Potgooi:
“Faith is an oasis in the heart which can never be reached by the caravan of thinking.”
— Khalil Gibran —
Ons gesels hierdie maand oor die VIER pilare van Geestelike Groei, en het begin met die Gawe van Onderskeiding- en Uithouvermoë (gift of discernment and endurance).
Vandag gaan oor die Geskenk van GELOOF en GENADE.
Die Joodse verstaan van ‘geloof’, is heelwat anders as wat ons as Christene dit verstaan. Die Hebreeuse woord ‘emunáh’ wat met ‘geloof’ vertaal word, gaan nie soseer oor ‘sekerheid of oortuiging’ nie maar eerder om getrou en betroubaar te wees, om met vertroue op te tree en standvastig te wees.
Die beeld wat ʼn Rabbi sal gebruik as hy oor ‘emunáh’ praat, is dié van ʼn ouer wat ʼn klein babatjie veilig in sy arms vashou. Dit is nie geloof IN iets nie, maar getrou AAN iets of iemand.
Ons leef in ʼn wêreld wat gebuk gaan onder soveel onsekerheid aan die een kant, maar verbasend baie opinies aan die ander kant; waar almal soek na verandering, maar terselfdertyd verlang na standvastigheid; met meer vertroue in sosiale media en maatskappye as in God.
Daarmee saam het ons bang geword vir alles. Selfs ons ‘geloof’ is gebaseer op vrees. Hoe dikwels sal ek iemand vra, “Hoekom glo jy in God?” en meermale is die antwoord, “Want ek wil nie hel toe gaan nie.”
Wat is emosionele vrees anders as projeksies uit ons verlede en persepsies oor die toekoms, en niks verpletter ons vertroue vinniger as om slawe van ons vrese te wees nie — vrees vir mislukking, vrees vir verwerping, vrees vir teleurstelling, vrees dat ons nie goed-genoeg is nie.
Dit is alles oortuigings wat ons het wat niks met geloof te doen het nie — we have a lot of beliefs, but very little faith!
Waaroor gaan geloof dan —
“The opposite of faith is not doubt, it’s control.” — Richard Rohr
Geloof is nie intellektuele ‘sekerheid’ of ʼn dogmatiese voorwaarde met die oog op ʼn hiernamaals nie, maar ʼn oorgawe van die hart wat ons ‘getrou en betroubaar maak om met vertroue op te tree en standvastig te wees.’ (emunáh)
Geloof beteken om te LET GO aan die behoefte om als te wil beheer met ons ‘zeker-weten’.
Natuurlik twyfel ons soms in onsself. Ons twyfel soms of ons die regte besluite maak, en het bedenkinge of al ons oortuigings nie net ʼn vasklou aan beheer is nie. Geloof is nie die afwesigheid van twyfel nie, maar die besluit om mét God te stap, maak nie saak wat gebeur nie.
Geloof ontken nie die realiteit van vrees nie, maar dit oorkom die krag wat vrees op ons lewe het. Geloof laat ons sien waar ʼn pad ons raakloop huis toe.
Daar kom ʼn diep kwesbaarheid met geloof. Mense wat alles en almal die hele tyd wil beheer, ly aan ontkenning (denial) — ontkenning van hul eie wonde van weerloosheid, wonde om nie jouself te kan wees nie, en wonde van vrees om beheer te verloor.
Fr Richard sê — “You cannot grow in the spiritual life unless you’re willing to move from order, through disorder, to reorder.” — en GELOOF wys ons HOE!
Dit bring ons by die Geskenk van GENADE.
Teen nou ken ons die woord ‘chesed’ wat met ‘genade’ vertaal word, maar in Engels word dit vertaal met: loving-kindness, steadfast and unfailing love.
Keer op keer word ‘loving-kindness’ en ‘compassion’ in dieselfde sin gebruik. Dink aan Psalm 103:4 waar daar staan, “Hy kroon jou met liefdevolle-goedheid en barmhartigheid.” Dié twee, ‘chesed’ en ‘rachamim’ gaan hand aan hand.
Geloof bring ʼn deurleefde ervaring van God se liefdevolle-goedheid, veral in tye van hartseer en onsekerheid, maar ook in tye van dankbaarheid waar ons in die oorvloed van God se standvastige liefde gedy.
Paulus verwoord dit mooi as hy sê — “My genade is vir jou genoeg, want My krag word juis in swakheid volbring.” (2 Korintiërs 12:9)
God se genade is nie ʼn beloning vir hulle wat met geregtigheid, foutloos al die wette nakom nie, maar juis vir ons wat soms struikel, verdwaal, en ons doel mis. Dit soek jou uit selfs waar jy dit nie verdien, of niks het om terug te gee nie.
Die liefdevolle-goedheid van God is soos reën na ʼn lang droogte. Dit is die ‘WELKOM’ waar jy gedink het die deur is gesluit. Dit is ʼn vuur wat jou nie skroei of brand nie maar verwarm, en verlig, en veilig hou. Dit is waar ons wonde altare van geloof word.
Ons skaamte sê, “Ek is gebroke.” Genade sê, “Jy is MY beminde.”
Ons verleentheid sê, “Ek is 'n mislukking.” Genade sê, “Jy is die oorvloed en vervulling van MY liefde.”
Ons skuldgevoel sê, “Ek is sondig.” Compassion sê, “Uit sy volheid het ons almal genade op genade ontvang.” (1 Johannes 1:16)
Geloof hou die Liefde van God veilig in ons arms vas, terwyl genade ʼn berusting is in die liefdevolle-goedheid van God.
Geloof worstel met oortuigings en twyfel. Genade daag ons uit om meer empatie, meer deernis, meer erbarming te hê.
Geloof maak die angstigheid in ons stil en gee ons moed. Genade bring ʼn vrede en vreugde wat niemand van ons kan wegvat nie.
Geloof ontsluit ons potensiaal en gee ons lewe betekenis. Genade bring grasie om BEAUTY oral om ons te sien.
Geloof is die siel se kompas. Genade is die hartklop van God in die polsslag van die ganse Skepping.
Ons gaan Sondag met hierdie twee geskenke in elke hand staan en dan vertel ek jou hoe jy dit vat na jou gesin, jou werk, jou huwelik, jou vriendekring, en in die binnekamer van jou geestelike groei.
Maak geloof die kruik waarin God sy genade kan stort.
Met liefde, soos altyd.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.