“All sins are attempts to fill voids.”
— Simone Weil —
‘Sonde’ is die goed wat ons doen wat maak dat ons ons doel mis (i.e. our true purpose). Ons almal ervaar van tyd tot tyd daai gevoel van leegheid aan die binnekant, en word oorrompel deur vrae oor wat ons waarde is en wat werklik betekenis het in ons lewe.
Ons probeer daai ‘gat’ vul met ambisie en materiële sukses. Ander probeer dit vul met ʼn intieme verhouding selfs al is daai verhouding toksies en dsfunksioneel, of soms met ongesonde gewoontes wat tydelike verligting bring maar eintlik die gat net groter maak.
Vandag se twee gelykenisse laat die meeste mense ongemaklik voel, want dit vat ons om te dink oor daai ‘gat aan die binnekant’ en om verantwoordelikheid te vat vir dit waarmee ons daai leemte probeer vul. Ons lees hierdie gelykenisse as ‘dreigemente’ en mis die boodskap dat dit ʼn ‘uitnodiging’ is.
Uitnodiging na 'n Banket
— Lukas 14:15-24 —
'n Man het 'n groot feesmaal voorberei en baie genooi. Toe die maaltyd gereed was, het hy die genooides laat weet: ‘Kom, want alles is nou gereed!’
Almal het begin verskonings maak. Die een het 'n stuk grond gekoop, die ander een vyf paar osse, en nog een wou eers gaan honeymoon hou. Die man het kwaad geword en vir sy dienaar gesê om na die strate en stegies van die stad te gaan om die armes, weerloses, blindes en kreupeles na die feesmaal te bring.
Die dienaar sê toe dat daar nog plek is, waarop die heer sê: ‘Gaan uit na die paaie, tot op die grens, en dring daarop aan dat almal kom, sodat my huis vol kan word. Want ek sê vir julle, nie een van hulle wat genooi was, sal my maaltyd proe nie.’
Die lewe is vol geleenthede. Sommige word gemis en ander gryp ons met albei hande vas. Het jy al ooit gestop en jouself gevra hoekom ons “NEE!” sê vir spirituele toewyding wat innerlike groei, vreugde, en vervulling bring? Is ons bang ons mis iets anders wat lekkerder is? Is ons TE besig, of stel ons uit want ons leef in die illusie dat ons al die tyd in die wêreld het?
Die uitnodiging is na ʼn feesmaal waar ons soos eregaste aansit, ongeag wie jy is of waar jy vandaan kom, en waar ons met waardigheid behandel word.
‘A-once-in-a-lifetime opportunity’ waar ons in oorvloed kan geniet van alles wat goed en mooi en lief is. Niemand se CV word by die deur gevra nie. Almal is welkom — al wat jy moet doen is om die uitnodiging te aanvaar.
Wat Jesus sê, is dat God se uitnodiging is universeel. Dit is allesinsluitend. Daar is geen prys om te betaal, daar is niks wat jy eers moet doen of verander nie. Van ons sou seker beswaar gemaak het teen sommige wat opgedaag het, maar weet jy wat — dit is hoe God se liefdevolle goedheid werk.
Ons raak ontsteld as ons besef dat sosiale norme, status, en aansien is NIE God se prioriteite nie. Trouens, elke keer wat ek ʼn lyn wou trek tussen ons en hulle, moes ek weer en weer besef dat Jesus altyd aan die anderkant van die lyn is.
As ons eerlik is met onsself sal ons erken dat ons dikwels God se uitnodiging ignoreer vir ʼn dieper konneksie, spirituele groei, betekenisvolle verhoudings, en ʼn bereidwilligheid om uit te reik na hulle wat fisies, emosioneel, en geestelik behoeftig, gekwes, en gestrem is.
Die boodskap is duidelik: géén verskonings meer nie — hou op uitstel vir 'n later wat nooit gaan kom nie.
Die Ryk Dwaas
— Lukas 12:13-21 —
Jesus sê vir die skare: “Pas op en wees op julle hoede vir enige gierigheid, want die lewe van 'n mens bestaan nie in die oorvloed van sy besittings nie.”
Dan vertel hy die gelykenis van 'n ryk man met 'n rekord oes. Sy skure is te klein en besluit om dit groter te bou. Dan sê hy vir homself: “Siel, jy het baie goed bymekaar gemaak vir baie jare; rus, drink, en wees vrolik.”
Maar God sê vir hom: “Jou dwaas! Vannag sal hulle jou siel van jou eis; en wat jy bymekaar gemaak het, wie sal dit kry?” Dan sluit Jesus af deur te sê: “So is hy wat vir homself rykdom vergaar en nie ryk is in God nie.”
Dink jy God het dit teen mense wat welgesteld is? Hoegenaamd nie! Om die waarheid te sê weet ek, want ek sien dit, hoe baie mense in my vriendekring en in ons Sirkel wat vermoënd is, omgee en betrokke is by projekte wat ʼn reuse verskil maak in minderbevoorregtes se lewe. Hulle gee uit hul oorvloed en bou skure vir hulle wat hulp nodig het, sonder om enige iets terug te verwag.
Die Ryk Dwaas dink dat ʼn groot oes en nog groter skure sal vir hom vrede bring.
Hierdie gelykenis ontbloot die illusie dat sekuriteit lê in ons genoegens, en dat ons net gelukkig kan wees as ons oorloop van oorgenoeg bymekaar gemaak.
Hoe arm moet ʼn man nie wees nie as geld die enigste ding is wat hy het?
Ons leef in ʼn wêreld met ʼn hebsug vir mag, sukses, rykdom, en beheer, maar Jesus se woorde herinner ons dat ons rentmeesters is, en nie eienaars nie. Soos Koos du Plessis sing, “Wat ons is, is net genade. Wat ons het, is net geleen.”
Wanneer ons lewe gereduseer word tot wat ons kan opgaar, het ons dit reeds uit die oog verloor wat werklik saak maak. Die Ryk Dwaas se fout was nie dat hy ryk was nie, maar dat sy besittings HOM besit het.
Beide gelykenisse gaan oor misplaaste prioriteite.
Ons werk só hard om vir ons ʼn toekoms te koop, maar vergeet om vandag (hier en nou) te leef in die oorvloed van alles wat geld nie kan koop nie.
Jesus vra vir ʼn radikale verandering om jou fokus te skuif van wat ons HET na wie ons IS. Die Siel word nie gevoed deur op te gaar nie, maar deur te gee. Wat gaan jy agter los — a legacy of barns, or a life that was truly lived in the fulness of Divine purpose and grace?
Die Feesmaal is gereed, waarom wil jy eers ʼn skuur bou?
Met liefde, soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.