Liefde bó vrees II

Potgooi:

“He who fears suffering already suffers from his fear.”― Michel de Montaigne —

“Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand.” het Louis Leipoldt geskryf.

Ons het laas week begin met ʼn inleiding oor die VRESE wat ons gebind en geboei hou in die dryfsand van angstigheid, vertwyfeling, en bekommernis. Dis eers as ons wakker word dat ons besef dat ons vrese was net ʼn nagmerrie wat selde, indien ooit, materialiseer.

As jy terugdink, kan jy nie eers onthou wat jou vrese was ʼn jaar gelede nie wat nog te sê 3 of 5 jaar vantevore. Intussen het ons dit sóveel energie gegee, soveel kosbare tyd gemors op illusies wat van alle waarheid ontbloot is.

Saam met soveel spesies in die diereryk is ons ‘vrees’ ook deel van ons oorlewingsdrang. Wanneer ons fisies in gevaar is, maak ons ‘vrees’ ons bedag daarop om op ʼn bepaalde manier daarop te reageer.

Ons almal ken die ‘veg-of-vlug’ reaksie — die enigste verskil vandag is die feit dat ons dit feitlik altyd net emosioneel doen. Ons het nie meer nodig om onsself fisies te beskerm nie, maar boy-oh-boy emosioneel gaan ons mekaar te lyf en verdedig onsself met woord-geweld. Dit alles omdat ons SÓ bang is, en voel ons het geen beheer oor ons onsekerheid nie.

Hoe dikwels hoor jy jouself vra: “Gaan ek 'n gek van myself maak; gaan dit ander se goedkeuring wegdra; sê nou maar hulle judge my as ek dit nie op hul manier doen nie?”

Kom ons staan hierdie week stil by twee van die grootste vrese wat ons het en hoe om ons gedagtes te verander daaroor sodat ons anders sal reageer as hierdie vrese ons beetpak.

  1. Vrees vir Mislukking

Ons moet verstaan hoekom ons dink dat ons teleurstellings en foute groter is as ons potensiaal en prestasies. Dit lei daartoe dat ons glo ons gaan verloor nog voor ons begin het.

  • Sosiale Druk: die samelewing plaas geweldige verwagtinge op ons om suksesvol te wees (hoe hulle sukses ook al definieer); die vrees om mense teleur te stel en om aan hulle verwagtinge te voldoen, lei tot angstigheid, vertwyfeling, en spanning.
  • Persoonlike Verwagtinge: ons stel sulke hoë (en soms onrealistiese) standaarde aan onsself wat lei tot perfeksionisme, en omdat jy dit nie kan volhou nie voel dit ons skiet tekort wat kole gooi op die vuur van teleurstelling.
  • Negatiewe Ervarings: miskien het ons êrens in die verlede die ontnugtering gehad dat nie alle drome materialiseer nie, of het misluk in iets wat ons aangepak het en nou staan ons lafhartig terug en wil geen risiko neem om iets te leer en uit te styg bo ons vrese nie.
  • Vergelyking met Ander: om jouself te vergelyk met ander se oënskynlike sukses, vererger die angstigheid; om nie aan hul vereistes te voldoen nie, laat ons ontoereikend voel.

Herdink wat jy as ‘mislukking’ beskou en of dit nie 'n oordeel op jouself is nie. Miskien is jou teleurstellings ʼn springplank na groei en verbetering. Stel haalbare doelwitte aan jouself en vermy die obsessie na perfeksie. Leer veerkragtigheid en omarm aanpasbaarheid.

  1. Vrees vir Verwerping

Dit gaan hand aan hand met ʼn vrees vir veroordeling.

Dit is die vrees, angs, besorgdheid oor hoe ander ons sien, en die gevolge van daardie persepsie. Ons almal is bang dat ons uitgesluit, verneder, en gekritiseer gaan word as ons nie aan die verwagtinge van ander voldoen nie.

  • Aannames: hoe dikwels maak ons aannames oor wat ander van ons dink sonder om te weet of dit werklik so is; genade ons, ons doen dieselfde en verstik soms aan ons vooroordele.
  • Konneksie: ons het 'n passievolle behoefte om te behoort (a longing for belonging) — hoe dikwels is die wanhopige kreet van die jong Tiemie in P.G. du Plessis se drama “Siener in die Suburbs” ook ons eie versugting as hy sê, “'n Mens wil nie soos 'n hond vrek nie. Jy wil van geweet wees. O, ek wil so graag van geweet wees.”
  • Self-Aanvaarding: in plaas van verval in die vrese vir verwerping, vra jouself of jy werklik jouself aanvaar; ken jy jou vermoëns en kan jy jouself bring tot verandering as jy swik of val; wat het jy geleer uit situasies wat jou geskoei en gesnoei het?
  • Self-Vertroue: om die hele tyd besorg te wees met die aanvaarding en bevestiging van ander, maak dat jy twyfel in jou eie waardes en vermoëns; as ons net wil leef in die goedkeuring (validation) van ander, weet ons nie later meer wie ons is of wat ons voel nie.

Ons MÓÉT die spel breek van nie ‘goed-genoeg’ voel nie. Vat ʼn klippie en trek ʼn sirkel om jou — in daardie sirkel behandel jy jouself met liefde, aanvaarding, respek, deernis, en menswaardigheid.

Enige persoon wat in jou sirkel stap, word met dieselfde waardes behandel en jy vra niks minder van hulle nie. Indien iemand jou nie met liefde, aanvaarding, respek, deernis, en menswaardigheid behandel nie, vra jy hom/haar om asseblief jou sirkel te verlaat.

Ons noem dit: boundaries.

Vanselfsprekend is daar plek om na mekaar luister. Natuurlik is daar ʼn behoefte om ons gedagtes en gevoelens met ander te deel — maar kom ons doen dit sonder ʼn vrees vir veroordeling en/of verwerping.

Uiteraard van die saak, berus hierdie beginsels ook op ons spirituele waardes.

“Want God het ons nie 'n gees van vrees gegee nie, maar van liefde, krag en gesonde verstand.”— 2 Timoteus 1:7 —

Hoor ons weer die vermaning van Paulus:

“Probeer ek die guns van mense verkry, of van God? Of probeer ek mense tevrede stel? As ek steeds probeer om mense te behaag, sou ek nie 'n dienaar van Christus wees nie.”— Galasiërs 1:10 —

Kom ons tem ons vrese. Kom ons kies liefde bo ons vrees. Want as ons nie in beheer is van ons vrese nie, sal ons vrese ons beheer.

Soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Each of us must confront our own fears, must come face to face with them. How we handle our fears will determine where we go with the rest of our lives. To experience adventure or to be limited by the fear of it.”― Judy Blume 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights