“Jesus het gesê:
Hy wat alles weet
maar homself nie ken nie,
weet niks.”
— Evangelie van Thomas (67) —
Kom ons begin met so stukkie filosofie. In antieke Griekeland was daar ʼn maxim wat gesê het: “KNOW THYSELF” — alle waarheid, alle wysheid, alle insig, alle kennis, alle verstaan begin met: “om jouself te ken.”
Hoe ‘ken ons onsself’ in terme van ons persoonlikheid, geaardheid, potensiaal, en individualiteit? Wel, die eerste manier hoe ons begin om ‘onsself te ken’ is om te verstaan dat ons nie onsself ken nie. Ons dink ons doen. Ons leef immers met onsself in ons se eie velle. Om eerlik genoeg met onsself te wees dat ek nie myself ken nie vra totale nederigheid ... en nederigheid begin met ʼn herkenning en dan erkenning van ons onkunde (ignorance).
Ons ‘onkunde’ (ignorance) is tweërlei — aan die eenkant dink ons dat ons onsself ken, maar moet dan (h)erken dat ons nie van alles in beheer is nie, ons maak foute (wonde), ons is nie baie gedissiplineerd nie, ons sukkel om slegte gewoontes af te leer, en ons reageer op ʼn sekere manier op situasies wetende dit is nie tot enige iemand se voordeel nie. Aan die anderkant, soos laas week bespreek, het ons ʼn onkunde oor ons potensiaal en eindelose moontlikhede, ons talente en deugde, ons bydrae wat ons maak, asook die sin en betekenis wat ons gee aan my eie, maar ook die lewe van ander.
Om jouself te ‘ken’ begin, soos al dikwels gesê, om die waarheid van jouself vir jouself te sê. Dit beteken dat ʼn mens jouself dophou soos wat ʼn mens ʼn vreemdeling dophou. Vra jouself — hoekom reageer ek op dié manier; waarom dink ek die goed wat ek dink, en waarom sê ek die goed wat ek dink; maak dit my beter of slegter voel, sterker of swakker; kom dit uit die ego (skuldgevoelens, vrees, projeksie) of kom dit uit die siel (vergiffenis, liefde, refleksie); is dit die waarheid of ʼn verskansde (geparfumeerde) leuen?
Alle mense het die potensiaal vir chaos en vernietiging, maar ook die potensiaal vir herstel en heling, rehabilitasie en restourasie. Om jouself te ‘ken’ vra ook — wat WIL ek doen; wat interesseer my en wil ek spontaan verken; wat is die goed wat ek bly uitstel (procrastinate) en hoekom doen ek dit; wat is ek bereid om te leer en nog belangriker, wat is ek bereid om te ontleer?
Hierdie vrae is ʼn goeie begin in die proses van “KNOW THYSELF”
“Jesus het gesê:
Hy wat alles weet
maar homself nie ken nie,
weet niks.”
— Evangelie van Thomas (67) —
Kom ons draai na die sfeer van ons spiritualiteit. Alhoewel daar miljoene mense is wat bogenoemde vrae sinvol kan antwoord en die betekenis van “KNOW THYSELF” vind sonder enige vorm van spiritualiteit, was ek nog nooit in staat om dit te doen nie. Vir my as Christen is die lewe en inhoud van Jesus se leer en invloed nog altyd die plek waar die seun van die mens (human consciousness) en seun van God (divine consciousness) ontmoet. My verhouding met God is deurslaggewend vir my verstaan van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, en selfbeheersing (Gal 5:22). Daarin is Jesus my muse en my bron van inspirasie ... en waarheen daardie rabbi van liefde en vergiffenis ook al gaan, gaan ek saam.
Ten slotte — as ʼn Afrikaan is die beginsels van UBUNTU (ek is, omdat jy is ... ek ken myself in en deur jou) so deel van my bestaan soos die Afrika-son. Die inspirasie van Rabbi Yeshua van Nasaret leer my die essensiële waardes van vergiffenis, medelye, en medemenslikheid en Ubuntu wys my hoe. Om myself te ken — werklik te ken — word dan my UHURU (vryheid) om die lewe te ervaar in al sy skakerings sodat ek, in die woorde van prof. Johan Degenaar, sal onthou dat ons die soet én die suur, die goed én die sleg van die lewe nodig het om van die intellek ʼn siel te maak.
Vir my, en dit is maar net vir myself, kan ek net myself ken in my ken van God en kan ek net werklik God ken as ek myself ken.
Die laaste woord behoort aan Neale Donald Walsh as hy die uitnodiging van God herken, erken, ken —
“I am the wind which rustles your hair. I am the sun which warms your body. I am the rain which dances on your face. I am the smell of flowers in the air, and I am the flowers which send their fragrance upward. I am the air which carries the fragrance. I am the beginning of your first thought. I am the end of you last. I am the idea which sparked you most brilliant moment. I am the glory of your fulfilment. I am the feeling which fuelled the most loving thing you ever did. I am the part of you which yearns for that feeling again and again. Whatever works for you, whatever makes it happen for you – whatever ritual, ceremony, demonstration, meditation, thought, song, word or action it takes to reconnect with me – do this …
… do this, in remembrance of me!”
Vandag sal ek met hierdie Liefde op die voete van engele dans. Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Soos altyd
“We have to dare to be ourselves,
however frightening or strange
that self may prove to be.”
― May Sarton ―
Sondae eredienste om 10 vm in die Kapel van Kolping
Kontak Ronel (083.631.14.68) vir meer inligting en om te bespreek
ter wille van die nasionale reëls en regulasies