Winde van Verandering: Oorvloed

oorvloed

Sondagdiens

24 Maart 2019

Ons tema vir die maand is — WINDE VAN VERANDERING — en het reeds gesels oor ‘ontvanklik’ (openminded)‘openhartig’ (openhearted); en laas Sondag oor ‘onbegrens’(openended). Eerskomende Sondag gaan ons stilstaan by ‘OORVLOED’ (openhanded).

WATER — daar is water in sy vloeibare vorm, water as ys in sy soliede vorm, en dan is daar water as gas in sy damp vorm. Al drie is WATER. Ons het hierdie water nodig om te oorleef. Dis ook die beste metafoor om die Drie-Eenheid van God in die Christendom te verduidelik. Wat ons ken as God as Skepper (Krag/Energie/Lewe), en Jesus as die Sig (Insig en Uitsig) van God in/tussen mense, en die Heilige Gees as die Teenwoordigheid van God, is alles EEN en dieselfde EENheid tussen elkEEN van ons. Hierdie verstaan van God is nie die enigste of beste of regtemanier van dink en glo in God nie, dit is net ONS manier van God ervaar. Dit is waarmee ons grootgeword het. Dit is ons tradisie.

LUG — die asem, die sfeer, die eter ... 78% stikstof, 21% suurstof, 1% mengelmoes ander gasse. Dié drie in een. Ons het LUG nodig om te oorleef. Hierdie planeet van ons is ʼn lewende organisme wat Asem-In en Asem-Uit elke oomblik sedert haar ontstaan. Sy het ʼn brose atmosfeer 480km om die Aarde waarvan alles wat vir ons belangrik is in die eerste 16km is. Kom ek gee jou ʼn idee van 16km — dit is (soos die kraai vlieg) van die V&A tot by die lughawe. THAT’S IT —16km is 52,000 voet die lug in. Dit is hoe DUN hierdie membraan om ons planeet is. Alles, en ek bedoel ALLES, elke vorm van lewe, sal uitsterf as hierdie dun vlies skeur.

VUUR — om vuur te hê, het ons drie goed nodig: hitte, brandstof (hout, steenkool, ens), en suurstof. Hierdie drie in een. Ook VUUR is nodig om te oorleef. As daar nie vuur is nie, sal niks werk nie — vergeet load-shedding, alles sal tot stilstand kom! Nie net elektrisiteit nie maar enige ander vorm van energie. Jou gasstoof, foon of rekenaar, internet, verwarming in koue lande, alle vorm van vervoer. Ons sal mekaar seker eers lewendig opvreet, maar daarna sal die planeet stil word ...

AARDE — die grond wat saamgestel is uit die sand op die beddings en strande van ons oseane, en die korrels van woestyne en landskappe; saamgepersde krummels in klippe en rotse; en die sand van modder en klei. Die drie in een. Dit waarvan ons gemaak is (adamah = aarde). Ons is seker ook die enigste planeet wat 70% water is maar Aarde genoem word.

Ons het die vier elemente nodig om te leef. Elk van die vier elemente het drie komponente waaruit dit bestaan — 4 x 3 = 12 en 1 + 2 = 3 en daarop berus die Groot Misterie soos elke antieke beskawing oor die uithoeke van die Aarde probeer sin maak en betekenis vind het in WIE ons is, WAT ons hier maak, en HOE om sinvol te lewe!

As dit dan die vier boublokke is van ons bestaan en as alles wat op dié planeet leef afhanklik is van dié vier hoekstene, dan is die vraag: hoe op dees Aarde het een spesie dit reggekry om al vier te buig en knak tot op ʼn punt waar ons nie met 100% sekerheid kan sê dat dieselfde spesie die volgende 100 of 200 jaar gaan oorleef nie? Nie 100,000 nie — net 100 of 200 jaar?!

Die vraag wat ons Sondag gaan antwoord is dit — ons verstaan die materiële waarde en invloed van water, lug, vuur, en aarde maar wat is die SPIRITUELE betekenis hiervan? Wat leer ons Christelike Spiritualiteit oor VERVULLING en OORVLOED ...?

Daar is MEER as genoeg — ons het van alles in oorvloed ... so, waar het die illusie van gebrek (lack) ontstaan? Is dit ʼn noodwendige gevolg van kapitalisme in sy verwronge vorm? Wie het eerste in jou oor gefluister, “Jy is nie genoeg nie!” en ons toe gehoor het, ‘nie slim genoeg nie, nie ryk genoeg, nie sterk genoeg, nie goed genoeg nie!’ Hoe is dit moontlik dat ons meer as genoeg van alles het om armoede uit te wis en dit nie doen nie terwyl ons weet dat armoede ontsettend duur is en die belading wat dit op regerings plaas, is onvoorstelbaar hoog? Daar is genoeg dat niemand honger hoef te gaan slaap nie, niemand hoef te baklei vir ʼn dak oor hul kop nie maar dan moet die wêreld saamstaan teen die boelies, en opstaan vir wat reg en regverdig is. Is dit nie beter om te deel as om ʼn kans te staan om ALLES te verloor nie?

Dat aarde, vuur, lug, en water aan ʼn handjievol mense (korporasies) behoort, is die grootste euwel van ons tyd. Dit sal altyd geweld en oorloë tot gevolg hê. Daar sal altyd ʼn magspel wees en die minste van die gulsige gieriges sal die grond, vuur, lug en water beheer ten koste van die meeste.

Wat hoor ons as Jesus sê, “Ek het gekom om vir julle lewe te gee, en dit in OORVLOED.”(Joh 10:10) en wat verstaan ons van Paulus as hy skryf, “Die Here het gesê, my genade is vir jou GENOEG!” (2 Kor 12:9) ... ? Die definisie van GENADE volgens Merriam-Webster: Divine assistance given for our regeneration and fulfilment.

Die OORVLOED en VERVULLING waarvan Jesus praat, het nie te doen met ons beleggings, eiendomsportefeulje, aandele-sertifikate, grade, sosiale status, politieke invloed of finansiële sekuriteit nie maar met iets baie nader aan die essensie van ons menswees wat veel langer sal duur as dit wat agter mure met wagte opgepas moet word.

Miskien is die belangrikste vraag van vandag: Gee ons meer as wat ons ontvang, en wat ons ontvang, neem ons dit vanselfsprekend?

Na hierdie antwoorde gaan ons Sirkel eerskomende Sondag soek.
Kom deel in ons gesprek en bring vriende en familie saam.

Soos altyd
Soli Deo Gloria

Laai Sondag se liturgie hier af: 24 Maart 2019

.

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Giving is the secret of abundance”
― Sivananda ―
.
.

A COURSE IN MIRACLES

STAD: 8 April 2019 @ 19h30
KOLPING: 4 April 2019 @ 19h30

Ons lees hierdie jaar Rob Bell se boek:
"What We Talk About When We Talk About God"
[bring steeds jou ACIM boek saam]

SONDAGBYEENKOMSTE

Om ons weeklikse "Broodjie vir die Week" per e-pos te ontvang, voltooi asseblief:

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights