“There is a crack,
a crack in everything
That's how the light gets in.”
― Leonard Cohen, ‘Anthem’ —
In die Heilige Maand van Paasfees gaan ons stilstaan by ʼn gesprek oor: om sin te maak van LYDING.
Ons almal ken die seisoene van emosionele pyn, droefheid, smart, en hartseer. Dit is so deel van die lewe soos reën, oorstromings, en opdrifsels.
Soms is dit vanweë omstandighede — siekte, finansiële druk, of spanning in ʼn verhouding. Meestal is dit as gevolg interne emosies — teleurstelling, spyt, vrees, en skuldgevoelens.
Ons wil hê dat alles dieselfde moet bly. Ons hou nie van verandering nie veral nie as dit ongemaklik of ongeleë is nie.
Ons wil nie aanvaar dat goed verander die hele tyd nie. Alles is tydelik, alles is relatief.
Jy is nie eers dieselfde as gister of ʼn jaar terug nie. Ons lywe verander konstant — jou maagwand vervang homself elke twee tot drie weke, jy verloor 200 miljoen vel-selle elke uur, en elke vier tot agt weke het jou liggaam splinternuwe rooibloedselle.
Emosioneel verander ons ook konstant. Ons dink anders oor goed as ʼn vyf of tien jaar terug. Ons reageer anders op goed wat gebeur omdat ons leer, en omdat ons dinge beter verstaan… en steeds het ons ʼn weerstand teen verganklikheid.
Intellektueel verstaan ons die sirkel van lewe en dood. Ons sien dit in die kosmos waar sterre sterf en ʼn nuwe ster gebore word. Ons sien dit in die natuur waar bome en diere sterf en geboorte gee aan nuwe spruite en welpies.
Ek dink dit was die Dalai Lama wat gesê het, “Pain is inevitable. Suffering is optional.”
Wat beteken dit?
‘Pyn’ is wat gebeur, ‘lyding’ is hoe ons daarmee omgaan. ‘Pyn’ is ʼn ongemaklike en ontstellende ervaring terwyl ‘lyding’ dieper sny na emosionele reaksies waar ontkenning en selfbejammering, selfverwyt en wroeging, blaam en beskuldiging om die pyn gevou word.
Wie kan die aangrypende monoloog van John Coffey (briljant vertolk deur Michael Duncan) vergeet in die film “The Green Mile” —
“I'm rightly tired of the pain I hear and feel, boss. I'm tired of being on the road, lonely as a robin in the rain. Not never having no buddy to go on with or tell me where we’re coming from or going to or why. I'm tired of people being ugly to each other. It feels like pieces of glass in my head. I'm tired of all the times I've wanted to help and couldn't. I'm tired of being in the dark. Mostly it's the pain. There's too much. If I could end it, I would. But I can't.”
— Stephen King
Ons ken hierdie emosies, ons ken dit goed. Ons weet wat dit is om te spartel in ons verdriet, en te swoeg in die moedeloosheid dat wat ek nou voel en ervaar gaan nooit weer beter word nie.
Wanneer als so donker om ons raak, is dit moeilik om te sien dat waar ons nou is, is ʼn stasie. Dis ʼn perron en nie die spoor of trein na ʼn ander, beter plek nie.
As ons oorweldig word deur weemoed, word omstandighede soveel groter as ons dampkring van mense wat ondersteun, omgee, en liefhet. Kort voor lank beland ons in die dryfsand van ellende wat krepeer van verdriet.
Dis menslik. Laat ons dit nie veroordeel en negeer as pateties of swak nie. Kom ons sien dit vir wat dit is en vind ʼn manier om sinvol daarmee om te gaan.
Die pynlike (pun intended) realiteit is die feit dat die meeste van ons probeer om dit verstaan deur ʼn religieuse motief. Hoe dikwels sal jy Christene hoor sê dat “lyding gebeur as gevolg van sonde” — met ander woorde: dis my verdiende straf. Daar word geglo dat God lyding gebruik om ons op ons knieë te dwing — óf — dat God lyding toelaat om ons geloof te versterk en ons gehoorsaam te hou.
ʼn Begrafnisbrief wat sê “Dit het God behaag ...” om ʼn geliefde te kom haal, of nog erger, “God het vir hom ʼn blom kom pluk vir sy tuin” — wat ʼn loutere onsin!
Geen wonder dat die moderne mens hul rug draai op godsdiens wat van God ʼn karikatuur maak as die outeur en dirigent van lyding nie. Hoor hoe sentimenteel is ons retoriek wanneer ateïste dié vraag na gelowiges slinger, “How can a loving and benevolent God allow so much suffering?”
Dit is nie hoe ek God ervaar of verstaan nie.
Gaan lees weer die verhaal van Job — dit vertel die verhaal van ʼn man wat in elke opsig geweet het wat lyding beteken. Die rede word gesoek in die dobbelstene van Satan oor sy lot. Sy vriende vertel hom dat dit net gebeur as ʼn mens gesondig het teen God. Selfs sy vrou sê dat hy God moet vervloek want dis God se skuld. Dan kom Job tot die konklusie dat God nie omgee nie… God is weg.
Maar as God hom antwoord, maak God geen melding van ʼn Satan, of sonde, skuld, en straf nie. God sê, “EK was die hele tyd daar, in jou seerste seer, in jou donkerste tyd, was EK die hele tyd by jou!”
Die Evangelie Skrywers plaas die laaste week van Jesus se lewe sentraal tot hul interpretasie van wie Jesus was, wat sy lyding en dood beteken, en hoe ons sy ‘opstanding uit die dood’ moet verstaan.
DEATH and RESURRECTION — ja, dit is waaroor Paasfees gaan, maar dit gaan oor veel meer as ʼn liggaam (vorm), lyding (definisie), en fisiese dood (dimensie).
Kom ons praat oor die redes vir lyding. Kom ons gesels oor die dood. Kom ons verstaan waar God is in ons beproewing, pyn, ellende, en smart. Kom ons kyk na Jesus se voorbeeld.
Hoop om jou Sondag te sien.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Naskrif: Lees gerus ons nuutste Sirkelflitse.
“Grief does not change you.
It reveals you.”
― John Green, The Fault in Our Stars ―