Potgooi:
"There are always flowers for those who want to see them."
— Henri Nouwen —
Vandag is net ʼn kort gedagte vir waaroor ons gaan gesels in September.
Ek was nog altyd meer geïnteresseerd in die verandering van seisoene as die seisoene opsigself. Daardie tussen-in tye van die jaar. Wanneer die natuur haar intermezzo vir ons speel.
Lente is op pad! Ons sien dit in die geel kanola-velde, ruik dit oral met die reuk van jasmyn in die lug. Vygies en botterblomme is oral in blom, en binnekort sal die buurt oortrek wees van pers jakarandas.
Ons tema vir die maand is — Om Weer in Kleur te Leef.
Na vier maande van grou en koue, reën en warmkomberse, is bloeisels die natuur se knipoog dat lewe altyd weer haar pad vind na vernuwing en wedergeboorte.
Ons leef meer as dikwels in skakerings van grys — na ʼn werk wat die rekeninge betaal maar geen waarde toevoeg tot jou lewe nie; ʼn huwelik wat afgestomp is deur roetine; vriendskappe waar daar geen tyd meer voor is nie; of drome en aspirasies wat onder verpligtinge en verwagtinge begrawe lê.
Tog roep die Lente ons weer en nog ʼn keer om wakker te word uit ons Winterslaap en te voel hoe dié Lewe weer in en deur mý lewe vloei. Dit roep ons om weer in kleur te leef.
Dis ʼn seisoen wat vra vir moed, vir dapperheid, vir ʼn bereidwilligheid om dit anders en beter te doen, sonder om weg te skram van ons weerloosheid. Ons laat gaan die monotoon van Winter se lui-lekker opkrul langs die verwarmer en hoe die dae langsaam verbygaan soos ʼn boek wat jy lees en stadig omblaai want ons wil nie te gou by die einde wees nie.
Lente is om weer ons konneksies te voel — met myself, met mense om my, met die natuur, en met God. Soos ʼn beer die hare van sy winterpels in sy grot agterlos, wil ons laat gaan aan als wat net pendel om ʼn oorlewingsdrang. Ons wil die lang pad terug huis toe vat sodat ons weer en nog ʼn keer onsself kan verlustig aan ʼn lewe van kleur.
“And suddenly you just know... it's time to start something new and trust the magic of beginnings — the beauty of becoming.” — Meister Eckhart
DÍT is waaroor ons dié maand gaan gesels: die moed om weer te begin; om elke dag saadjies te plant wat die vrugte van liefde, vreugde, en vrede sal dra; om op te staan en weer die eindelose potensiaal van ontelbare moontlikhede te sien; en hoe om roetine te vervang met vernuwing.Ná die Winter kom die Lente, ná elke donker nag breek die son weer oor die horison, ná elke seisoen van hartseer en onsekerheid breek die lewe weer oop met bloeisels van hoop.
Daarom is Lente nie net ʼn seisoen nie — it’s a state of mind.“Dit is die plek op pad na orals,
orals heen
die vygies blink hier steen en been.
Daar is geen plek
so ver en woes geleë
of een, my so geneë.
Dis in dié wêreld net die vygie
en die botterblom
die bloekomboom wat oorloop
van sy gom,
maar dan veral die botterblom
die botterder-as-botter-blom.”
— Merwe Scholtz —
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.