Potgooi:
“The mirror triggers two reactions: vanity or vulnerability. Choose the latter—it leads to growth.”
— Brené Brown —
Ons almal ken dié reël uit Sneeuwitjie, “Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die mooiste in die land?” — wat gaan oor die jaloesie van die koningin, maar eintlik oor ons almal se geneigdheid om onsself te vergelyk met ander.
Hierdie vraag eggo deur ons ganse lewe, nie om ons ego blink te vryf nie, maar om herken en erken te word. Ons wil van geweet wees, gesien word, en geliefd voel.
Ons word letterlik en figuurlik omring deur spieëls — daar is een in die kamer en een by die voordeur, een in die badkamer en ʼn truspieëltjie in die kar. Soms lyk ons beter as ander dae en soms kyk ons maar sien nie eers onsself nie.
Maar wat van as die spieël nie gemaak is van glas nie maar die oë van God? Hoe sal ons reageer as daardie oë ʼn refleksie van die siel is?
Kom ons gesels hierdie maand oor: ‘Spieëls van die Siel’ — wat ons uitnooi na 'n dieper, meer spirituele refleksie van die wêreld agter ons oë — ons waardes en ons wonde, ons geloof en ons liefde, ons potensiaal, en die waarheid van onsself.
Spieëls om jou Self te sien
‘Self-awareness’ is die eerste en eerlikste spieël van die siel. Dis nie self-kritiek of verwaandheid nie, maar ʼn sagte en moedige refleksie wat vra: aanvaar ek myself regtig; wat gee ek voor; wat is my vrese wat die spieël toe wasem?
Die spieël van ‘bewus wees wat ons voel, hoekom ons dit voel, en hoe dit ons aksies en reaksies bepaal,’ bring helderheid. As ons lank genoeg, stil genoeg staan om na binne te kyk, sal ons begin om te sien hoe ons gewoontes, emosies, en oortuigings ons beeld van onsself, en van ander, bepaal.
Spieëls van ons Verhoudings
Ons sien onsself in ons vriende en familie, ons kinders en ons beminde wat stukkies van onsself terug reflekteer. Hulle wys ons sterk punte, maar ook ons onopgeloste seer, ons triggers, ons vermoë om lief te hê en te kan vergewe.
Die waarheid van elke frustrasie of irritasie is dat dit meer van myself sê as van die ander persoon. Die vinger wat wys na die foute van ander vergeet om te sien hoe drie vingers terug wys na ons eie wonde van persepsies en projeksies.
As ons eerlik onsself in die oë kyk, kan ons miskien vra: wie is my grootste ‘teachers’ wat my uitdaag om eerlik met myself te wees; en hoe help hulle my om te groei as mens?
In ons huwelik, ouer- en vriendskappe, en by die werk, word ons siel gevorm en word die ego gekonfronteer met ʼn keuse of ons liefde sal kies bo vrees.
Spieëls van Hartseer en Verlange
Emosionele pyn is ʼn pynlike spieël, en reflekteer gedeeltes van ons lewe wat ons liefs wil ontsnap, maar as ons mooi kyk na die hartseer in ons oë en die plooie van vermoeidheid sal ons besef dit wys ons wat regtig belangrik is en so staan ons nader aan onsself.
Ons groei nie net ten spyte van ons hartseer en terugslae nie, maar juis as gevolg daarvan. Daardie “krake waar die lig in kom,” soos Rumi daarna verwys.
As die spieël van die siel opgehou word voor ons verdriet dan vra ons nie, “Waarom gebeur dit met mý?” nie maar eerder, “Hoe gaan ek my waarde en trots behou, as méns?”
Spieëls van God se Beeld
Nét in stilte hoor ons die stem van die siel. Wanneer die lawaai van die wêreld stil word, en ons alleen is met ons gedagtes en gevoelens, ontmoet ons onsself soos ons werklik is — sonder ons maskers en rolle wat ons speel.
Ek vermoed dit is hoekom so baie mense bang is vir stilte, want daar kan ons nie wegkruip agter ons besig-wees nie, minwetende dat in hierdie refleksie onthou ons weer dat ons geskape is as die Imago Dei (beeld van God) en as ons dít onthou, kan ons onsself weer belyn met dit wat mooi, en goed, en lief is.
Spieëls verander ons nie, maar transformeer ons reaksie teenoor dit wat ons sien. Ons kyk nie meer om al die foute en tekortkominge te sien nie. Ons kyk sodat ons onthou hoe God ons sien.
Is jou lewe 'n refleksie van die feit dat jy Beeld van God is, en wat se verskil maak dit in jou lewe om te weet jy is 'n geliefde seun en dogter in wie God 'n welbehae het?
Nêrens word hierdie spieëls duideliker sigbaar as wanneer ek in die teenwoordigheid van kinders is nie, en dit is waaroor ons Sondag gaan gesels.
“Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” — Markus 10:14-15
— Let op kinders se vermoë om te vergewe sonder om boek te hou van die kwaad. Hul kry seer, huil dit uit, en beweeg aan met vergiffenis wat van nature kom.
— Kyk hoe kinders volledig leef in die hier en die nou. Daar is geen obsessie oor gister of vrees oor môre nie. Onthou dit as jy weer in ʼn spieël kyk.
— Sien hoe kinders ʼn aangebore nuuskierigheid het om iets te wil weet of te leer. Hulle is nie bang om te sê as hul nie weet nie, en leef met ʼn natuurlike verwondering oor als wat nuut en anders is, en hoe hul vreugde oorloop vir die geringste gebaar van gee en omgee. Dís waar ek God sien.
— Kyk na kinders se onvoorwaardelike liefde wat nie met voorwaardes of verpligtinge kom nie. Al wat hulle vra, is: wees 'n voorbeeld en wees konsekwent.
Kinders maak dit maklik om in God te glo en dit is by hulle, waar ek myself vind.
Ek stap by 'n spieël verby en ek knipoog. Ek weet, in alles, met alles, deur alles, is ek meer as okay.
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.