Potgooi:
“The way I see it, if you want the rainbow, you gotta put up with the rain.”
— Dolly Parton —
Ons sit ons maand se tema voort as ons gesels oor — Om weer in Kleur te Leef.
Om verantwoordelikheid te vat vir jou kleure, is een van die mees bevrydende en lewensveranderende keuses wat jy kan maak.
Ons ken die uitdrukking: “Sy wys my haar ware kleure,” wat beteken sy wys haar ware self, en ʼn mens kan sien wie sy werklik is. Dit kan positief of negatief wees.
Elkeen van ons dra ʼn palet van emosies, ervaring, keuses, en geestelike kwaliteite. Sommige kleure is bruisend en dinamies — vreugde, passie, liefde, dankbaarheid. Ander is donker en gedemp — bitterheid, kwaad, gegrief, spyt. Saam wys dit wie ons is, hoe ons die wêreld inkleur, en ander ons sien.
Die waarheid is: JÝ is die skilder van jou lewe. Elke aksie, elke keuse, elke reaksie, is ʼn kwashaal op die verfdoek van jou bestaan. Wanneer ons nie verantwoordelikheid vat vir ons kleure nie, dan gee ons die kwas weg — en laat ander mense, omstandighede, of selfs ou wonde bepaal hoe ons lewe lyk.
Dink aan ‘verantwoordelikheid’ as ʼn kleur op sigself — miskien ʼn diep groen soos die koringlande in die Lente. Groen is die kleur van groei, vernuwing, en lewe. Sonder verantwoordelikheid is daar geen groei nie, en net die herhaling van ou patrone. Daar word geplant, maar ons gee dit nie lig en water nie.
‘Verantwoordelikheid’ beteken dat selfs al word ons beïnvloed deur mense en situasies, het hulle nie die mag om jou van jou kleur te roof nie. Selfs al kry ons seer, is dit in ons beheer hoe ons daarop gaan reageer.
Miskien moet ek net eers die onderskeid maak tussen REAKSIE en RESPONS.
Dink daaraan hoeveel keer ons luister, veral in konflik, om te reageer en nie om te verstaan nie. Baiemaal is ons reaksies meer skadelik as wat gebeur het.
“Responsibility breeds response-ability.”
— Stephen Covey
Om verantwoordelikheid te vat, beteken nie om jou emosies te ontken nie — dit is om rekenskap daarvoor te vat, en te kies wat jou ‘respons’ gaan wees daarop. Teleurstelling en wrewel mag dalk op jou palet wees, maar verantwoordelikheid gaan bepaal of dit die verfdoek oorheers.
Na die grys van die Winter se koue, bars die vernuwing van Lente oop in die mooiste kleure. Bome is geklee in bloeisels, en oral staan blomme bont.
Lente leer ons om te lewe is om te verander en te vernuwe, en dit is ons verantwoordelikheid om onsself daarmee te belyn.
Hoe sal dit lyk as ons verantwoordelikheid toelaat om die ‘kleur van Lente’ te wees in ons lewe? Miskien sal dit beteken —
Verantwoordelikheid in die Lente beteken dat ons nie wag vir iemand anders om die kleur in ons lewe te gee nie. Dit beteken dat ons uit die winter se koue stap en die kleur van ʼn nuwe seisoen, in al die nuanses daarvan, sal omarm.
As ons praat oor kleur, is dit nooit net vir en van onsself nie. Ons kleure loop oor na die lewe van ander — die toon in jou stem in 'n gesprek, die geduld wat jy bied in misverstand, die deernis wat jy wys teenoor die een wat val, die hand van vriendelikheid wat jy uitreik na die een wat vra vir begrip en hulp.
Dit is alles kleure wat jou geskenk is aan die wêreld: as verantwoordelikheid groen is, dan is die liefde dalk rooi, en vergiffenis wit, en kindness hemelblou.
Wees daarom versigtig om nie swart verf oor iemand ander se verfdoek te spat nie. Om verantwoordelikheid vir mekaar te vat, beteken nie ek het die reg om op jou lewensdoek te verf of om jou kleurskemas te kritiseer nie — wat ek geroep is om te doen, is om seker te maak jy het al die kleure en skoon kwasse om jou skildery te maak in die seisoen waarin jy is in jou lewe.
“Beauty is meant to be shared,” het Picasso gesê. ʼn Roos is nie jaloers op die ranonkels in die tuin nie, en ʼn tulp voel nie minder mooi in dieselfde bedding vol irisse nie. Hulle geure en kleure is vrylik vir die hele wêreld.
Ja, God gee vir jou die verfdoek, die esel om dit op te sit, ʼn sak met verskillende kwasse, en elke kleur denkbaar in jou tas, maar JÝ besluit wat en hoe jy jou lewensdoek gaan verf. Doen dit met verantwoordelikheid.
Wat is die kleur wat jy kies vir jou verhouding met God? Baie mense draai na God net as hul ʼn krisis in hul lewe het, en verf hul gebede in desperate skakerings van wit en swart.
Verantwoordelikheid roep ons om in konstante kleur met God te leef — nie net as jou lewe uitmekaar val nie, maar daagliks, in die gewonigheid van elke dag, net soos in elke oomblik van uitbundige ekstase.
Om verantwoordelikheid te neem vir jou geestelike lewe beteken om hierdie verhouding te koester met liefde en ontvanklikheid. Ons kweek meer dankbaarheid en waardering, en kultiveer ons dissipline en toewyding.
Die vraag is nie wat ons van God wil hê nie, maar eerder, wat dit is wat God van mý vra? Wanneer ons ons kleur na hierdie verhouding bring, ontdek ons dat God nie perfeksie vra nie, maar bereidwilligheid. Om te skaaf aan ons tegniek en benadering, en te snoei aan die goed wat maak dat ons ons verantwoordelikheid verloën.
Glo my, God gee regtig nie om oor hoe jy ʼn landskap inkleur, of ʼn gesig teken nie — wat belangrik is, is DÁT jy dit doen. Kom met jou vreugde en verlange, jou blydskap en verdriet, jou vertroue en wanhoop en laat God toe om jou lewe kleur te gee — meer beeldskoon as wat jy jouself dit ooit kon voorstel.
Soos altyd
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.