Oases en Fonteine in die Woestyn

Potgooi:

“If seeds waited for perfect conditions to grow,
there would be no plants in the desert.”
— Matshona Dhliwayo —

Die woestyn het nog altyd vir my ʼn sekere bekoring ingehou, en het ek al die voorreg gehad om tyd te spandeer in die Kalahari, Namib, en Sahara woestyn.

Op ʼn sekere manier voel ʼn mens vry, onbelemmerd deur enige van die beperkinge van ons menslike bestaan soos ons dit elke dag ervaar.

Geen paaie, geen geboue, geen shopping-centres, geen geraas. Niemand wat by ʼn till wag sodat jy iets moet betaal nie. Geen voorgee, geen innuendos, geen pretensie, en sonder enige verwagting.

In die woestyn is skemers kort asof die donker jou onverwags betrap. Die aande is ʼn diep donker pers wat ʼn onbeskryflike sterre-gordyn oor die uitspansel trek. Dit slaan jou asem weg as jy opkyk om te sien hoe miljoene sterre die hemele besprinkel. Ontelbaar in hul getalle en oorweldigend in hoe helder dit glinster.

ʼn Mens voel totaal oorrompel deur die Groot Misterie wat voor jou ontvou onder die koepel van ons Melkweg.

Daar besef ʼn mens hoekom soveel godsdienste gebore is in die woestyn. Daar is ʼn stilte wat jou gedagtes snoei tot daar net betekenis is… woorde is onnodig. Besef jy weer die oeroue waarheid: elke gesprek met of oor God begin met stilte.

“If the desert is holy, it is because it is a forgotten place that allows us to remember the sacred. Perhaps that is why every pilgrimage to the desert is a pilgrimage to the self. There is no place to hide and so we are found.”— Terry Tempest Williams

Dan kom die aand met sy snerpende koue, en ʼn mens wil vir so rukkie op die sand gaan lê wat vir nog ʼn tydjie die dag se hitte uitstraal. Deur die loop van die nag word dit nóg kouer en lank voor dagbreek is jy op met die hoop dat daar hitte in jou beendere sal kom as jy beweeg.

As die rooi gloed breek oor die horison is dit onmoontlik om te sien waar die duine begin en die hemel stop. Die lug is vars en skoon asof die woestyn jou kans gee om diep asem te haal, wetende dat die genadelose en uitdrogende hitte binnekort die laaste druppel energie uit jou murg gaan tap.

Dit is hoekom die woestyn-volkere almal nomade is. Jy móét beweeg want as jy te lank op een plek stilstaan, sal die son jou dood brand.

Dan is daar ook die helder weerkaatsing van die son op die ligkleurige sand wat soms pynlik vir jou oë is. Daar is nie eers ʼn bries om die versengende hitte af te koel nie, en jy asem daai warm bedompige lug in wat voel dit maak selfs jou bloed taai.

Jy weet daar gaan geen verligting wees totdat daai groot vuurbal weer stadig onder die land in gly en die koeligheid jou weer laat soek na jou mus en serp.

Wat ʼn paradoks is die woestyn nie? Niks maak sin nie. Alles maak sin.

Om jou lyk dit soos ʼn landskap op Mars, maar kyk mooi in die Kalahari en jy vind ʼn Appelblaar en Duiwelsklou, en die Herdersboom wat kos en medisyne is vir mens en dier.

In die Namib sal die Kanniedood jou wys waar kom sy naam vandaan, en die Ghaap sal vertel waarom Boesmans dit gebruik het om die honger te stil. Die Kokerboom en Nara-bos se water, en hoekom Lithops die “lewende klippe” van die woestyn genoem word.

Die woestyn, vir hulle wat wel luister, bring ʼn diep ontsag. Daar is ritme in die duine en verwondering oor hoe Lewe altyd weer sy pad vind. Elke put en oase is ʼn tempel.

“Water is vir die woestyn, wat wysheid is vir die siel” het ʼn Bedouin eendag vir my gesê.

Ons gaan hierdie maand gesels oor — Oases en Fonteine in die Woestyn.

Daar is ʼn sekere skoonheid in die grenslose geografie van ʼn woestyn maar die barheid van die landskap is ook ʼn herinnering aan die Psigografiese Woestyne waarin ons dikwels verkeer van veroordeling, bitterheid, spanning en verwerping.

Die stilte en afsondering van ʼn woestyn is baiemaal ʼn onthou hoe ons in Emosionele Woestyne is van eensaamheid, skuldgevoelens, spyt, en selfverwyt.

Maar dan is daar ook tye waar ons in die wurggreep van Geestelike Woestyne verkeer en soek na ʼn put of rusplek vir ons ongeloof (geloof in niks), gebrek aan toewyding, illusies oor 'n ‘separation’ tussen ons en God, en 'n disconnect met onsself en die mense die naaste aan ons.

As ʼn Koekemakranka kan blom in ʼn woestyn, is daar tog sekerlik in elkeen van ons die vermoë om te blom ongeag ons omstandighede. As jy kyk na die sand en hoe die ganse skepping opgesluit lê in ʼn enkele sandkorrel, dan word ons weer bewus van hoe ons die geleenthede vir vreugde en geluk deur ons vingers laat val.

Dieselfde kan gesê word van as jy ʼn pad bou in die woestyn en dit oorlaat aan homself sal die woestynsand dit heel insluk. Die lewe is dieselfde — as jy dit wat jy gebou het en na waarde ag nie instandhou nie sal die lewe dit verorber tot daar niks oor is nie.

Kom ons kyk Sondag na ʼn handvol maniere hoe ʼn mens die ‘woestyne’ kan herken en dat ons tye van onsekerheid, vrese, moedeloosheid, en twyfel juis ons nader bring aan onsself.

Soos in ʼn woestyn, is daar nêrens om weg te kruip nie. Ons moet die waarheid van onsself vir onsself kan erken voor ons daardie waarheid vir enige iemand anders gaan vertel of wys.

Hoop om jou Sondag by ons Oase te sien.

Met liefde, soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“A flower blooming in the desert proves to the world that adversity, no matter how great, can be overcome.”
― Matshona Dhliwayo 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights