Potgooi:
“Our Lord has written the promise of resurrection, not in books alone, but in every leaf in springtime.”
— Martin Luther —Dit is Paasfees 2024. Soos reeds gesê, sou dit soveel meer sin maak as ons Paasfees vier in Lente, soos die Noordelike Halfrond doen.
[Lente begin amptelik in die Noordelike Halfrond op 21 Maart en Paassondag is die eerste Sondag, na die eerste volmaan, na 21 Maart]
Ons het reeds gesels oor die KRUIS as ʼn simbool van LEWE, en hoe dit die brug is tussen alles wat ons is en doen, en hoe dit die teenwoordigheid van God sigbaar maak in elke verhouding waarin ons staan.
Laas week het ons gesels oor die GRAF met ʼn herinnering, “Verseker, verseker, Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net een; maar as hy sterf, dra hy baie vrugte.” (Joh 12:24)
Die graf is die plek waar ons ons selfwaarde, selfrespek, en selfvertroue begrawe. Dan rol ons ʼn klip van vrees, wanhoop, skuldgevoel, en teleurstelling voor die graf en hoor nie die Stem wat roep: “Kom uit die graf want dit is nie jou plek nie!”
Paasfees gee vir ons die versekering dat dood is nie die einde nie maar ʼn nuwe begin.
Dit bring ons vandag by die derde moment van Paasfees naamlik: OPSTANDING.
Net om weer te onthou: die Griekse werkwoord vir ‘opstaan’ is ‘egeiro’ — soos om letterlik vanuit 'n bed of vanaf die grond ‘op te staan’. Die woord wat gebruik word om van Jesus se ‘opstanding’ te praat, is ‘anistimi’ wat kom van die woord ‘anastasis’ wat beteken: geestelike ontwaking (awakening), herlewing, wedergeboorte.
Die vier Evangelies het uiteenlopende weergawes wat by die graf van Jesus gebeur het.
Ek dink John Shelby Spong som dit reg op as hy sê, “The original purpose of the New Testament writers was not to tell us what actually happened, but to interpret the meaning of what happened.”
Dat dit nie gaan oor ʼn resussitasie van Jesus se fisiese liggaam nie maar hoe die dissipels sy teenwoordigheid so tasbaar ervaar het, so deurweek van hoe Jesus by en in en om hulle is.
Sy oproep is om voluit te lewe! Dit is wat, en wie, en hoe die Christus hul sou inspireer om hierdie nuwe LEWE te omarm en te koester.
Om in Christus te leef is om hierdie nuwe dimensie van Lewe te hê, waar dit oor veel meer as ʼn oorlewingsdrang gaan, en beslis meer is as net vlees en bloed lywe.
Daarom lê my hart en siel in die vers, “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” (Joh 11:25-26)
Ook hier gaan dit nie oor ʼn resussitasie van my lyf nie maar oor wat dit beteken om bewustelik te leef in die teenwoordigheid van God — hier en ná die dood.
Paasfees is sóveel meer as net ʼn langnaweek. Dit is ʼn seisoen van introspeksie en transformasie.
Dit is ʼn nuwe begin waar ons emosioneel en bowenal spiritueel onsself verdiep in die geestelike waardes van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, en selfbeheersing.
‘Opstanding’ is nie ʼn eenmalige gebeurtenis nie maar ʼn oomblik tot oomblik keuse. ALLES om ons is in die ewigdurende siklus van geboorte en hergeboorte.
Kyk na die sterrestelsels en die planmatigheid van die ganse skepping — birth and rebirth. Die selle op jou vel word vernuwe elke 28 dae; jou bloed elke 120 dae; jou lewer elke maand; jou maagwand elke paar weke; en so is ook nie eers jou skelet meer dieselfde as 10 jaar terug nie — birth and rebirth.
OPSTANDING (resurrection) is ʼn ander woord vir verandering. Dit is waarvan Jesus praat as hy vir Nikodemus sê, “jy moet van bo (weer) gebore word.” (Joh 3:7)
Hoe kan ons die Koninkryk van God in en om ons sien en ervaar as jy nie ‘weer gebore’ is nie? Hoe kan jy deur Paasfees gaan sonder ‘anastasis’ — ʼn geestelike ontwaking wat jou uit jou self-gemaakte graf laat opstaan?
Die geestelike impak van Paasfees, die spirituele betekenis van die ‘opstanding’ staan sentraal in die Christelike geloof. Daarsonder is ons klaaglik arm.
Die ‘opstanding’ is ʼn triomf van liefde oor die dood. Nie geld, graad, of gesag nie maar LIEFDE!
As ons nie ons eie kruis, graf, en opstanding sien in hierdie tyd van herlewing, vernuwing en restourasie nie, hoe sal ons ooit die ‘verskyning’ van God se teenwoordigheid ervaar?
Ons kan tog nie ná Paasfees dieselfde wees as daarvoor nie! Ons kan nie dieselfde disfunksionele en destruktiewe gedrag hê as vroeër nie. Iets moet skuif. Iets moet verander. Want as dit nie jou seisoen van Geboorte en Wedergeboorte is nie, het Paasfees geen betekenis nie. Gaan geniet die langnaweek.
Kom ons kyk Sondag na die ingrypende implikasies van die opstandingsverhaal en hoe dit op ʼn persoonlike vlak ons uitdaag om ons eie geestelike ontwaking te hê om 'n lewe van egtheid, deernis en sorg te omhels.
Dan sal dit regtig, soos ʼn regtig, ʼn geseënde Paasfees wees.
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.