Onvoorwaardelike Liefde II - 7 Junie 2023

“The beginning of love is to let those we love be perfectly themselves, and not to twist them to fit our own image. Otherwise we love only the reflection of ourselves we find in them.”― Thomas Merton —

Ons sit ons gesprek voort oor ‘Onvoorwaardelike Liefde’ wat nie afhanklik is van behoeftes en verwagtinge of solank dit tot my voordeel is nie. ʼn Allesinsluitende en allesomvattende liefde wat iemand aanvaar soos hulle is, en nie met ʼn agenda kom wat sê: ek is lief vir jou solank dit my pas, solank dit maklik is, solank jy doen wat ek wil hê nie.

Hierdie liefde verander, verbeter, vernuwe, en transformeer al ons verhoudings. Dit breek deur die heinings en mure wat ons om ons bou, want dit word gebore uit die spens van jou hart. Enige serebrale poging om dit met die verstand te wil doen of beheer, is klaaglik arm.

In ʼn wêreld waar mense vra: “Wat is daar in vir my?” kom verhoudings met voorwaardes en vereistes en solank ek my sin kry. Nêrens is dit meer sigbaar as in ons binnekamer nie — veral as daar konflik is, want dan neem die ego oor en verdamp liefde soos ʼn druppel op ʼn warm sinkplaat dak.

Dis verstommend om in terapiesessies te sien hoe mense hul konflik hanteer sonder om enigsins bewus te wees dat met ʼn paar reëls in die hand kan enige geskil opgelos word sodat daar weer vrede is.

Hier is ʼn paar om te oorweeg:

  • Begin met die vraag: wat gaan verander as ek dit met liefde doen?
  • Vra die persoon teenoor jou wat h/sy VOEL. Luister mooi! Nie om te reageer nie maar om te verstaan.
  • Moenie mekaar verneder of ignoreer nie. Dit is wat lafaards doen.
  • As die fout by jou lê, wees bereid om te sê, “Ek is jammer. Vergewe my. Ek gaan my bes doen om dit anders en beter te doen.”
  • Bly by die punt en moenie ou koeie uit die sloot, of bobbejane agter die berg loop haal nie.
  • Onthou: woede is vrees verwoord — ons word kwaad omdat ons bang is ons kry seer; bang dit breek wat lief is; bang ons word nie gehoor nie en dan ontken. Vrees is die afwesigheid van liefde. Die twee kan nie saam in die hart woon nie.
  • Dan vra jy weer: wat gaan verander as ek dit doen met liefde?

Indien jy nie regverdig kan ‘baklei’ nie, kry dan ʼn skeidsregter — iemand wat so gesprek kan fasiliteer sodat jul praat én luister tot die konflik opgelos is.

Niemand verdien om in ʼn toksiese huwelik of destruktiewe en disfunksionele verhouding te wees nie.

Onvoorwaardelike liefde sê nie dat jy met my kan doen wat jy wil nie. Dit laat ruimte om te praat oor die skerp rotspunte van misverstand wat ʼn wond maak. Dit het ‘boundaries’ om te kan sê waar vertroue geskaad word, of waar iemand nie by sy/haar beloftes hou nie. So gesprek vind met LIEFDE plaas en ons hou die ego op hok.

Die VYF pilare waarop onvoorwaardelike liefde berus, is: aanvaarding (embrace), respek, lojaliteit, menswaardigheid (dignity), en liefdevolle-goedheid (kindness).

Vat enige een van hierdie weg en die res stamel.

Daarom het ek oor die jare ook gesien dat die goed wat maak dat die ‘onvoorwaardelik’ weg gekalwe word, is wanneer mense nie authentic is nie. Wanneer daar voorgegee word en mense nie die waarheid op die tafel sit nie uit vrees vir verwerping en veroordeling.

Waak teen die ‘jakkalsies in die wingerd’ wat meer vat as wat dit gee en dit vanselfsprekend aanvaar; persepsies en projeksies; aannames en blame-games.

Onthou die Goue Reël: doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.

Kom ons gesels Sondag oor VYF goed waar konflik-oplossing bydra tot meer emosionele intimiteit wat die fondasie van ons liefde voed.

Die laaste woord behoort aan Paulus —

“Die liefde is geduldig,die liefde is vriendelik;dit is nie afgunstig nie,is nie grootpraterig nie,is nie verwaand nie.Dit handel nie onwelvoeglik nie,soek nie sy eie belang nie,is nie liggeraak nie,hou nie boek van die kwaad nie.Dit verbly hom nie oor onreg nie,maar verheug hom oor die waarheid.Dit bedek alles, glo alles,hoop alles, verdra alles.”— 1 Korintiërs 13:4-7 —

Lees dit weer, en laat dit insink.

Dit is die LIEFDE wat ʼn verskil maak. Dít is ʼn LIEFDE wat onvoorwaardelik is.

Mag die res van die week hiermee gevul wees.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Respectful communication under conflict or opposition is an essential and truly awe-inspiring ability.”― Bryant McGill 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights