Potgooi:
“A loving person lives in a loving world. A hostile person lives in a hostile world: everyone you meet is your mirror.”
— Ken Keyes Jr. —
As jy vriendelikheid, deernis, en dankbaarheid reflekteer, sal jy liefde oral om jou sien; maar as jy woede, bitterheid, of wantroue in jou dra, is jy kwaad vir als en almal kwaai met jou. As jy liefdevol is, sal jy ʼn wêreld sien van waardering en sorg, maar as jy leef met spyt en verwyt, doof jy die lig van almal om jou.
Byvoorbeeld: By die werk vergeet 'n kollega om jou epos te antwoord. Jy lei af dat hy dalk besig is en stuur 'n vriendelike herinnering. Hy bedank jou en reageer onmiddellik — ÓF, jy kan dink hy ignoreer jou doelbewus en hap kortaf na hom. Hy raak geïrriteerd en nou is daar spanning.
Byvoorbeeld: In jou huwelik sien jy jou vrou vir wie sy is, in haar geheel — foute en al — en is lief vir haar net soos sy is, omdat sy IS soos sy is. Jou onvoorwaardelike aanvaarding laat haar veilig voel. Maar as jy fokus op haar tekortkominge en net kan kritiseer dan onttrek sy en raak sy stil omdat sy nie haarself kan wees nie.
Jou uiterlike wêreld is ʼn refleksie van jou innerlike wêreld, of soos Spreuke 27:19 herinner:
“Soos water die gesig reflekteer, so weerspieël die hart van die mens, (die lewe van) die mens.”
Ons het ons reeks oor ‘Spieëls van die Siel’ begin om te gesels oor die spieëls wat kinders vir ons ophou sodat ons weer sal onthou wat dit beteken om kind te wees. Laas week het ons gepraat oor die spieëls wat ons ophou vir ons kinders, en daarmee saam vir almal om ons. Vandag gaan ons kyk na die spieël wat ons ophou vir onsself.
Ons is omring deur fisiese spieëls en mis soms die onsigbare spieëls wat ons vind in elke gesprek, elke verhouding, en elke ervaring wat ons het. Hierdie spieëls is nie gemaak van glas nie maar van wat ons voel, dink, glo, en ervaar.
Elke persoon wat ons ontmoet weerspieël iets van onsself terug na ons, net soos elke gedagte wat ons het die wêreld waarin ons leef inkleur.
Ons is meestal onbewus hiervan en dink maar so in die stilligheid, ‘die wêreld is wat dit is en daar is niks wat ons daaromtrent kan doen nie’ — die realiteit is egter dat hierdie wêreld word gesien deur die lens van ons eie gedagtes en harte. Daardie lense — of spieëls — kan verdof en misvorm wees deur vrees, hoogmoed, en wrewel, óf dit kan helder en duidelik ons liefde, nederigheid, en medemenslikheid reflekteer.
“Each relationship you have with another person reflects the relationship you have with yourself.” — Deepak Chopra
Kom ons kyk na die kringloop van Persepsies na Projeksies na Refleksie —
PERSEPSIES word gevorm waar ons ons gedagtes en woorde filter deur ervarings uit ons verlede, oortuigings waarmee ons grootgeword het, en elke emosionele seisoen wat ons gebring het tot waar ons vandag is.
My vooropgestelde idees oor iemand anders, is ʼn spieël voor my eie wonde van teleurstelling en mislukking. Ek kan ʼn duisend redes en verskonings gee hiervoor, maar op die ou einde van die dag is ʼn persepsie net ʼn opinie.
PROJEKSIES sluip in, sonder dat ons eers daarvan bewus is, wanneer ons ons emosies, vrese, en gewoontes wat ons nie kan (of wil) erken aan onsself nie, onbewustelik projekteer op ander.
Byvoorbeeld: Iemand wat ongelukkig is in hulself of hul eie huwelik, is meestal antagonisties teenoor enige iemand wat gelukkig is in hul verhouding; 'n persoon met 'n lae selfbeeld dink almal is daarop uit om hom/haar te veroordeel.
Die ego floreer in die gefragmenteerde wêreld van persepsies en projeksies. Ons dra swaar aan ons skuldgevoelens en vrese. Oral ervaar ons ʼn disconnect met onsself, met ander, en ook met God.
In ons geestelike lewe, is persepsies en projeksies die dryfsand wat ons blind maak vir ons eie foute en tekortkominge. Jesus verwys daarna as hy sê, “Waarom sien jy die splinter in jou broer se oog, maar die balk in jou eie oog sien jy nie raak nie?" (Matteus 7:3)
Ons is almal skuldig hieraan. In plaas van om dit wat pynlik en ongemaklik is te herken, projekteer ons ons persepsies op ander. Ons dink: my emosies is vir húlle rekening, want ék is nie die een wat in ʼn spieël moet kyk nie.
Byvoorbeeld: As jy voel iemand druk sy vinger op jou ‘sneller’ vra jouself, “Wat van myself sien ek nie in die spieël van hierdie konfrontasie nie?” As jy weer voel jy het of kry nie genoeg nie, vra jouself, “Wat is ék nie bereid om te gee nie?”
REFLEKSIE is wanneer ons stop, ʼn oomblik stil raak en vir onsself vra, “Is wat ek dink of sê die waarheid of is dit my eie persepsies wat ek projekteer op ander?” Só vat ons verantwoordelikheid vir ons aksies en reaksies, ons gedagtes en emosies en breek ons die onbewustelike siklus met ʼn bewustelike keuse.
As ons verby ons verwronge persepsies en verdraaide projeksies kyk, sal ons weer onthou: elke mens is na die beeld van God geskape (Genesis 1:27). Hierdie werklikheid behoort jou vir ʼn oomblik tot nadenke en self-refleksie te bring.
Daarom behoort die laaste woord vandag aan Paulo Coelho wat hierdie ewige waarheid in een paragraaf raakvat:
“To the world, you and I are the face of God. The warmth in our smile, the grace in our tone, the kindness in our touch — these are the only sermons many will ever hear. When I wound you, I wound the very image in which I am made. When I bless you, I send ripples of God’s love back into my own life.”
Onthou dit, met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.