Potgooi:
“Don’t wait for the perfect moment. Take the moment and make it perfect.”
— Zoey Sayward —
Een van die WhatsApp boodskappe wat ek ontvang het met goeie wense vir die Nuwe Jaar verwoord dit mooi —
Mag die son jou nooit skroei nie, en slegs warmte skenk in jou hart en mag jy geseënd voel as die reën op jou val;
As jy guns en gawes ontvang, neem dit met dankbaarheid en nederigheid;
As jy vriendskap ervaar, koester dit, en as jy liefde ervaar, vertroetel dit;
Mag jou bekers van geloof, hoop en liefde altyd gevul bly;
Mag die geskenke en lesse wat jy van die lewe ontvang, groter wees as dié wat met geld gekoop kan word.
Soos laas week genoem, is die woord wat ek hierdie jaar om my hart gaan weef: ‘abundance’ — i.e. om in die oorvloed van my menswees te gedy, en te floreer in die vervulling van 'n lewensvolheid.
1. Intellektuele Oorvloed
Dit is ʼn lewensingesteldheid van nuuskierigheid en verwondering, met ʼn verbeeldingryke belangstelling om te groei, en oop te wees vir nuwe idees.
Rolf Dobelli praat in sy boek ‘The Art of Thinking Clearly’ van —
“Embrace leaning as an ongoing journey, sharing knowledge freely, and recognising that there is always more to explore and understand.”
2. Emosionele Oorvloed
Dit is ʼn gesindheid wat dankbaarheid, vreugde, en vrygewigheid kultiveer. Dit is die vryheid om sonder perke lief te hê, om sonder huiwering te vergewe en om verhoudings diep te koester. Emosionele oorvloed gaan nie daaroor om nooit negatiewe emosies te ervaar nie, maar om te fokus op die vermoë om positief daarop te reageer.
3. Spirituele Oorvloed
In ʼn geestelike sin beteken ‘oorvloed’ om ʼn diep konneksie te voel met God, en om wat heilig is in alle aspekte van die lewe te erken, asook om te vertrou op die genoegsaamheid van liefde, innerlike vrede, en genade (grace).
Ek stem saam met Russel Brand as hy sê —
“Ons heg waarde aan als wat vlietend en tydelik is. Alles wat verganklik is, het ons heilig gemaak… en dit wat Heilig is, het ons ontheilig.”
Ons het Sondag na ʼn paar maniere gekyk hoe om ons wense, drome, hoop, en voornemens vir 2025 te verwesenlik:
Wat hierdie jaar vir jou gaan bring, hang alles af van wat jý na die jaar gaan bring. As ʼn mens terugkyk na die jaar wat verby is, is dit seker ons almal se voorneme om meer te fokus op dit wat regtig belangrik is — en nie so vasgevang te wees in goed wat in die konteks van ʼn jaar, of ʼn leeftyd, géén betekenis het of waarde toevoeg nie.
In ʼn gesprek oor ‘abundance’ moet ʼn mens seker net eers weer begin by ons kernwaardes as die fondasie van ‘authentic living’ en waarom dit ALLES te doen het met ons wense, drome, en aspirasies vir hierdie jaar.
Vir my, is kindness ononderhandelbaar en moet dit deurslag vind in my verhoudings met mense en hoe ek my werk doen — VERAL as daar spanning of onsekerheid is.
Dit is soveel makliker om besluite te neem as dit belyn is met ons waardes.
Verder vra dit om te kan onderskei tussen ‘needs and wants’ — daar is baie goed wat ons wil hê maar het ons dit nodig? Ons het baie materiële behoeftes maar bring dit werklik vervulling vir jou as mens?
In ʼn verbruiker-samelewing is ons geneig om ‘trends’ te jaag wat vir ʼn rukkie ons gelukkig maak en dan moet ons dit weer vervang met nuwe toeters en belle (gadgets).
Hierdie jaar gaan ek meer belê in die rykdom van betekenisvolle vriendskappe en die welvaart van waardes wat die siel voed en ons menswees verryk.
Ons elkeen se lewensreis is uniek en kom met ʼn skat van lewenservaring. Ons besluite moet geanker wees in ons groter doel (true purpose) en hoe ons elke dag waarde toevoeg tot ander se lewe.
Nie meer onsself vergelyk met ander nie, ook nie onsself moet verduidelik of verdedig net sodat iemand ons nie sal veroordeel nie. Om dit ʼn jaar te maak waar ‘abundance’ beteken: ek hét, en ek ís, GENOEG.
Kom ons kyk Sondag na ʼn handvol maniere hoe ons ons beplanning en doelwitte vir die jaar nuwe inhoud en betekenis kan gee vanuit ʼn perspektief dat ek niks van dié jaar verwag wat ek nie self bereid is om te gee nie.
Met liefde, soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.