“But would you kindly ponder this question: What would your good do if evil didn't exist, and what would the earth look like if all the shadows disappeared? After all, shadows are cast by things and people. Here is the shadow of my sword. But shadows also come from trees and living beings. Do you want to strip the earth of all trees and living things just because of your fantasy of enjoying naked light?” ― Mikhail Bulgakov, ‘The Master and Margarita’
13 MAART is ʼn datum wat gegraveer lê in ons gesin se geskiedenis — drie keer (1958, 1981, en 1993) sou dié datum ʼn litteken los waarvan die laaste keer, 26 jaar gelede, die dag sou wees waarop my broer in my arms sterf. Daar lê ʼn leeftyd tussen toe en nou en tog voel dit soos gister. As ʼn mens terugdink was dit verseker ʼn tyd van skaduwees en ʼn seisoen waarop donker wolke die son, maan, en sterre versper het. Dit sou jare vat om te onderskei tussen die skadu’s en koeltes, tussen weerloos en weerbaar, tussen wond en gesond.
Die gevolg van 13 Maart 1993 was ʼn geestelike verdieping wat dit sou bring by elkeen van ons in ons gesin asook ʼn verskerpte spirituele ervaring met mekaar maar beslis ook in ons verhouding met God. Die grootste geskenk van die gebeure was ʼn transformasie in my Mens- en Godsbeskouing. Dit waarmee ek grootgeword het, sou plek maak vir ʼn leivoor na ʼn hele nuwe verstaan van God (Lewe) en die wisselwerking (Liefde) wat daar bestaan tussen my en my ewemens en God. Dikwels daarna sou ek na dié datum verwys as: the death of my religion and the birth of my relationship!
Dit sou sewe jaar vat voor die ‘herlewing’ die moed sou vind om die eerste blomme te plant in ʼn bedding buite die tuin van georganiseerde kerk. Wie sou kon dink dat Kobus se dood geboorte sou gee aan ʼn wedergeboorte in die verstaan en betekenis van wie en wat en HOE die Goddelike manifesteer in ons lewe. Elke Christelike simbool sou ʼn nuwe inhoud vind — krip, kruis, graf, brood, wyn, water en herder. Begrippe soos: geloof, hoop, liefde, vergiffenis, genade, versoening, en waarheid sou skielik die taal van die hart word wat bevry is van dogmatiese bagasie. Vir dit en soveel meer sal ek my kleinboet vir ewig dankbaar wees!
Maar dit sou die rehabilitasie van rebellie na reformasie wees wat die grootste skuif sou bring in my ervaring met God. Die teologiese doolhof van ʼn God wat buite ons menswees en wêreld is; ʼn God wat iets van my wil hê wat God nie is of kan kry nie; die idee van ʼn God wat funksioneer met ‘reward and punishment’; en die illusie dat mý godsdiens die regte en enigste godsdiens is waardeur mense God kan ken en ervaar, moes plek maak vir ʼn spiritualiteit wat veel meer inklusief is en veel meer verantwoordelikheid neem vir ons plek in die wêreld waarin ons leef. Soos enige geboorte het hierdie proses met pyn gepaard gegaan. Daar was soveel goed wat ek moes ontleer, soveel ‘sekerhede’ wat ek moes laat los. Ek was opsoek na ʼn konneksie MET God en was nie tevrede om langer te praat OOR God asof dit los, buite, of verwyderd van my is nie.
Mense soos Thomas Merton, Henri Nouwen, en Thomas Keating was die wynmakers in my nuutgevonde wingerd sonder om ʼn wenkbrou te lig dat hulle Katolieke priesters was. Daar was in elk geval by my nog altyd ʼn groter affiniteit vir die Mistieke Spiritualiteit as vir Gereformeerde Sekerhede. Dié drie broers sou by my ʼn verheldering, ʼn ontwaking, ʼn herwaardering bring van wie Jesus is en wat dit beteken om myself ʼn ‘Christen’ te noem. Met nuwe oë sou ek die Evangelies lees en met ander ore sou ek luister na Paulus se briewe. ʼn Reis het begin met Jesus — meer geïnspireerd, meer doelgerig, meer bewus, passievol, en betekenisvol.
ʼn Deurleefde waarheid sou my vind: Niks en niemand mag ooit tussen ons en ons konneksie met die Bron/Oorsprong van Liefde en Lewe staan nie!
Ons tema vir die maand is — WINDE VAN VERANDERING — en het reeds gesels oor ‘ontvanklikheid; (openminded) en ‘openhartig’ (openhearted) en gaan eerskomende Sondag gesels oor ‘onbegrens’ (openended) ... waarvan praat ons as ons sê dat die liefde, goedheid, genade, deernis, vergifnis, en vrede van God is allesinsluitend en alomteenwoordig? Wat bedoel ons as ons sê die krag van God se teenwoordigheid, inspirasie, eenheid, invloed, en eindelose potensiaal is in alles en almal almagtig?
Die laaste woord behoort aan Roger Wolsey uit sy wonderlike boek, ‘Kissing Fish: Christianity for People Who Don’t Like Christianity’ — “Progressive Christians would rather go to their graves having done their best to live rightly and follow the teachings and example of Jesus than to have 'believed all the right things about Jesus' but fail to demonstrate or live out those beliefs. Progressive Christians prefer to hold various doctrines and beliefs loosely as they observe that it is extremely arrogant, and potentially idolatrous, for humans to think that any of our notions about God are without any degree of error.”
Met dit kan ons ruimte maak vir mekaar se andersheid en met respek omgaan in ons soek en vind van wat die Waarheid vir ons elkeen beteken. Ons leef in die lig en skram nie weg van die skaduwees nie. Ons dank God vir die trane van ons herinneringe want sonder dit sou ons lewe klaaglik armer gewees het.
Met liefde en waardering
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.