Skildery deur Tessa Beukes: https://www.instagram.com/tessa_beukes/
Potgooi:
“No winter lasts forever;
no spring skips its turn.”
— Hal Borland —
Kom ons begin waar ons verlede week opgehou het: ná die Winter kom die Lente, ná elke donker nag breek die son weer oor die horison, ná elke seisoen van hartseer en onsekerheid breek die lewe weer oop — met bloeisels van hoop.
September is die begin van Lente. Dis daardie eerste diep asemteug ná maande van asem ophou deur die koue, grou dae. Letterlik én figuurlik is dit die tyd waarin ons weer begin om kleur te sien.
Lente is méér as net ʼn seisoen: dit is ʼn lewende metafoor van ʼn nuwe begin. Die bloeisels waag dit om oop te gaan, selfs al byt die koue nog in die lug. Oral roep die natuur ons tot vernuwing — en diep binne ons weet ons: LEWE is soepel en dinamies. Niks bly stagnant nie. Alles is in beweging. Daar is 'n konstante verandering om ons.
Ons kyk om ons en sien hoe die ganse kosmos beweeg op die ritme van geboorte en wedergeboorte — birth and rebirth — en wat ons dink is die ‘einde’ is net die begin van ʼn nuwe seisoen.
Dink ek weer aan die woorde van die Middeleeuse Christen-mistikus —
“And suddenly you just know... it's time to start something new and trust the magic of beginnings — the beauty of becoming.” — Meister Eckhart
Wat is hierdie “beauty of becoming” waarvan hy praat?
Die moed om nuut te begin
Om nuut te begin, is selde gerieflik of geleë. Dit vra dapperheid om deur die koue grond te breek en die warmte van ʼn nuwe seisoen se son te hengel.
Die koringkorrel weet nie wat bo die grond wag nie — maar dit druk steeds deur. Die pit van ʼn avokadoboom het geen idee hoeveel vrug dit eendag sal dra nie — en tog gee dit homself oor aan die proses van groei.
Ons kan dieselfde sê van ons geloofslewe. God roep ons voortdurend uit ons gemaksone na verandering. Abraham moes sy vaderland verlaat. Moses moes die woestyn in. Petrus moes uit die boot klim. Dit is vir ons om die geloof te hê dat God ons deur die Winter van onsekerheid na ʼn Lente van nuwe lewe bring.
Die keuse van verandering
Die mens is nou maar eenmaal ʼn wese wat soek na verandering, maar bly waar dit veilig voel. Ons klou vas aan wat bekend, en waaraan ons gewoond is sonder om self te wil verander. Ons weet nie hoe om die groter prentjie te sien nie en mis die eindelose potensiaal wat in ons opgesluit lê.
Daarom is die vraag: Waar in jou lewe is daar 'n uitnodiging om nuut te begin — nie omdat jy gefaal het nie, maar omdat jy wil groei en bloeisels dra?
Wanneer hierdie nuwe seisoen se lig, warmte, en kleur deurbreek in ons lewe is daar ʼn oproep na iets meer as die same-old-same van die jaar wat verby is.
Bome weet wanneer om hul blare te laat gaan, en staan gestroop maar dapper deur die Winter tot die Lente kom en nuwe blare bot. Net so moet ons leer om te laat gaan aan toksiese verhoudings en verpligtinge wat ons leeg laat.Ander kere is dit emosies van bitterheid, skuldgevoelens, of vrese wat soos winterkoue aan ons bly klou. Ons self-saboterende gewoontes en onrealistiese verwagtinge van onsself en van ander, wat ons moet laat gaan.
Ons bêre die swaar komberse van selfkritiek en selfverwyt. Ons skuif die gordyne oop en laat die lig invloei in die kamers van ons lewe waar ons dalk in skaamte onsself wegsteek vir ander.
Ons gee nie moed op net omdat iets moeilik is, en raak nie so gou geïrriteerd net omdat ons nie ons sin kry nie. As omstandighede grys lyk, bring ONS die kleur van verandering.
Bloeisels verskyn nie oornag nie. “The beauty of becoming” gebeur nie met die klap van jou vingers nie. Om te word wat ons geroep is om te wees, is ʼn proses wat geduld vra en om te weet hoe om te wag met ʼn doel.
Daarbenewens leef ons in ʼn kultuur waar als NOU moet gebeur. Daar is meer fokus op dit wat ons NIE HET nie, as om dankbaar te wees vir wat ons het.
Nuwe oë vir 'n groter perspektief
Dit bring my by ʼn laaste aanhaling wat hierdie gesprek mooi saamvat.
“The real voyage of discovery consists not in seeking new landscapes, but in having new eyes.”
Hoe sien ons ons werk, ons familie, ons huwelik, ons geestelike groei met nuwe oë, of is dit vir jou goed-genoeg om voort te strompel in die donker?
Ons gesels hierdie maand oor ‘OM IN KLEUR TE LEEF’ en gaan Sondag begin met ʼn gesprek oor hoe om ons drome, ideale, en aspirasies te manifesteer in iets nuuts.
Vir seker verlang ons almal tog na ʼn lewe wat minder eentonig, minder een-dimensioneel is. Ons wil tog ʼn werk doen wat waarde toevoeg tot my as mens en as ek saans huis toe ry, weet ek waarde toegevoeg tot my werk. Ons wil in ʼn verhouding of huwelik wees waar intimiteit nie oorskadu word deur roetine en verpligtinge nie — ons wil liefhê en liefgehê word. Ons wil nie ʼn spiritualiteit beoefen wat net in nood leer bid, of waar ons meer vat as wat ons gee nie. Of hoe?
Ek dog ek vra maar net…
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.