Potgooi:
“When it rains look for rainbows, when it’s dark look for stars.”
— Oscar Wilde —
So kom ons by ons laaste gesprek oor: Om weer in Kleur te Leef.
Ons het gesels oor vernuwing en herlewing en gekyk na ʼn Geestelike GPS – (Geduld, Perspektief, Simplisiteit) om ons veilig deur die landskap van dié seisoen te vat. Ons het stilgestaan by die kleur van verantwoordelikheid wat vir ons ʼn Spirituele Kompas word om te weet waar ons Ware Noord is; Suid om te sien waar ons vandaan kom; Oos is die sonsopkoms om met oorgawe elke nuwe dag met albei arms te omarm; en Wes is die wysheid van ʼn sonsondergang wat die beste van vandag saamvat op ons reis na môre.
Hierdie jaar se September het ook weer ʼn handvol nuwe ervarings gebring met nuwe insigte en ʼn beter verstaan van my as mens.
Hoe terdeë bewus ek is van die feit dat ons almal ons interne winters ervaar waar ons dalk in ʼn seisoen is van verdriet en hartseer, of aan ‘burnout’ ly omdat die druk by die werk net te veel is.
Miskien voel jy jouself in ʼn periode van stagnasie wat week in en week uit dieselfde same-old-same patroon is, en dit voel die plesier en vreugde van die lewe gaan by ons verby.
Onthou ek weer die woorde van ʼn vriend wat altyd ten midde van ʼn krisis gesê het — it’s a season, not a sentence. Niemand is ʼn gevangene van Winter nie, want die Lente kom altyd weer!
Weer het hierdie Lente my geleer hoe om my fisiese, emosionele, en spirituele sintuie te verskerp. Om daarop te let hoe die reën anders ruik as in die Winter. Om weer die tjirp van voëltjies te hoor wat terug is in die Lente, en hoe die middagson die muur in my kamer vanuit ʼn ander hoek belig.
Daar is ook ʼn hernude waardering hoe Lente ʼn vernuwing bring in ons interpersoonlike verhoudings. Elke Lente-tuin vra dat daar gesnoei sal word aan dooie takke en die onkruid verwyder om plek te maak vir bloeisels en blomme.
Deel van daardie snoei sluit in om ons verwyte en bitterheid weg te knip sodat dit plek kan maak vir vergiffenis en versoening. Dit kan ook beteken om onsself los te maak van gesprekke wat verneder en veroordeel, en af te sny wat nie langer waarde toevoeg tot jou lewe nie, sodat die lig en water van mense wat regtig omgee weer ons tuin kan vind.
Bowenal is dit ʼn maand met ʼn intense bewustheid om die bloeisels te wees vir hulle wat vasgevang is in ʼn emosionele winter, en om ʼn spatsel kleur te word vir hulle wat in die grys van wanhoop en onsekerheid vasgevang is.
Maar elke nuwe begin, elke Lente van die siel, vra ’n eerste tree. In kuns is dit die eerste kwashaal; in musiek die eerste noot; in die tuin die eerste saad. In die lewe noem ons dit: INTENSIE. Dit is daai stille oortuiging aan die binnekant wat sê: “Hier begin ek. Hier plant ek. Hier kies ek.”
Sonder intensie bly alles bloot moontlikhede, maar met intensie word moontlikhede ʼn werklikheid — 'n lewe wat met doel en vervulling geleef word.
Wat is Intensie? Dis 'n bewustelike keuse om jou energie, aksies, en aandag te spits op iets betekenisvol.
ʼn Doel is die bestemming waar jy wil uitkom. Intensies bepaal die koers. Jou doelwitte sê WAT jy wil doen, en jou intensies sê HOEKOM jy dit wil doen.
“Our intention creates our reality. What we set in motion through intention shapes our thoughts, decisions, and relationships.” — Wayne Dyer
Ons intensies is geweef in elke oomblik van die dag, of ons bewus is daarvan of nie. Dit bepaal ons keuses en besluitnemingsproses.
Byvoorbeeld: Jy kan 'n gesprek hê met die intensie om te luister en te verstaan, of met die doel om te bewys jy is reg en die ander persoon is verkeerd. As ons mekaar behandel met die intensie om liefde, ondersteuning, en sorg te laat gedy, skep dit 'n emosionele veiligheid wat elke verhouding laat floreer. As Christene is ons intensie om die bewussyn te kweek van God se teenwoordigheid, want dan maak dit nie saak wát gebeur nie, ons reageer met 'n kalm nugterheid.
Die meeste mense dink ons gedagtes kom eerste en intensie volg daarná, maar die waarheid is dat intensies die saad is waaruit ons gedagtes groei.
As ons nie bewus is van ons intensies nie, is ons gedagtes oral maar nêrens, en is ons slawe van over-thinking, wat bobbejane loop haal agter berge wat ons gemaak het van ʼn molshoop.
Maar as ons opstaan en êrens tussen die eerste koppie koffie en wanneer ons agter ons lessenaar gaan sit vir onsself sê, “Vandag kies ek liefde bo vrees, vrede bo konflik, en om almal wat oor my pad kom met kindness te behandel,” dan sal dit ons gedagtes fokus, en bepaal hoe ons die dag ervaar.
Jou gedagtes het ʼn anker nodig. Intensies is daardie anker vir gedagtes wat dwaal en leef in buitelyne, sonder dat enige iets jou lewe vul met kleur.
As ʼn reënboog ʼn metafoor is van om weer in kleur te leef, dan is ons intensies die sonlig wat deur die wolke breek.
Kom ons gesels Sondag oor die intensie om jou reënboë te tel en nie jou donderstorms nie.
Kyk of jy kan sien wat is die woord wat elke eerste letter van hierdie sewe woorde spel...
... en as jy nie die reënboog vind nie, wees die lig wat een maak!
Soos altyd
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.