Lesse van 'n Lewensreis

Potgooi:

“I shall be telling this with a sigh
Somewhere ages and ages hence:
Two roads diverged in a wood,
and I —

I took the one less travelled by,
And that has made all the difference.”
— Robert Frost —

Robert Frost skryf hierdie gedig in 1916 vir sy vriend Edward Thomas wat hom onnodig bekommer het oor onbenullighede. Met ʼn stukkie ironie wil hy sê dat die lewe soms onseker is, maar om geen besluit te neem nie, is ook ʼn besluit. As ʼn mens sukkel om eenvoudige keuses te maak, of vashaak by verkeerde besluite wat in die verlede gemaak is, leer ʼn mens niks en kom jy nêrens.

In 1978 skryf M. Scott Peck sy bekende boek, ‘The Road Less Travelled’ oor die spirituele impak van ons keuses en wat dit beteken om ʼn betekenisvolle lewe te hê. Vir Scott Peck lei “the road less travelled” na geestelike groei en is dit ʼn pad wat gestap word met dissipline, verantwoordelikheid, en waarheid.

Nie een van ons onthou die dag toe ons gebore is, en niemand weet wanneer ons gaan sterf nie, en tog vergeet die meeste mense om vandag te LEEF.

Ons vergeet, die lewe is ʼn reis. Nie ʼn klaskamer wat lesse wil leer oor wat bereik moet word nie, maar ʼn reis om te ervaar en te groei — in order to become!

Dit gaan met ander woorde nie oor WAT jy het nie, maar oor WIE jy is. Dit gaan nie oor die goeters wat ons bymekaarmaak nie, maar wie jy is as mens en wat die emosionele en spirituele waarde is wat jy toevoeg tot jou eie, en ander se lewe.

Maar, die meeste van ons is te bang om die lewe te sien as ʼn REIS, want ons wil weet wat en waar die BESTEMMING is. Ons wil in beheer wees van die kaart, en vind dit angswekkend dat die lewe onvoorspelbaar is.

Ons sogenaamde ‘SEKERHEID’ skep die illusie van veiligheid. Ons glo dat as ons weet wat môre en oormôre gaan gebeur, is ons in beheer. Daarom sien ek dikwels hoe mense se lewe uitmekaarval as hul gekonfronteer word met siekte, werksverlies, of ʼn huwelik wat in dryfsand beland het.

Ons vergeet dat dié reis vra geloof, deursettingsvermoë, en aanpasbaarheid.

Ons kulturele kondisionering skep ʼn samelewing wat ‘destination-driven’ is. Van kleinsaf hoor ons: kry ʼn werk, ʼn huis, ʼn huwelik, ʼn aftree-plan. Op skool word ons geleer om te presteer, en nie hoe om jou lewensdoel te vind nie.

Scott Peck sê, This programming devalues the process and glorifies the outcome.”

Wat beteken hierdie “to become” — dit verwys nie na "doen meer, verdien meer, bereik meer" nie, maar na innerlike transformasie en siel-diepte.

“Who am I becoming as I live, work, love, and age?” vra Scott Peck.

Die antwoord word gevind in ons deugsaamheid, wysheid, en authenticity — om te groei in die essensie van wie ons is, dit wat waar en eg is van onsself.

Dit is maklik om ons prestasies op te noem en te sê wat ons al bereik het in die lewe. Dit is alles eksterne doelwitte wat bereik word — grade, inkomste, titels, en sukses. Grotendeels om aanvaarding van ander te kry. Meestal besig om te vergelyk. Altyd in kompetisie met mekaar.

Jesus het gesê, “Alvorens die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, kan dit nie vrug dra nie...” (Johannes 12:24). Dit is ʼn metafoor vir ‘spiritual becoming’ en daarom is Carl Jung reg as hy sê:

 "The privilege of a lifetime is to become who you truly are."

Die meeste mense weet nie waarna jy verwys as jy praat van jou Ware Self nie. Ons is gewoon te verstrengel in ons Vals Self — wat net kan bestaan deur wat ons het, wat ons bereik, en om ten alle tye in beheer te wees.

Scott Peck dring daarop aan dat ons lewensreis net betekenis het as ons die slaggate en terugslae van die lewe in die gesig kan kyk. Dit nie vermy of ontken nie, maar daarmee kan sit en iets daaruit leer, en sodoende groei.

As die lewe ʼn reis is, beteken dit nie ons moet êrens arriveer nie. Ons is altyd in beweging, soepel om aan te pas, buigsaam in die winde van verandering. Die ‘destinasie fantasie’ leef in ʼn valse verwagting wat sê, “As ek my bestemming bereik, dán sal ek vrede hê. As ek my doelwit bereik, dán sal ek gelukkig wees.”

In my beskeie mening is dit ʼn baie oppervlakkige manier van lewe. Daar is selde enige emosionele en spirituele diepte as ambisie die dryfkrag van ons besluite bepaal.

Robert Frost voel dat die lewe gevorm word deur keuses, en sommige besluite het eers betekenis as ons daarna terug kyk. As dit net gaan oor sekerheid en veiligheid sal ons dit nooit buite ons gemaksone waag nie. Ons stagneer en so word die lewe eentonig… ons het ʼn bietjie van alles, en baie van niks.

Vir Scott Peck is die lewe soms moeilik, maar die eindelose moontlikhede en potensiaal lê in die verantwoordelikheid wat ons vat, en die betekenis wat ons vind in ons besluite. Ons maak nie net keuses wat maklik is of omdat ons ʼn waarborg het wat die uiteinde gaan wees nie.

Vat soms ʼn pad wat jou uitdaag om ʼn nuwe dimensie van jou lewe te ontsluit. Kies soms ʼn pad, nie omdat dit bekend is nie, maar omdat dit jou sal bring na ʼn plek wat jou siel se honger voed en jou hart se dors sal les.

My eie lewe lê vol van sulke afdraaipaadjies waar selfs slegte ervarings daartoe aanleiding gegee het om te wees presies waar ek nou is.

Daarsonder sou ek maar net gedobber het van een bestemming na die ander en die wonderlike lewenslesse en avontuur gemis het wat ek nou het.

Sonder huiwering kan ek vandag sê —

“I took the one less travelled by,
And that made all the difference.”

Kom sluit by ons aan die maand as ons gesels oor — Lesse van 'n Lewensreis.

Ons gaan Sondag afskop met: Elke spirituele reis begin met 'n oproep uit wat bekend en gemaklik is na iets groter, dieper, en meer omvangryk.

Ons gaan kyk na die Roepstem wat vir Abraham sê, “Gaan… na 'n land wat Ek jou sal wys.” (Genesis 12:1-4) en Jesus wat vir ʼn handvol vissermanne sê, “Los julle nette en volg My.” (Markus 1:16-20)

Die lewe begin nie met antwoorde nie, maar met ʼn “JA!” 

Met liefde, soos altyd.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Life is a journey that must be travelled no matter how bad the roads and accommodations.
― Oliver Goldsmith 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights