Ons is in die Heiligste week van ons Christen kalender. Die week in die lewe van Jesus waaraan die Evangelies tussen 30 en 40% van hul inhoud afstaan. Dit is ʼn week van ‘stilte’ — ʼn week van minder praat, minder besig wees met dit waaraan ons ons energie die meeste van die tyd spandeer. ʼn Week van nadenke en nabetragting wat stilstaan by die eksistensiële vrae van die lewe: wie ek is, waar ek vandaan kom, waarheen ek op pad is? En ons doen dit onder die simbool van die kruis ... wat nie ʼn simbool van lyding en sterwe is nie, maar ʼn simbool van lewe en oorwinning.
Oorwinning oor wat? Van triomf oor die basiese instink wat gaan oor sekuriteit, veiligheid, en oorlewing. Dit is ʼn simbool waarin ons God se teenwoordigheid sien in die lewe van ʼn mens. ʼn Teenwoordigheid so allesomvattend en allesinsluitend dat die gebeure van Jesus se wrede dood ʼn simbool word van lewe. Dit is nie ʼn ‘lewe’ wat gekoppel is aan ons biologie nie; nie geboei is aan vorm, definisie, en dimensies nie; maar bevry is om ten volle mens te wees — selfs in ons swakheid en broosheid, selfs in ons weerloosheid en verwondheid. In die woorde van Johannes Evangelie: we see God in Christ in the moment he gives his life away! In other words — the meaning of the cross is, that even if we kill the Beloved of God, God keeps loving us.
Ons gesels hierdie maand oor die laaste 24 uur in Jesus se lewe — en het reeds gesels oor die verraad van Jesus en hoe Judas die simbool word van die Jode wat Jesus sou verraai. Ons het gesels oor die gebed van Jesus in Getsemane — in Matteus en Markus gaan bid Jesus 3x alleen; in Lukas gaan bid hy net 1x terwyl Johannes geen melding maak van Jesus se worsteling en pleidooi om die ‘beker weg te neem’ nie. Laas week het ons gesels oor Jesus se verhoor voor die Joodse Raad. Matteus, Markus, en Lukas sê Jesus was voor die Hoëpriester Kajafas maar Johannes sê Jesus was eers voor Annas (Kajafas se pa).
Ons het gepraat oor Jesus se ontmoeting met Pilatus waarna al vier Evangelies verwys as Pilatus vir Jesus vra, “Is jy die koning van die Jode?” Slegs Matteus maak melding van Pilatus se vrou Procula wat ʼn droom gehad het oor Jesus. Slegs in Lukas word Jesus na Herodes gestuur en dan weer terug na Pilatus. Al vier Evangelies sê dat Pilatus hom onskuldig bevind en steeds oorgee om gekruisig te word. Daar is geen eenstemmigheid onder die Evangelies hoe laat Jesus gekruisig is nie.
Eerskomende Sondag staan ons dan stil by die sterwe van Jesus (wat ons Vrydag herdenk) en die betekenis van die ‘Opstanding’ (wat ons Sondag met brood en wyn gaan vier). Die meeste Christene het nog nooit die laaste 24 uur van Jesus se lewe gelees as vier verskillende interpretasies, deur vier verskillende skrywers, wat geskryf is tussen 40 tot 60 jaar ná Jesus se dood. Ons ken die sewe sterwenswoorde van Jesus, maar dink dit staan almal op ʼn rytjie in elke Evangelie.
Matteus en Markus laat Jesus net 1x iets sê en dit is sy laaste woorde, “My God, my God, waarom het U my verlaat?!” Lukas borduur die verhaal verder en laat Jesus sê, “Vader vergewe hulle want hulle weet nie wat hul doen nie” en “Waarlik vandag sal jy saam met my in die paradys wees” (vir die dief aan die kruis). Lukas sê dat Jesus se laaste woorde is, “Vader, in U hande gee ek my gees oor.” Die skrywer van Johannes Evangelie maak geen melding van enige van hierdie uitroepe wat reeds genoem is nie, maar laat Jesus sê, “Vrou, kyk jou seun. Seun, kyk jou moeder,” en later, “Ek het dors,” met die sterwenswoorde, “Dit is volbring!”
Dit is nodig om die sterwensverhaal op ʼn nuwe manier te ontsluit en ʼn nuwe betekenis daarin te vind wat, in my beskeie mening, ʼn baie groter en dieper inhoud sal gee oor wat dit beteken as ons die lyding en dood van Jesus herdenk. In Johannes Evangelie vra Pilatus, “Wat is die Waarheid?” en Jesus antwoord hom nie — want die Waarheid sal altyd groter wees as die interpretasie van die Waarheid.
In die geweefde Waarheid van die vier Evangelies lê die potensiaal om die verhaal van Jesus in ons eie lewensverhaal te vind. Die verhaal van Getsemane en die pleidooi van ons gebede; die verhoor van ʼn judgementalness wat vasgevang is in die basiese instink om te oorleef en daarom mure bou en almal wat van ons verskil uitmaak as ‘vyande’; die vernedering voor hulle wat in die naam van God op jou spoeg en jou met die vuis slaan en om steeds te kan sê, “Vader vergewe hulle ...”; gekruisig tussen die twee diewe — skuldgevoel en vrees; die spykers deur jou hande en voete voel boor en steeds uitroep, “Ek gee my lewe sodat julle LEWE sal hê en dit in oorvloed.”
Daarom vier ons die ‘opstanding van Jesus’ wat oor ALLES behalwe die liggaamlike gaan — wat sóveel meer te sê het oor die oorwinning oor die drang om oorlewing en wat ten diepste die opwekking uit die dood van ons ego-denke is en die verlossing van ons vrese en skuldgevoelens. Die kruis roep ons op om ons menslikheid te verbreed en te verdiep verby ons beperkinge. Die kruis red ons van die leuen dat ons nie ‘genoeg’ is nie, nie ‘genoeg’ het nie ... en dat ons as ‘arme sondaars’ moet smeek en bedel vir God se liefde as Jesus sê, “God is liefde en die liefde van God is GENOEG!”
Our struggle to survive has killed our humanity. We are much more than our survival-needs for security. In Jesus our humanity and divinity are not separated, and the cross is the place where these two spectrums meet.
Daarom is ons Neo-Spektrum — ʼn nuwe verstaan, ʼn nuwe lewe, in die volheid van ons menswees as ʼn vervulling van wie ons is as die Geliefde van God, Beeld van God, met die Asem van God wat in en deur ons asem!
Kom vier Sondag saam met ons.
Ons breek die brood as simbool van ons eenheid en interafhanklikheid met mekaar en dan drink ons wyn as ʼn simbool van eenheid en gebondenheid met God — ons bron van lewe, die essensie van lewe self.
Geseënde Paasfees aan elkeen van julle
Mag die vreugde en vrede van Jesus aan elkeen van ons verskyn in hierdie dae.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
.
Laai hierdie Sondag se liturgie hier af: 21 April 2019
.
“The resurrection is the denial of death, being the assertion of life.
Thus is all the thinking of the world reversed entirely.
Love is no longer feared, but gladly welcomed.
Idols have disappeared,
and the remembrance of God shines unimpeded across the world.
Christ's face is seen in every living thing,
and nothing is held in darkness,
apart from the light of forgiveness.”
― ACIM, Manual for Teachers (28) ―
.
STAD: 29 April 2019 @ 19:30
KOLPING: 25 April 2019 @ 19:30
Ons lees hierdie jaar Rob Bell se boek:
"What We Talk About When We Talk About God"
[bring steeds jou ACIM boek saam]