Potgooi:
Ons gesels hierdie maand oor: Spieëls van die Siel — en het laas week begin met hoe KINDERS vir ons ʼn spieël is wat ons herinner aan wie ons is in ons essensie (Ware Self) — ons identiteit en karakter as beeld en beminde van God.
“From the moment we enter the world, we are surrounded by mirrors. Not the physical ones made of glass, but the living, breathing mirrors of human connection. We look into the eyes of parents, friends, partners, and strangers, constantly reflecting back parts of ourselves we may not yet understand. Just as others mirror us, we too, become mirrors for those around us. This reciprocal dance of reflection shapes who we are, how we relate, and how we come to understand our place in the greater tapestry of life.” — Virginia Satir
Om ten volle teenwoordig te wees vir ons kinders, en ander, is die eerste tree om ʼn refleksie van deernis, en kindness te wees in die manier waarop ons hulle sien, na hul luister, en ʼn veilige spasie skep waar hulle hulself kan wees.
Virginia Satir gaan dan verder om te sê: “Elke woord, gesigsuitdrukking, gebaar, of aksie van ons kant af word 'n boodskap aan ander oor wat hul waarde is as méns.”
Dit vra dat ons ʼn spieël sal wees sonder om ʼn verwronge beeld te reflekteer. Dit beteken dat ons ons eie projeksies, oordeel, en agendas eenkant sal sit, sodat ons kinders, en ander, hulself sal sien as ʼn refleksie van God.
“When we embody kindness, integrity, authenticity, and compassion, we naturally reflect these values to others. We become living mirrors of possibility.” — Charles R. Swindoll
Die vraag is: is daardie weerkaatsing 'n refleksie van die beste weergawe van onsself of 'n projeksie van ons eie wonde, tekortkominge, vrese, en persepsies?
In 1954 skryf Dorothy Law Nolte (PhD) ʼn gedig getiteld: ‘Children Learn What They Live,’ wat ʼn emosionele en spirituele landkaart is om te sê: wat ons by ons kinders inboesem, sal die fondament wees waarop hulle hul toekoms bou.
Hier is ʼn vertaling van haar gedig:
“As kinders leef met kritiek, leer hulle om te veroordeel.
As kinders leef met vyandigheid, leer hulle om te baklei.
As kinders leef met vrees, leer hulle om vir als bang te wees.
As kinders leef met ‘pity’, leer hulle om hulself te bejammer.
As kinders leef met bespotting, leer hul om skaam (shy) te voel.
As kinders leef met jaloesie, leer hulle om afgunstig te wees.
As kinders leef met skaamte (shame), leer hulle om heeltyd skuldig te voel.
As kinders leef met aanmoediging, leer hulle selfvertroue.
As kinders leef met verdraagsaamheid, leer hulle geduld.
As kinders leef met om gereeld geprys te word, leer hulle waardering.
As kinders leef met aanvaarding, leer hulle om van hulself te hou.
As kinders leef met erkenning, leer hulle dat dit goed is om doelwitte te hê.
As kinders leef met mededeelsaamheid, leer hulle om vrygewig te wees.
As kinders leef met eerlikheid, leer hulle om in waarheid te leef.
As kinders leef met geregtigheid, leer hulle om regverdig te wees.
As kinders leef met ‘kindness’ en konsiderasie, leer hulle respek.
As kinders leef met geborgenheid, leer hulle om vertroue in hulself en in ander te hê.
As kinders leef met vriendelikheid, leer hulle dat die wêreld 'n mooi plek is om in te leef.”
Min mense het die insig om dit enersyds te glo en andersyds te verstaan dat die grootste gedeelte van ons gedrag, is aangeleer. Dis ʼn direkte weerspieëling van ons ouerhuise, skole, kerke, sosiale kringe, en werksmilieu.
Ons word gebore met liefde. Emosionele vrees is aangeleer. Ons word gebore met empatie, sorg, en interafhanklikheid. Rassisme, seksisme, en fundamentalisme word aangeleer.
As jy grootword in ʼn huis waar daar kroniese veroordeling en beskuldiging is, leer ʼn mens nooit om verantwoordelikheid te vat vir jou aksies en reaksie nie.
Maar as jy grootword in ʼn huis waar ons mekaar met liefde dra en verdra, steun en ondersteun, en met entoesiasme bemoedig en aanmoedig, dan word dit die spieël (blue-print) hoe ons kinders eendag hul verhoudings sal benader.
As ons grootword deur aanhoudend te hoor wat ons NIE reg doen nie, is ons selfbeeld later in flarde met geen oordeelsvermoë wat reg of verkeerd is nie. Wanneer ons ‘respek’ en ‘vrees’ nie meer kan onderskei nie, want ons dink ons het respek vir iemand maar eintlik is ons bang vir hom/haar, dan word ons groot met vooroordeel en onverdraagsaamheid.
Maar as ons grootword met mense wat inspireer en motiveer, rolmodelle wat jou op die skouer kan klop met “Welgedaan!” dan besef ons ons waarde, en behandel ons mekaar met menswaardigheid (dignity).
“Our job is not to toughen our children up to face a cruel and heartless world. Our job is to raise children who will make the world less cruel and heartless.” — L.R. Knost
Maak jóú spieël, jóú refleksie, daardie stil stem wat jou kind aan die binnekant dra om vir hom of haar ʼn kompas te wees na hul Ware Noord.
Want, soos Albert Einstein gesê het, “om 'n voorbeeld te stel is nie die belangrikste manier om ander te beïnvloed nie, dit is die ENIGSTE manier.”
Met liefde, soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.