Spirituele Dissipline en Toewyding I

“Let your faith be bigger than your fear, and let your dedication be greater than your excuses.”
— Rob Bell —

Op skool het ek ʼn onderwyser gehad wat altyd gesê het, “Jou verskonings wys waar jou prioriteite lê.” — uiteraard van die saak het ʼn hoërskool laaitie nie ʼn idee gehad waarvan die man praat nie.

Vandag verstaan ek die verskil tussen REDES en VERSKONINGS en dat dit belangrik is om te kan onderskei tussen die twee as dit kom by emosionele en geestelike groei.

REDES is geldige verduidelikings wat konteks of insig gee waarom iets gebeur het. Dit is gebaseer op omstandighede wat feitlik buite ons beheer lê.

Byvoorbeeld: iemand mis 'n afspraak want hy was in 'n ongeluk betrokke wat tot gevolg gehad het dat dit fisies onmoontlik was om op tyd te wees.

VERSKONINGS is ʼn rasionalisering van ʼn situasie om verantwoordelikheid te vermy. Die geringste ongemak wat verduur is, klink of daar nooit enige keuse was nie.

Byvoorbeeld: as iemand dieselfde afspraak mis maar die verkeer blameer as die pad oop was, of verdwaal het as hy Google Maps het, sou dit miskien meer eerlik wees om net te sê, “Ek was nie lus om te kom nie.”

Verskonings word dikwels gebruik om jouself te probeer beskerm. Om skuldgevoelens te vermy, kleur ons ʼn verskoning in dat dit soos ʼn rede klink.

Dit is ook so dat baie mense sukkel met enige vorm van self-refleksie want dit vra ʼn mate van introspeksie en eerlikheid wat ongemaklik is. Dit is moeilik om verantwoordelikheid te vat as jy skuldig voel oor iets.

Mense het gewoonlik meer empatie met ʼn geldige rede as met verskonings en daarom sal ons ʼn verskoning laat klink soos ʼn rede net om kritiek te vermy.

Later word hierdie “dress up” van verskonings ʼn lewensgewoonte.

Die beste voorbeeld wat ons gereeld hoor, is “Ek het nie tyd nie” — en gewoonlik is my antwoord dan: 'n dag het 24 uur waarvan jy 8 ure slaap en 8 ure werk… wat op aarde maak jy met die ander 8 ure per dag? Jy kan net soveel ure aftrek vir eet en verkeer dan bly daar steeds 24 uur per week oor waarvoor ons geen rekenskap van kan gee nie behalwe, “Ek was besig om te ek-het-nie-tyd-nie.”

[Dis 'n hele dag elke week wat êrens heen is sonder dat ons weet wat of hoe.]

Om te kan onderskei tussen redes en verskonings leer ons om verantwoordelikheid te vat vir ons aksies en reaksies. Dit versterk vertroue, vermeerder integriteit, en verdiep geloofwaardigheid.

Daar is twee maande oor van dié jaar. As daar nog ʼn uitstaande Nuwejaarsvoorneme is, gaan jy jou litte moet roer.

Dit is ook amptelik Somer en met dit kan ons gedy in die warmte en lig wat met dié seisoen gepaardgaan.

Binnekort breek daar ʼn vakansie aan en kan ons ontspan en ons batterye herlaai. Ons sien uit na voete uitskop en tyd met vriende en familie spandeer. Ons wil ontspan en nie oorlaai voel met al ons verwagtinge en verpligtinge nie.

Miskien sal ons terugkyk na die afgelope jaar en dink, “Ek het só baie gedoen!” — maar wat het jy bereik? Dalk sal jy sê, “O, ek het baie bereik!” — maar wat beteken dit? Hoe het dit waarde toegevoeg tot jou lewe, en nog meer belangrik, hoe het dit waarde toegevoeg tot ander se lewe… en wat van daardie 52 dae elke jaar (1 per week) waarvoor ons geen rekenskap kan gee nie?

Só bedrywig met ons móét-doene dat 5 minute se ‘stiltetyd’ te veel gevra is.

STILTETYD — ʼn tyd om weer te luister na die Stem van die Siel; stil gaan sit om met dankbaarheid te dink oor wat ons HET, want die meeste van ons tyd word spandeer om te jaag wat ons wil hê.

STILTETYD — om ons gedagtes en intensies te fokus op wat regtig belangrik is en wat ons lewe sin en betekenis gee.

STILTETYD — om onsself te ‘RESET’ sodat ons kan DINK waarmee ons besig is, nie so gejaag en opgejaag met als nie, want as ons dit nie doen nie gaan ons kort voor lank onsself verloor en dan is alles van balans af.

STILTETYD — miskien was dit jou opregte voorneme in die begin van die jaar om meer tyd te maak vir jou konneksie met God maar voor jy jouself kon kry, het jy weer gedryf na “te besig” en gedobber na “te moeg” en dan wonder ons hoekom al ons ander verhoudings so wobble as ons nie eers met dissipline tyd kan maak vir die belangrikste verhouding in ons lewe nie.

STILTETYD — want géén verhouding in jou lewe (familie, gesin, vriende, werk, of met jouself) gaan ooit vervulling bring as ons nie eers toewyding het in ons verhouding met God nie — dis nou te sê as jy jouself 'n Christen noem.

Hierdie tyd van die jaar is daar by almal ʼn versugting, “GIVE ME A BREAK!” Die vraag is of dit van ons ‘TE besig met TE moeg’ is omdat Somer die seisoen van ‘reconnect’ is met dit wat die siel voed?

DÍT is waaroor Sondag se gesprek gaan: hoe om daardie verlore 24 uur per week te herwin ter wille van jouself, en elke verhouding waarin jy staan, sodat die betekenis van Kersfees geboorte sal gee aan dit wat regtig waarde het.

Met liefde, soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“To be spiritually disciplined is to set aside time and distractions to nurture a relationship with God.”  
― Thomas Merton ―

 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights