Potgooi:
“To answer a calling is to say yes to the holy longing at the centre of your soul.”
— Christine Valters Paintner —
Die lewe is ʼn reis, nie ʼn bestemming nie.
Ons leef in momente. Elke dag word gevul met een tree voor die ander. Ons probeer sin maak van ons voetspore, en om betekenis te vind in elke seisoen van ons lewe.
Ons het geleer om die stilte en introspeksie van Winter te omarm. Ons ken die hoop van Lente, en weet van dans in die vreugde van Somer. Ons herken die seisoen van Herfs waar ons ‘laat gaan’ aan die blare om plek te maak vir ʼn nuwe lewe.
Soms waag ons dit op die pieke van berge, en ander kere is ons in valleie langs waters van rus. Ons ken die droogte van ʼn emosionele en geestelike woestyn, en onthou dan weer hoe ʼn pad ons raakgeloop het na die Bron van inspirasie en die Fontein van Lewende Water.
Die belangrikste vraag op ons reis is: wat is my lewensroeping (calling) en wat is my lewensdoel (purpose) en hoe manifesteer dit in elke aspek van my menswees?
Om te weet wat jou ‘roeping’ is, is nie iets wat altyd duidelik of gemaklik in jou skoot kom lê nie. Jy moet bereid wees om diep te delf, die waarheid van jouself vir jouself kan sê, en met geestelike volwassenheid op die roepstem reageer.
Helaas is daar baie van ons wat deur die lewe gaan en net drie akkoorde kan speel op die klavier of kitaar — of dit in ons gesinne of by die werk, in ons huwelik of geestelike lewe is, al wat ons ken, is A, D, en E.
Vir ander is die lewe ʼn plakboek van foto’s — tyd gevries in ʼn raampie. Met die druk van ʼn knoppie word ʼn oomblik vasgevang en vergeet wat voor of na die tyd gebeur het. Daar is geen besef dat die lewe ʼn verfdoek is nie waar ons met kwas in die hand laag op laag kleur en betekenis gee aan ons lewe.
Hoe is dit dat so baie mense nie weet wat is, of reageer op hul ‘roeping’ nie?
Miskien omdat ons moderne lewe net te gefragmenteerd is. Ons word in verskillende rigtings getrek by die werk, in ons familie- en vriendekring. Elke dag is met móét-doene oorlaai en ons voel konstant onder druk of oorweldig.
Daar is nie tyd vir stilte nie. Vrae soos “Wie is ek, en waarom is ek hier?” is vervang met, “Wat is my behoeftes, en hoe kom ek my verpligtinge na?”
Verder prioritiseer ons samelewing sukses bo wat betekenis het in die lewe. Ons is geleer om ʼn werk te kry, geld te maak, ʼn familie te begin, en voorsiening te maak vir jou ou-dag asof dit al is waaroor die lewe gaan.
Oral sien ons dit — purpose is replaced by performance.
Ons prioriteite is so skeef en krom getrek, dat ons glad nie meer weet waarna die hart verlang en die siel hunker nie.
In sommige gemeenskappe, veral dié wat sosio-ekonomies swaarkry, word mense nie geleer om te droom of potensiaal te ontsluit nie. Hulle fokus op oorlewing, nie vervulling nie.
Vir ander het hul ontnugtering met georganiseerde godsdiens, en trauma van emosionele pyn uit hul verlede, gemaak dat hulle hul verwondering in die lewe en in God en daarmee saam die groter doel van hul eie lewe, verloor het.
Om te vra wat jou lewensroeping is, maak mense ongemaklik, want wie kan nog eerlik sê dat hulle hul bliss gevind het en hul passie uitleef? Selfs al weet ons wat dit is, is ons bang vir wat dit gaan vra. Ons vrese is groter as ons geloof.
Waar daar ʼn ‘disconnect’ met jouself en met God ervaar word, raak ʼn mens doof vir die stem van die siel. So word die lewe net ʼn pad. Jy hou in jou baan, en tel die kilometers (die jare!) af.
Ons leef, maar het geen lewe nie. Ons dink ons doen want ons het kiekies van bestemmings wat besoek is, en ʼn streepsak vol goeters wat ons bereik en bymekaargemaak het… maar saans, as dit stil en donker raak, wonder ons, “Wat maak ek hier?”
Soos laas week gesê: every journey begins with a calling — om wakker te word uit ons slaap, om op te staan uit jou gemakstoel, en dit vir jouself uit te klaar wat jou lewensdoel is en dit onverskrokke doen, want DÍT gee die lewe betekenis!
Howard Thurman vra, “What makes you come alive?” Die antwoord is waar die reis na ons lewensdoel begin.
Dit gaan nie oor die pad of destinasie nie, maar om die beste te maak van elke oomblik. Dit gaan oor groei as mens, die waarde wat ons toevoeg tot ander se lewe, die diepte van ons verhoudings, om betekenis te vind in die gewonigheid van elke dag, en om die beste weergawe van jou Self te wees.
Kom ons sit Sondag ons gesprek voort oor Lesse van 'n Lewensreis, en dan staan ons stil by die volgende handvol padtekens vir ʼn betekenisvolle reis:
Met hierdie VYF in die een hand gaan ons dan in die ander hand kyk na VYF maniere hoe om hierop te reageer om ons lewensroeping en doel te vind wat ons lewe betekenis gee.
Die lewe is ʼn reis, dit is nie ʼn bestemming nie. HOE jy dit doen, is in jóú hande.
Soos altyd, met liefde.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.