Oases en Fonteine in die Woestyn II

Potgooi:

 

“Into the desert I go, to lose my mind and find my soul. It feels good to be lost in the right direction. Making my own oasis in the desert. Meet me under the stars.”
— John Muir —

Die afgelope Sondag het ek “die pap 'n bietjie dik aangemaak” soos my pa sou sê. In die oomblik, en die intensiteit van die onderwerp, was my dors in die geestelike woestyne van ons tyd net te oorweldigend.

Daarom belowe ek om dit die volgende paar Sondae ligter en meer prakties te hou sodat ons nie die fonteine en oases mis in ons haas om uit die ‘woestyn’ te kom nie.

Ons leef in ʼn wêreld wat dramaties verander het die laaste 30. Die grootste verandering is dat ons leef in ʼn onsigbare wêreld — die internet-wêreld — waar ons met mekaar kommunikeer sonder om mekaar te sien.

Ons het persoonlike verhoudings met mense wat net ʼn gesig is op Facebook of net ʼn naam met ʼn profile picture op WhatsApp. Ons deel inligting, en self intieme informasie via ʼn foon of rekenaar sonder om enige fisiese kontak met mense te hê.

Ons het almal verslaaf geraak aan ʼn wêreld wat ons nie sien nie. Ons spandeer ontsettend baie tyd aan onsself. Ons het behep geraak met onsself, in die mate dat ons dit ʼn ‘era van narcisme’ kan noem.

Die innerlike wêreld oorheers die fisiese werklikheid waarin ons leef. Daar het min oorgebly aan die buitekant wat ons interesseer, tensy ons dit aan die binnekant kry.

So het ons ʼn realiteit om ons geskep waar ons kyk maar nie sien nie, luister maar nie hoor nie, ʼn resep het maar nie proe nie, naby is maar nie voel nie. Ons is gewoon te veel in ons koppe met ʼn serebrale ervaring van God, my medemens, en myself.

Vir eeue lank word die woestyn gesien as ʼn metafoor vir die menslike ervaring van ʼn emosionele en geestelike wildernis. Die uitgestrekte, en oënskynlik onvrugbare landskap bring emosies van isolasie, leegheid, en ʼn stryd om oorlewing.

Daarbenewens simboliseer die woestyn ʼn reis van introspeksie, transformasie en geestelike vernuwing.

Die woestyn is ʼn plek van uiterstes — die skroeiende son bedags wat genadeloos ons stroop van elke druppel energie, en bibberende koue snags wat tot in ons beendere ons herinner aan ons weerloosheid.

Net so kan ons emosionele en geestelike wildernis oorweldigend voel, met oomblikke van intense hitte en koudheid in ons harte en siele. Dit is 'n plek waar ons ons diepste vrese, twyfel en onsekerhede konfronteer, en waar ons worstel met vrae van wat ons doel en betekenis is, en waar ons behoort.

Die woestyn weerspieël die ervaring van geestelike verlatenheid en emosionele eensaamheid, waar ons disconnected voel van God, van ander en van onsself. Soos swerwers in die woestyn, soek ons desperaat na tekens van lewe, na oases van hoop te midde van die barre landskap aan die binnekant.

Tog is die woestyn ook 'n plek waar die unieke skoonheid en stilte ons bring na oomblikke van diepgaande helderheid en waar ons profound insig ervaar. Gestroop van ons illusies, word ons gedwing om ons ware self te konfronteer, om ons diepste begeertes en verlangens in die oë te kyk. Dit is in die woestyn dat ons onverwagte bronne van krag, aanpasbaarheid en uithouvermoë ontdek.

Die verhaal van Jesus en die Samaritaanse vrou by die put, wat in die Johannes Evangelie voorkom, bied 'n treffende illustrasie van voeding en vervulling te midde van geestelike dors. Jesus, moeg van sy reis, sit by 'n put in Samaria, waar hy 'n Samaritaanse vrou teëkom wat water kom haal het. Ten spyte van sosiale en kulturele verskille, betrek Jesus haar in ʼn gesprek en bied haar “lewende water” aan wat haar geestelike dors vir ewig sal les.

Die Samaritaanse vrou, soos baie van ons, is op soek na iets om haar diepste verlangens, haar diepste dors, te bevredig. Jesus bied haar meer as net water uit die put aan; hy bied haar homself aan as die bron van ʼn lewe wat sin en betekenis het.

Wanneer Jesus vir die Samaritaanse vrou sê, “Elkeen wat van My drink, sal nooit weer dors kry nie” (Joh. 4:14), praat hy van 'n universele verlange na versadiging en heelheid.

Hy nooi ons uit om na hom toe te kom, om te drink uit die fontein van sy liefde en genade, en om ons ware bevrediging in hom te vind. Dit is 'n belofte van oorvloedige lewe, van vernuwing en herstel te midde van ons geestelike woestyn.

Elkeen van ons was al in ʼn geestelike woestyn, waar ons nie meer weet wie ons is en waarheen ons op pad is nie. Ons ken die emosionele wildernis waar ons verdwaal voel, honger en dors na die Waarheid van onsself, vir onsself.

Van tyd tot tyd staan ons by ʼn put waar ons in gesprek met iemand voel dat daar soveel meer is om voor te leef, en dat daar ten midde van al die sandduine in ons kop steeds ʼn oase is waar ons onthou hoe God by en in ons is.

Dit is ʼn keuse of ons daardie water gaan drink. Sal ons net proe of sal ons drink tot ons versadig is?

Dan en slegs dan sal ons werklik weet wat dit beteken om hierdie ou Psalm weer te bid:

“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly tot in lengte van dae.”
— Psalm 23

Hoop om jou Sondag in ons Sirkel te sien.

Soos altyd

 
Doen jouself 'n guns en kyk na hierdie uittreksel uit die TV-reeks, The Chosen:

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“My desert soul erupts with turquoise water, floods and cascades and waterfalls rushing in and around my rocky parts, pushing and reshaping and filling every hidden dark spot.”
― Kiersten White 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights