Ek staar na ʼn foto van ʼn jong seun wat gehurk sit met ʼn sny waatlemoen in sy hande, oë op ʼn skrefie en reg vir een groot hap. Ek kyk na hom met sy kortbroek en pee-pot ‘square cut’ weg van die ore geknipte hare, en ek onthou ... daardie kind is ek.
Waarom is hierdie seun, ek? Ek het geen herinnering van die rotstuin, die hande om die skil, die kuifie, en of hy die waatlemoen klaar geëet het nie. Wat wel waar is — deur ʼn hele verloop van omstandighede, ʼn geskiedenis van gebeure, kan ek my lyf verplaas in syne. Sy lyf ís myne, en miskien is ons die sameloop van ʼn string liggaamlike gebeure maar my geheue het geen strikkie van toe, en my gedagtes ken net die lyf soos hy nou is.
Tog, met ʼn klein bietjie verbeelding en die siel se onthou, voel dieselfde vingers op ʼn sleutelbord om die ryp-rooi waatlemoen. Elke atoom van elke sel van daardie jong seun se lyf het plek gemaak vir ʼn komposisie van nuwe selle in ʼn nuwe lyf wat kyk na ʼn foto en weet, daardie kind is ek.
Tussen toe en nou lê ʼn leeftyd. Die seun in die foto, die kind-wees in sy oë met die ontvanklikheid van ʼn tjokkertjie se wêreld êrens op ʼn sendingstasie, ʼn duisend of twee kilometer van waar ek nou sit en skryf, is onlosmaaklik deel van die man wat probeer woorde vind in ʼn kiekie. Sy kinderlike avonture, sy dapper kruistogte, sy drome, aspirasies, sy onverskrokke geloof in ʼn wêreld agter die sterre wat net die volmaan van weet — lê in sý DNA, mý DNA. Elke druppel stroop-soet van ʼn waatlemoen het sy pitte gelos in die bedding van my menswees en al voel dit ietwat skisofrenies om myself in ʼn foto te vind, weet ek in murg en bloed ... daardie kind is ek.
Waarom die kronieke van ʼn seuntjie wat man geword het en die man wat homself in ʼn seun (h)erken? Miskien moet jy ʼn foto van jouself gaan soek van toe jy klein was en vir ʼn oomblik, of dalk langer, mooi na die foto sit en kyk en dieselfde vrae vir jouself vra as wat ek doen en probeer onthou hoe het jy van toe na nou, van daar na hier gegroei met ʼn leeftyd se ervaringe wat jou geweef het tot wat en wie jy is vandag?
Ek dink dit was Churchill wat gesê het, “dis nie hoe sterk of hoe slim jy is wat jou potensiaal ontsluit nie maar of jy kan aanhou en uithou en volhou!”
Daarom sal ek vir daardie seun in die foto wou sê, dankie dat jy aangehou en uitgehou en volgehou het. Maar, en dis ʼn voldonge feit, dié man in daardie seun en die seun in hierdie man sou niks gewees het sonder die skoei van sy ouers en gesin, die snoei van onderwysers en leermeesters, en die bemoeienis van vriende en reisgenote nie. Iemand het daardie foto geneem (tien teen een pa of ma), iemand het daai waatlemoen gesny en gegee om te eet (tien teen een pa of ma), iemand het vir daardie hemp en broek betaal (tien teen een pa of ma) en iemand was daar elke tree van daardie seun se lewe tot waar hy nou sit in nabetragting en met heimwee ... (en dit was verseker sy pa en ma)
Ons sluit eerskomende Sondag ons maand se tema af wat gaan oor — VAN STEENKOOL NA DIAMANTE -- en gaan gesels oor POTENSIAAL ... want ongeag ons ouderdom, ongeag waar ons is in ons lewe, maak nie saak hoeveel suksesse en hoeveel teleurstellings jy al gehad het nie, daar lê in elkeen van ons die Goddelike potensiaal wat geboorte gee aan ʼn lewe wat vlieg met die twee vlerke van mindfulness & meaningfulness. Miskien het ons net weer ʼn herinnering nodig hoe God na ons kyk en nie ons gebreke en littekens sien nie, nie boekhou van die mislukkings en foute nie, en beslis nie die een is wat dit so moeilik as moontlik maak net om te sien of ons getrou en gehoorsaam is nie.
Graffiti teen ʼn muur sê: We were all humans until race disconnected us, religion separated us, politics divided us, and wealth classified us.
In my verstaan en ervaring van God is dit my eerlike oortuiging dat in elke ondervinding en situasie waardeur ons gaan, word ons geslyp om meer en meer diamant te wees ... word ons gelouter en gesuiwer om goud te wees ... word ons gesnoei om tuin te wees. God kyk na die rivierklip en sien ʼn edelgesteente, God kyk na die klei en sien die engele, God kyk na die lote en sien die vrugte, God kyk na ons trane en sien die sterre, God kyk na ons sterwe en sien ʼn geboorte.
Die beperkinge en begrensing wat ons met heinings om ons span, het niks met die werklikheid (waarheid) van God te doen nie. Oor en oor, in ʼn duisend stemme op ʼn duisend plekke hoor ek God se stem: IMPOSSIBLE IS IMPOSSIBLE — decide what and who you want to be and become the best version of yourself! I will be with you every step of the way!
Waag dit om buite die mure van limitasies te dink. Waar ander die deure en vensters blok, breek die dak af om jou plek te vind aan die voete van die Een wat ons ken as ons Lewe, Lig, en Liefde. Wanneer ons vrese en twyfel ons mank agter los, vra ʼn vriend of roep ʼn vertroueling om jou te bring na die bad van Betesda. Potensiaal beteken niks as jy nie iets daarmee doen nie!
Ons Credo van Potensiaal:
“Aan Hom wat deur sy krag in ons werk, wat magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die gemeente, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.” (Efesiërs 3:20)
Soli Deo Gloria!
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Laai hierdie Sondag se liturgie af: 27_Januarie_2019
.
GEDAGTE VIR DIE WEEK
“Once the soul awakens,
the search begins and you can never go back.
From then on, you are inflamed with a special longing
that will never again let you linger
in the lowlands of complacency and partial fulfilment.”
― John O'Donohue ―
.
A COURSE IN MIRACLES
STAD: 28 Januarie 2019 @ 19h30
KOLPING: 24 Januarie 2019 @ 19h30
Ons lees hierdie jaar Rob Bell se boek:
"What We Talk About When We Talk About God"
[bring steeds jou ACIM boek saam]