Vier Psalms

“Wie kan in geheime plekke wegkruip sodat ek hulle nie kan sien nie?” verklaar die Here. “Vul ek nie die hemel én die aarde nie?” verklaar die Here.”
— Jeremia 23:24 —

So paar dae terug kom ek af op ʼn dokument waarin ek etlike jare gelede ʼn paar Psalms vir myself vertaal het uit Hebreeus. Met die herlees van hierdie gebede in poëtiese taal, besef ek weer die skoonheid van hierdie klasieke taal en hoe dit geweef is met simbole en metafore.

Ons gaan hierdie maand stilstaan by VIER van my gunsteling-Psalms, en kom ons begin met Psalm 139:1-18 —

Here, U verstaan my ten volle
en U ken my.

U weet wanneer ek sit
en wanneer ek opstaan;

U begryp my gedagtes van ver af.
U bepaal my pad, en my lêplek,
U is bekend met al my weë.
Nog voor 'n woord op my tong is,
kyk, o Heer, U ken dit volledig!
U soom my in, van agter en van voor;
U lê U hand op my.
Sulke kennis is te wonderlik vir my;
dit is te hoog,
ek kan dit nie omvat nie.

Waarheen kan ek gaan van U Gees;
of waarheen sal ek vlug
van U teenwoordigheid?

As ek opvaar na die hemel –
U is daar;

as ek my bed in die doderyk maak –
ook daar is U!

Neem ek die vlerke van die môre,
en woon aan die einde van die see;
ook daar sal U regterhand my lei,
U hand my vashou.

En as ek sê, “Waarlik die duisternis
sal my bedek 
en die lig
om my word nag”, 
selfs duisternis
is nie vir U donker nie,

die nag is so helder soos die dag,
die duisternis is soos lig by U.
Want U het my binneste dele gevorm,
my aanmekaar geweef in my moeder
se skoot.

Ek prys U omdat ek ontsagwekkend
en wonderbaarlik gemaak is.
Manjifiek is U werke,
my siel weet dit maar te goed.

My gebeente was nie vir U verborge
toe ek in misterie gemaak is nie,
kunstig geweef
in die dieptes van die aarde.

U oë het my ongevormde liggaam gesien
en in U boekrol was hulle almal opgeteken –
die dae wat vir my gevorm is,
toe nie een daar was nie.

Hoe kosbaar is U gedagtes, o God –
hoe oorweldigend
is die volle getal daarvan!

As ek dit sou tel,
is dit meer as die sand.

Word ek wakker,
dan is ek steeds by U.

Waaroor gaan hierdie Psalm?

Dit is ʼn diep persoonlike Psalm wat delf in die tema van God se alwetende, alomteenwoordige, en allesinsluitende teenwoordigheid, asook die intieme verhouding tussen God as Skepper en ons as mens.

In ʼn gefragmenteerde wêreld waar alles disconnected van mekaar is, is daar ʼn honger en dors by die moderne mens na belonging — en hoe verder ons onsself van God voel, hoe groter is daardie verlange om gesien, geken, en van geweet te wees.

Hierdie ‘verstaan’ en ‘ken’ van God waarvan Dawid praat, gaan oor ons inherente waarde vir God en menslike identiteit in God.

Dit gaan hier oor ons soek na betekenis in ʼn ontnugterende wêreld. Die alwetendheid van God se alomteenwoordigheid in die ganse heelal en selfs in die doderyk (Sheol) wat gesien kan word as ʼn metafoor dat ons die Goddelike vind in ons hartseer én in ons ekstase, in die nagte van ons verlange maar ook in die helder lig van ons vreugde.

Die skrywer delf in die delikate manier waarmee ons gevorm is, en onderstreep die heiligheid van wat dit beteken om na God se beeld en gelykenis geskape te wees (Gen 1:27), en hoe die Heiligheid van God elke vorm van lewe deurweek.

In ʼn wêreld waar die mens besig is om hierdie planeet te verpletter met ons gierigheid is hierdie Psalm ʼn oproep om ‘the sacredness of all life’ te eer en te respekteer, en met groter ontsag om te gaan met mekaar én die natuur.

Die eerste 18 verse van dié Psalm staan in verwondering oor die kennis, verstaan, en wysheid van God en vra dat ons met groter eerbied en nederigheid in hierdie Groot Misterie sal staan.

Dit gaan nie hier oor wat jou geloof of godsdiens is nie. Al wat dit sê, is dat ons “geweef en gesoom” is in God se teenwoordigheid… en om daarvan bewus te wees, het sekere etiese implikasies oor my as mens se plek in ons kollektiewe identiteit (i.e. seuns en dogters van God in wie Hy 'n welbehae het).

Met ander woorde — om te onthou dat ons volledig geken word deur God veral in ʼn wêreld waar ons dikwels misverstaan en misgekyk word, kan jy in jou hart, gedagtes, en siel weet dat God in elke aspek van jou lewe, elke oomblik van die dag, in en om en by ons is. Moet dit nooit vergeet nie!

Dit gee doel en betekenis aan ons lewe, dit gee vir ons moed en krag wanneer ons twyfel in onsself. Dit word ons bron van inspirasie en die hoeksteen van ons interconnectedness — waar ons na mekaar kyk deur die oë van God.

Mag ek ten slotte pleit dat ons nie hierdie Psalm sal gebruik om ʼn ‘Predestinasie Leer’ (wat glo dat ALLES vooraf deur God bepaal is en dat sekere mense uitverkies is en ander nie) te regverdig soos Calvyn dit gedoen het nie. Dit is hoegenaamd nie wat Dawid met hierdie Psalm wil sê nie, en geen Rabbi verstaan Psalm 139 so nie.

Kom ons vat Sondag elkeen van hierdie 18 verse en dan lees ons dit eerstens deur ʼn Joodse bril (soos Jesus gedoen het), en interpreteer dit deur die lens van die moderne spirituele psigoterapie.

Hier is sóveel wat ons kan leer oor onsself, ons verhouding met ons medemens, en ons ervaring van God se teenwoordigheid.

Dit is my beskeie mening dat wanneer ons hierdie Psalm op ons hart skryf, sal ons anders kyk na onsself, anders dink, anders voel, anders reageer op elke situasie wat oor ons pad kom. Ons sal groter verantwoordelikheid vat vir waar ons is in ons lewe.

Hou op jaag. Hou op weghardloop. Hou op verskonings soek. Hou op uitstel. In alles wat jy is, alles wat jy doen, en in elke verhouding waarin jy staan, ONTHOU:

Be the awareness
of the presence of God!

Hoop om jou in ons Kapel te sien.

Soos altyd.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“We may ignore, but we can nowhere evade, the presence of God. The world is crowded with Him. He walks everywhere incognito.” 
― C.S. Lewis ―

 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights