Vier Pilare van Geestelike Groei

Potgooi:

“Help my om verstandig te beplan, en om risiko's moedig te neem. Laat ek geduldig wees in lyding, beskeie in voorspoed. Help my om aandagtig te bid, en om matig te wees met voedsel en drank, getrou in my werk, standvastig in my goeie besluite.”
— Sheila Cussons —

VEERTIG jaar gelede sê Marlon Brando in ʼn onderhoud, “We live in a world overwhelmed by noise...” Ek wonder wat hy vandag sou gesê het oor hoe ons verdrink in ʼn vloed van informasie, die geraas van flitsende nuusopskrifte, die geroesemoes van opinies, en die kakofonie van gewoon te veel keuses met alles?

Elke dag word ons in honderde rigtings getrek, gevra om besluite te neem, lojaliteite te kies, en prioriteite te bepaal. In hierdie warrelwind van ons bestaan, het twee geestelike waardes meer as ooit vantevore noodsaaklik geword: Onderskeidingsvermoë en Uithouvermoë.

Die gawe om te kan onderskei (the gift of discernment) is die vermoë om dieper as die oppervlak te kan sien. Dit gee ʼn perspektief op die groter prentjie en bring ons op ʼn plek waar ons ons lewensdoel vind en met meer vervulling leef.

Stel jou voor jy word gediagnoseer met ʼn ernstige siekte en besef dan hoeveel tyd gemors is vroeër op onbenullighede. Wat regtig belangrik is, kom na vore en skielik is wat emosionele en spirituele waarde toevoeg belangriker as materiële genoegens of alles wat jy dink jy NIE het nie. Meteens is daar groter waardering hoe kosbaar LEWE is.

Dink jou in hoe dit voel om jou werk te verloor en die onsekerheid van hoe jy jou finansiële verpligtinge gaan nakom. Wat voel soos die einde is bes moontlik die begin van iets nuuts waar jy ʼn keuse maak om iets te vind waar jy jóú talente, jóú passie, en jóú roeping kan uitleef.

Gestel jy gaan deur ʼn pynlike opbreek in jou verhouding of huwelik en jy voel kwaad, bitter, ingedoen, deurweek van skuldgevoelens soos, “hoekom gebeur dit met my; wat het ek verkeerd gedoen; hoekom is ek nie goed-genoeg nie,” en vrese wat vra, “gaan dieselfde patroon homself herhaal met die volgende persoon; gaan ek alleen opeindig in my lewe?”

Die vermoë om te kan onderskei bring ʼn perspektief dat die einde van een fase in my lewe, is meer as dikwels ʼn begin van ʼn proses om innerlike ‘wonde’ te genees, om gesonder grense te stel, en vernuwing te ervaar.

Soms vat dit ʼn gebroke hart om werklik die hartklop van die LEWE te hoor.

Dit is nou maar eenmaal so dat elke ervaring wat ʼn nederigheid bring, waar jy in ʼn situasie is waar compassion gevra of gegee word, of ʼn besef hoe weerloos lewe is, is ʼn geleentheid vir die SIEL om te onthou wie h/sy werklik is.

Dit vra om met die oë van die hart te kyk en na die stem van die siel te luister.

Ons kan nie op alles emosioneel reageer nie. Trouens, die gawe van onderskeid maak ʼn pouse voor ons reageer, dit bring ʼn nugterheid om jouself te vra om eers te verstaan wat dit is wat jy voel en hoekom jy so voel, voor jy reageer met die EGO wat net weet van vrees en frustrasie, verwyte en woede.

Emosionele intelligensie en die gawe van 'n spirituele onderskeidingsvermoë gaan hand aan hand wat ons help om die tragedie van ʼn onvervulde lewe te vermy.

Hoor wat skryf Carl Gustav Jung:

“The world is full of people suffering from the effects of their own unlived life. They become bitter, critical, or rigid, not because the world is cruel to them, but because they have betrayed their own inner possibilities. The artist who never makes art becomes cynical about those who do. The lover who never risks loving mocks romance. The thinker who never commits to a philosophy sneers at belief itself. And yet, all of them suffer, because deep down they know: the life they mock is the life they were meant to live.”

Om nie langer vasgevang te wees in net emosionele reaksies nie, vra uithouvermoë (endurance) en deursettingsvermoë. Dit vra ʼn aanpasbaarheid en volharding. So kan ons sit met terugslae sonder om hoop te verloor. So maak ons ʼn plan om op te staan en vorentoe te beweeg sonder om moed op te gee.

Soos elke ander spirituele lewensles begin dit om eerlik te wees met jouself. As jy nie getrou kan wees aan jouself nie gaan mense sukkel om jou te vertrou.

Wanneer jy nie konsekwent optree volgens jou eie waardes, oortuigings en gevoelens nie — 'n masker dra, of probeer wees wie jy dink ander wil hê jy moet wees — dan voel mense dit aan, selfs al kan hulle dit nie altyd verwoord nie.

My spiritualiteit (verhouding met God) het my geleer om te onderskei tussen wat is sinvol en wat is onsin. Om dinge te sien vir wat dit werklik is en nie altyd hoe ek wil hê dit moet wees nie. Om God se hand in my lewe te herken en erken.

Hier speel GEBED ʼn kardinale rol want anders sien mens net met jou oë, en hoor net met jou ore. Om te luister na die Stem van God (i.e. Heilige Gees) stel ons in staat om ons onderskeidingsvermoë te gebruik om uithouvermoë te kweek — en die liefdevolle-goedheid van God sal ons wys HOE.

In ʼn wêreld “overwhelmed by noise...” leer die gawe om te kan onderskei ons om mooi te luister, met wysheid te reageer, en te kies vir WAARHEID.

Hierdie pad is soms ʼn moeilike pad want die lewe is nie so simplisties om alles net te wil meet aan ‘REG teenoor VERKEERD’ nie. Dit is ʼn dieper reis na HOE om met moed te kies vir wat ewigdurend is en om ons nader te trek aan wie ons bedoel was om te wees.

Dit is ʼn daaglikse deurleefde vertroue dat die saad wat ons in geloof, hoop, en liefde plant op sy tyd vrug sal dra — selfs al kan ons dit nie vandag sien nie.

“Faith strengthens endurance.
Hope increases it.
Love completes it.”
— Philip Yancey —

Ons gaan Sondag na ʼn handvol maniere kyk hoe ons ons besluitnemingsproses kan belyn met geestelike waardes wat uithouvermoë, geduld, verdraagsaamheid, en standvastigheid koester, kweek, en kultiveer.

Ek sien sommer al klaar uit na ons ontdekkingsreis in Mei.

Met liefde, soos altyd.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Discernment means listening to the voice of the Spirit, even in the midst of noise and confusion.”
― Henri Nouwen 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights