Potgooi:
“Surrender isn’t about being passive; it’s about being open.”
— Judith Orloff —
So kom ons aan die einde van ons maand se gesprek oor hoe ons hierdie jaar kan ingaan met die GENOEGSAAMHEID van ʼn lewe in oorvloed.
Ons het gesels oor hoe ons ons doelwitte (goals) belyn met ons lewensdoel (true purpose). Ons het gepraat oor hoe belangrik dit is om te weet wat is die kernwaardes wat ons lewe inhoud en betekenis gee, en hoe om dit toe te pas in ons dag tot dag se lewe.
Vandag sluit ons af en staan vir ʼn oomblik stil by die rol wat ons ‘verwagtinge’ (expectations) speel en hoekom die krag van ‘oorgawe’ (surrender) so belangrik is.
Vanselfsprekend het ons sekere verwagtinge van onsself — ons wil groei en verbeter, ons wil onsself, én ander, behandel met respek, kindness, en menswaardigheid. Ons wil getrou bly aan ons lewensdoel selfs in moeilike tye. Ons wil ons fisiese, emosionele, en geestelike welsyn prioritiseer. Ons wil met meer dankbaarheid en waardering leef, en verantwoordelikheid vat vir ons aksies en reaksies.
Dit is gesonde verwagtinge wat waarde toevoeg tot ons menswees.
Wanneer ons verwagtinge lei tot perfeksionisme waar ons van onsself en ander verwag om foutloos alles, altyd reg te doen, trek ons verwagtinge skeef.
Dit lei gewoonlik daartoe dat ʼn mens vermoeid voel omdat jy alles self wil doen uit vrees vir teleurstelling. Onrealistiese doelwitte maak ons hipper krities op onsself, én ander, met veroordeling vir elke klein mislukking of fout.
Verwagtinge wat inspireer en motiveer, is oop vir die Lewe se vloei. Daar is ʼn ontvanklikheid om met oorgawe jou geloof, hoop, en liefde te stort in die verbetering van jou eie, én ander, se lewe.
Die uitdaging is om jou EGO uit ons verwagtinge te hou, want die EGO floreer op control — om van alles in beheer te wil wees. Dit vergelyk die hele tyd en is in ‘kompetisie’ met dit wat ander bereik of besit.
Die EGO weet niks van deursettingsvermoë en geduld nie en wil alles NÓÚ hê en doen, en verwag voortdurende erkenning en goedkeuring van ander.
Dit raak veral problematies as ons begin om ons verwagtinge op ander te projekteer want kort voor lank word daai verwagtinge, verpligtinge. Dan kom die verwyte en is ons ʼn flinke stap op pad na konflik.
Dit is nie altyd moontlik om in die oomblik jou EGO te tem nie, maar as ʼn mens bewus is daarvan, maak dit ʼn verskil en kan ʼn mens meer oplettend leef, en kies om anders te reageer.
Natuurlik kan ʼn mens jou behoeftes met ander kommunikeer —
By die werk kan jy vir jou span ʼn sekere teiken stel wat hulle die einde van die maand moet bereik. Vir jou kinders kan jy vra om te help met take in die huis. Met jou man/vrou kan jy die behoefte kommunikeer om meer kwaliteit tyd saam te spandeer.
Ek sê weer — gesonde verwagtinge gee vir ons rigting, definieer doelwitte, gee sin aan ons lewensdoel, en inspireer hoop.
Wanneer ons begin swaar dra aan verwagtinge is dit gewoonlik vanweë ʼn skuldgevoel dat ons nie aan ons hoë verwagtinge voldoen nie, of aanpasbaar is met die rigiede eise wat ons stel aan onsself en ander nie.
Nou is die vraag —
Wat se emosionele bagasie dra jy saam jou as gevolg van onvervulde verwagtinge?
Is jou verwagtinge werklik belyn met jou ‘values and purpose’ of is dit bloot om te voldoen aan die verwagtinge van ander mense?
“When you release expectations, you are free to enjoy things for what they are instead of what you think they should be.”
— Marianne Williamson
Met die jare het ek geleer om versigtig te wees met my verwagtinge en myself keer op keer gebring om ‘oor te gee’ aan ʼn plek van vrede en kalmte.
Daar is gewoon nie meer die WIL om te moet ‘hê’ nie, en slegs ʼn diep behoefte om te ‘wees’ — ek verwag niks en is dankbaar vir alles. Te veel in my verlede het my verwagtinge ʼn gevangenis geword, en om die vloei van die Lewe te aanvaar (embrace) vir wat dit is, maak dit moontlik om iets daaromtrent te doen.
‘Oorgawe’ is soos om asem te haal. Jy doen dit spontaan en van nature. Daar is geen inspanning, geen regte-of-verkeerde manier nie, net ʼn kalm in- en uitasem — wat ons leer om te ontvang en om te laat gaan.
‘Oorgawe’ is om te laat los aan ons begeerte om te beheer want dit lei tot vrees en die illusie dat ons nie genoeg het of is nie, met een of ander gebrek (gat) wat gevul moet word met eksterne goed.
Die emosionele goed waaraan ons so krampagtig vasklou — emosies van spyt, bitterheid, woede, verwyt, teleurstelling, onvergenoegd, en veroordeling — móét ons OORGEE om vry te kom van die ego se persepsies en projeksies.
Vir ons as Christene is vergiffenis ʼn vorm van ‘oorgawe’ en daarmee saam die vertroue in die Heilige Gees (i.e. die Teenwoordigheid van God) om ons te vat na ʼn plek van helderheid om met ʼn groter perspektief die regte keuses en besluite te maak.
Ek het nog nooit iets verloor in die proses nie — om die waarheid te sê, het elke ding wat ek in die verlede ‘oorgegee’ het na my teruggekom in die oorvloed van genoegsaamheid en innerlike vrede.
Kom sluit Sondag saam met ons die maand af as ons gaan praat oor die KRAG van ‘oorgawe’ en hoe ʼn mens dit sinchroniseer met ons behoeftes en verwagtinge.
Soos altyd
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.