Potgooi:
“But in the desert, in the pure clean atmosphere, in the silence – there you can find yourself. And unless you begin to know yourself, how can you even begin to search for God?”
― Father Dioscuros ―
In Deuteronomium 8 herinner Moses die Israeliete dat soms lei God ons in ʼn woestyn om te sien wat is in ons harte. Ten spyte van hul vrese en twyfel, voorsien God met manna uit die hemel en water uit ʼn rots.
Wanneer ons geestelik opgedroog en emosioneel uitgeput voel, kan ons vertroosting vind in die wete dat God by ons is en in ons behoeftes voorsien.
HOE doen God dit?
Wat ons in die woestyn hou en maak dat ons in sirkels om en om swerf, is ons gekla en onvergenoegdheid. Ons kerm en moan onsself al hoe dieper die woestyn in. Hoe meer negatief die Israeliete was, hoe meer het hulle verdwaal. Dit is steeds nét so waar van onsself.
ʼn Duisend jaar later was die Israeliete wéér in die woestyn. Dié keer in die woestyn van ballingskap. Daar sou Jesaja hulle herinner —
“Kyk, Ek doen iets nuut! Nou borrel dit op; sien jy dit nie raak nie? Ek maak 'n pad in die woestyn en strome in die wildernis.” — Jesaja 43:19
Hoe dikwels is ons in ʼn selfopgelegde ballingskap?
Ons sit in ʼn ‘vreemde land’ (situasies en omstandighede) waarvan ons nie in beheer is nie. Ons staan onder die ‘emosionele verdrukking’ van hopeloosheid, sinisme, bitterheid, en ʼn victim-mentaliteit.
Ons het vergeet van ons ‘beloofde land’ waar ons veilig voel en kan wees wie ons bestem is om te wees en waar ons vrymoedig, met oorgawe die Vrugte van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, en self-beheersing kan dra.
[Lees weer elkeen van hierdie 9 Vrugte van die Gees en vra jouself wat beteken dit vir jou, en wat / waar is die ballingskap waarin jy jouself gekry het om dit te vergeet?]
Dit is eers as ons erkenning gee aan ons emosionele woestyne en geestelike wildernisse dat ons besef hoe baie vorme dit aanneem: die dorre landskap van hartseer en verlies, die voglose terrein van eensaamheid, die uitgestrekte vlaktes van onsekerheid en twyfel, die versengende hitte van persepsies en projeksies, en die snerpende koue van angs en vrees.
In die verlatenheid van ons selfopgelegde ballingskap voel ons die disconnect teenoor onsself, teenoor ons ewemens, en teenoor God.
Wat is dit wat ons so laat voel?
In die verhaal van Jesus se ‘versoeking in die woestyn’, soos Matteus (4:1-11), Markus (1:12-13) en Lukas (4:1-13) dit vertel, vind ons 'n allegorie wat diep resoneer met ons menslike ervaring. Hierdie gebeurtenis, wat onmiddellik na Jesus se doop plaasvind, hou tydlose lesse in oor die beproewings en versoekings wat in ons emosionele en geestelike landskappe woed.
Die woestyn, beide in Bybelse tye en in ons moderne konteks, simboliseer 'n tydperk van beproewing, onsekerheid, en isolasie. Jesus het veertig dae en nagte in die Judese woestyn gevas en fisiese swakheid en kwesbaarheid in die gesig gestaar. Dit was in hierdie dorre landskap dat die teëstander, wat dikwels as Satan uitgebeeld word, hom genader het met versoekings wat daarop gemik was om sy menslikheid uit te buit en sy Goddelike doel onder verdenking te plaas.
Vandag verstaan ons hierdie ‘teëstander, aanklaer, satan’ as die EGO.
That little speck in your brain telling you: I AM EVERYTHING.
Dis waar die versoekings gebore word — en wat die inhoud van die heel eerste verhaal in die Bybel is, as die slang (EGO) sê, “EET van die vrug van goed en kwaad!” en dan onmiddellik oorgaan in GUILT and SHAME as daar besef word hoe nakend (weerloos en kwesbaar) ons ego ons laat voel.
Die slang se versoeking was nie dat hulle moet steel, lieg, moor, of egbreek pleeg nie, maar om te dink hulle het God nie nodig nie.
Net soos Jesus met versoekings in die woestyn gekonfronteer is, worstel ons ook met innerlike konflikte en eksterne druk wat ons weglok van ons morele kompas.
Versoekings manifesteer in verskillende vorme, wat wissel van vlugtige begeertes tot aanhoudende obsessies en verlammende verslawings.
Of dit nou die aanloklikheid van materiële rykdom, die strewe na mag of die bevrediging van basiese begeertes is, hierdie versoekings verlei ons na geestelike woestyne waar ons standvastigheid, aanpasbaarheid, en uithouvermoë getoets word.
Jesus se reaksie op versoeking is ʼn lig en bron van inspirasie. Hy het elke versoeking met onwrikbare geloof oorkom deur te steun op die waarheid en wysheid van die Skrif en die krag van sy Goddelike konneksie.
Gaan ons met enige iets minder as dit regkom om ons versoekings die hoof te bied?
Kom ons praat Sondag oor ʼn paar van hierdie ‘VERSOEKINGS’ wat ons gevange hou in woestyne en ballingskap — kom ons praat oor ons vrese, ons twyfel, ons emosies van nie goed-genoeg nie, en die grootste vyand van ons geestelike lewe: self-verwerping.
Hoop om jou Sondag in ons in Sirkel te sien.
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.