Potgooi:
“You won't be happy until you accept that happiness is a choice, and you'll never make that choice until you learn to let go of things that don't really matter.”
— Richard Carlson —Kersfees is die seisoen waar ons asem uitblaas en die jaar laat gaan met blydskap, tevredenheid, en (soms) ʼn sug van verligting. Vir baie van ons is dit ʼn seisoen wat ons met geliefdes spandeer om tafels van genoeglikheid as ons ons glase lig op dit wat was, en dit wat sal wees.
Dit was ʼn jaar waar daar baie LESSE geleer is en elkeen van hierdie lesse het geskenke geword wat ons saam kan vat die Nuwe Jaar in.
So aan die einde van die jaar reflekteer ons ook oor die reis wat ons die laaste jaar gestap het — dit was inderdaad ʼn pad wat belaai was met oomblikke wat ons vasberadenheid en deursettingsvermoë getoets het.
Daar was tye toe onsekerheid ons besluite oorweldig het en ons nie geweet het of ons die regte ding doen nie. Ja, daar was nagte waar die mis van twyfel dit onmoontlik gemaak het om ʼn paar tree voor ons te sien. Daar was BAIE oomblikke wat ons geleer het om op mekaar te steun, om raad te gaan soek, en dan weer te vertrou op die leidende Hand van die Heelal.
Ons het ook ons dae van verwarring beleef toe ons gesoek het na tekens wat sou bevestig of die pad waarop ons is die regte pad is wat ons gaan uitbring waar ons wil (moet) wees.
Met tye het ons totaal verdwaal gevoel en dan het ʼn pad ons weer raakgeloop en op ʼn wonderbaarlike manier het dit ons na ʼn plek gevat wat ons verras het dat dit soveel beter is as waarheen ons eintlik op pad was.
Daar is hoofstukke afgesluit en daar is met ʼn ander kleure op nuwe bladsye geskryf. In ons stil oomblikke het ons God gevra om vir ons te wys HOE om met sekere situasies om te gaan en keer op keer het sy Stem ons op verskillende maniere aangespoor om dieper te delf, om die moed te vind om deur die uitdagings te kom, en dan terug te kyk met ʼn “WHAO!” want ons het sterker, wyser, en meer vasberade anderkant uitgekom.
Een van die grootste lesse van die jaar was gewees dit wat ek gereeld ook vir mense sê wat hier by my aanklop vir hulp en leiding:
Vind uit wat jy wil hê,
en leer hoe om daarvoor te vra.Enersyds is dit ʼn daaglikse behoefte om te weet wat ons intellektueel, emosioneel en spiritueel nodig het. Andersyds is dit vir die meeste mense moeilik om ander te vra om daarmee te help.
“Vind uit wat jy wil hê” — beteken om na binne te kyk en eerlik jou eie begeertes, doelwitte en behoeftes te identifiseer. Dit gaan oor om jou eie gedagtes en gevoelens te verken om regtig te verstaan wat vir jou belangrik is, of dit in verhoudings, loopbaan, persoonlike groei of enige ander aspek van jou lewe is.
“Leer hoe om daarvoor te vra” — beklemtoon die belangrikheid van kommunikasie. Dit gaan oor die vermoë (en bereidwilligheid) om dit doeltreffend met ander te deel sodat hulle verstaan en jou daarin ondersteun.
Kortom, dit gaan oor die waarde van selfontdekking, en om te besef dat ons ander nodig het om dit te verwesenlik.
Vir lank in my lewe het ek geglo ek kan alles self doen. As ek met ander moet deel wat ek nodig het, gaan dit maak dat ek ‘hopeloos’ en ‘onbevoeg’ voel… en wie wil dit hê?
Mens wil ook nie ander bemoei met ons verwagtinge en verlange nie want miskien sal iemand ons weerloosheid sien as swakheid, en dan wegdraai en ons los met die gevoel van teleurstelling en verwerping.
Gaan kyk gerus na die dokumentêr van Arnold Schwarzenegger se lewe op Netflix as hy op die ou einde sê, “You can call me anything you like but never call me a ‘self-made man’ because I have achieved nothing on my own. Everything was with the help of other people.”
Kom ons gesels Sondag oor die lesse wat geleer is oor —
1. Behoeftes en Verwagtinge: om te weet wat ons wil en wat ons moet sonder om ons verwagtinge te projekteer as verpligtinge op ander.
2. Gelukkig en Geseënd: om elke dag die seëninge van God te SIEN wat die hele tyd daar is, en blymoedig oor te loop van vreugde.
3. Keuses en Besluite: dit gaan oor 'n keuse tussen wat is reg en wat is die beste, want die keuses wat ons maak, teken die prentjies van wie ons werklik is.
In al drie bogenoemde lê geskenke wat ons kan saamvat vir ons volgende jaar.
Kom ons hengel Sondag nog lesse van versekering dat elke struikelblok het ʼn hoeksteen geword om op te bou, elke verleentheid was ʼn geleentheid om te groei, elke einde was ʼn kans om nuut te begin.
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.