek voort oor ‘VISIE — om met die oë van die Hart te sien.’
In die besigheidswêreld word die terme ‘missie’ en ‘visie’ dikwels gebruik om die waardes, doel, mikpunte, en aspirasies van 'n organisasie te verwoord.
Dit dien as ʼn kompas wat so 'n onderneming stuur na wat hul wil bereik, waar hul wil wees, wat se bydrae hulle wil maak, en hoe hierdie gemeenskaplike ‘goals and direction’ hul werknemers, en tot ʼn mate hul kliënte, saam wil vat op ʼn reis na sukses.
Die vraag is: hoe definieer jy ʼn VISIE vir jou organisasie as jy geen intellektuele, emosionele, en spirituele VISIE het in jou persoonlike lewe nie; en hoe bring jy jou werknemers aan boord as dit net gaan oor wins en kapitaal vir die aandeelhouers?
In Stephen Covey se boek ‘The 8th Habit’ verwys hy na ʼn meningspeiling wat gedoen is onder 23 000 werknemers uit 'n aantal maatskappye en nywerhede. Die resultaat van die navorsing is baie interessant:
Dan maak Covey die statistieke van toepassing op ʼn sportmetafoor:
“If a soccer team had these same scores, only 4 of the 11 players on the field would know which goal is theirs. Only 2 of the 11 would care. Only 2 of the 11 would know what position they play and know exactly what they are supposed to do. And all but 2 players would, in some way, be competing against their own team members rather than the opponent.”
Dit is seer sekerlik waar vir die meeste maatskappye en organisasies in ons eie land — wat is die rede hiervoor?
Soos laas week genoem, moet die verklaring gesoek word in ons vermoë om krities te kan dink, situasies met wysheid en begrip te benader, en innoverende oplossings te soek vir die uitdagings wat oor ons pad kom.
Ons noem dit: Intellektuele Visie.
Daarmee saam gaan die vermoë om met gevoel en empatie, integriteit en menswaardigheid op ʼn sielvolle vlak met ons medemens om te gaan — ongeag of dit ʼn kollega, werknemer, kliënt, vriend, of familielid is.
Dit staan bekend as: Emosionele Visie.
Visie laat jou ‘sien’ en as ons sien, verstaan ons, en as ons verstaan, verander ons.
Die naelstring tussen hierdie twee lê in ons Spirituele Visie wat verby die materiële wêreld sien, en wat connect met iets groter as onsself.
Dit is tog vanselfsprekend dat as jy sê jy is ʼn Christen, dat dit die basis sal vorm waarmee jy besigheid doen en hoe jy met jou kollegas en kliënte omgaan. Die waardes wat gepaardgaan met ons geloofsoortuigings moet tog deurslag vind in ons werk, ons gesinne, en intieme verhouding, al is dit dan ook net die Goue Reël — doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.
Wat beteken ons intellektuele vaardigheid en emosionele gawes as dit nie op ʼn spirituele fondasie gebou is nie? Maak nie saak wat jy dan doen of sê nie, die ego sal floreer.
Dit kweek ʼn gesindheid wat net wil weet, “Wat is daar in vir MÝ?”
Êrens moet ons konsekwent wees met wat ons sê ons GLO en dit wat ons doen by die werk en in ons interpersoonlike verhoudings. Daar moet tog ʼn balans wees in ons toewyding (dedication) teenoor ons besigheid en die toewyding (devotion) in ons geestelike lewe.
Wat is hierdie VISIE waarvan ons praat, hoe sou ons dit definieer:
Visie is om met insig die groter perspektief te sien (i.e. nie net die skerm voor jou nie, maar die venster, die uitsig, die grond onder jou voete, die lug, die blou). Die vermoë om ‘konteks’ te verstaan (i.e. iets gebeur nie op sy eie nie, dit het 'n aanloop, daar was 'n aksie voor dit). Om sensitief bewus te wees vir die nuanses van die lewe (i.e. goed is nie wit en swart nie, daar is verweefde aspekte wat die kompleksiteit van die lewe diepte en betekenis gee).
Waaroor gaan dit?
In Markus 10:46-52 word die verhaal vertel van ʼn blinde bedelaar wat na Jesus roep. Almal maak die man stil omdat hy ʼn verleentheid is. Dan gaan staan Jesus stil en vra vir hom, “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?”
“Rabboeni, dat ek kan sien,” antwoord die man.
Ons wil só graag SIEN — ons wil sien wat om te doen, en hoe om te reageer op die besluite wat geneem moet word; ons wil sien wat die regte ding is om te doen; ons wil sien waar ons moet verbeter, en hoe om om te gaan met die uitdagings en teleurstellings van die lewe.
Ons wil só graag SIEN — hoe om bewus te wees van die teenwoordigheid van God; hoe ons met meer dissipline en toewyding ons kop, hart, en siel in balans kan bring; hoe om bewustelik, oplettend, en aandag te lewe.
Hoe doen ons dit?
Kom ons gesels Sondag oor VIER maniere om hierdie VISIE te verskerp:
Haal jou bril af. Was jou vensters, en SIEN met ʼn Goddelike visie — jouself, jou ewemens, jou omstandighede, jou keuses, jou besluite, en reaksies.
Dan sal dit regtig ʼn mooi en geseënde week wees.
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.