Kies 'n Groter Godsbeeld IV

“God dwells within you, as you.”― Elizabeth Gilbert —

So kom ons aan die einde van hierdie maand se gesprek oor die tema: wat is jou GODSBEELD — wie, wat, waar, is God vir jou?

Soos reeds ʼn paar keer die laaste paar weke gesê, is dit ʼn belangrike vraag omdat jou Godsbeeld bepaal hoe jy dink oor jouself, jou ewemens, en die wêreld waarin jy leef.

Ons het ook genoem dat dit ʼn intiem persoonlike vraag is omdat nie twee mense dit wat hul beskryf en beleef as ‘God’ op dieselfde manier glo en ervaar nie.

Dit maak nie iemand ‘reg’ of ‘verkeerd’ nie, dit maak dit net ANDERS — en voor ons nie plek maak vir ‘anders’ nie, moet ons aanvaar dat ons Godsbeeld bloot ʼn projeksie is van ons eie behoeftes en verwagtinge van God.

Vir my persoonlik sal God altyd groter wees as enige dogma of godsdiens. Vir my is die Goddelike (the Divine) meer soos ʼn Groot Simfonie. Met ons skamele 88 note op ʼn klavier probeer ons dit vasvang in elke moontlike genre denkbaar.

Stel jou voor dat God komponeer met 88 duisend, of 88 miljoen note… hoe kan my brein dit ooit begryp?

Sal die klavier vir die klarinet, die saxofoon vir die kitaar sê, “Jy het dit mis!” — sal Beethoven vir Lady Gaga, of Elvis vir Pavarotti sê, “Jy weet nie waaroor dit gaan nie!”

Dit kan tog nie wees dat daar net één resep, net één lied, net één venster is waarin en waardeur ons God ervaar nie?

Selfs in ons Christen-tradisie is daar uiteenlopende ervarings oor God. Daar is teenstrydige interpretasies van dieselfde Waarheid. Dit maak God nie minder nie, maar juis meer.

Kom ek vat net een voorbeeld: in Hebreeus (soos Duits, Frans, en vele andere) is daar manlike, vroulike, en onsydige woorde.

Hoe verbreed dit ons verstaan van God as ons hoor dat die volgende eienskappe almal vroulike woorde is —

  • geloof (amunah), hoop (tikvah), liefde (ahavah), wysheid (gokma), waarheid (emet), kennis (da’at), begrip / om te verstaan (binah), beauty (tipharah), eerbied (yi’rah), teenwoordigheid van God (shekhinah), gees (ru’ah), asem (neshamah), siel (nephesh).

As God net gesien word as derde persoon, manlik, enkelvoud, is dit moeilik om ons verstaan en ervaar van God te vergroot en te verdiep.

God is geen man, God is geen vrou. God is nie wit of swart nie. God behoort aan geen godsdiens nie. God is geen wet of boek nie. God het geen vorm, definisie, of dimensie nie.

JA, in dit alles sien ons die refleksie van God maar God is altyd meer. ALTYD.

Na die afgelope Sondag se byeenkoms by Neo-Spektrum kry ek ʼn e-pos van iemand wat die eerste keer daar was. Met haar toestemming deel ek dit graag in vandag se Webjoernaal omrede sy dit so mooi verwoord —

“Dis lente in die Kaap, so vir my is God tans die Van Gogh-geel van die Canola-lande reg rondom my.

Hy is in die sagte geruis van die Kaapse Dokter.

Die amber van die skemeraand.

Hy is die doudruppel in die kelk van die Varkore wat die veld vol staan.

Die wit skuim van brekende branders.

Hy’s in my kleinkind se pofferhandjie wat om my vinger vou.

Hy’s in die geur van vars gebak in die kombuis van Jéan Restaurant

In die ghloeb-ghloeb geluid wat die wynbottel maak as ons skink.

Hy’s die lagplooitjies om jou geliefde se oë — ek onthou dit nog…

Hy’s die ystervuis van verlange wat die hart met 'n stewige (somtyds pynlike) handdruk voorstel aan Aanvaarding en sy vrou, Vrede.

Hy’s die donker stilte van die middernag.

Hy’s die motreën, die mis voor die oggendson.

Hy’s Google Maps wat my lei na Genoegdoening, net duskant Huppelkind se kuil vol soet water wat nooit opdroog nie.

Hy is in die “kindness” wat nog bestaan.

Vir die bedelaar is hy die halfgeëete Big Mac en koue dun chips by die verkeerslig.

Hy is in die sand wat deur my uurglas loop.

Hy’s reguit rye wingerd wat my wêreld definieer.

Die wip in my stap en ritmiese rym van 'n beautiful gedig.

Hy’s die fluweel in Sinatra se stem.

Die rooi radyse in my groentetuin.

Die reuk van uie en knoffel wat braai en Blouberg se liggies wat blink tot hier by my op die plaas.

Hy’s die knetter en die vlam van my vuur.

Hy’s die helder gelag van vriende wat kuier en in die reuk van vars gesnyde gras.

Hy’s ook die rumoerige gedruis van 'n skare en hul Mexican Wave.

Hy’s die realiteit van die feit dat die yang van my yin nie meer met my is nie — nie meer ís nie.

Die geluid van my skoene op die keistene in nou straatjies van eeue-oue dorpies wat ek so graag ontdek.

Hy’s die wete dat ek keuses het en die warmte wat waarheid bring.”

— Karin de Villiers

Dit lyk, dit klink vir my soos ʼn Godsbeeld wat allesinsluitend en allesomvattend is, en wat God vind in die gewonigheid van elke dag.

Met so Godsbeeld kan ek myself vereenselwig.

Kom ons sluit Sondag ons tema af met die boek JOB in die een hand en Leonard Cohen in die ander.

Met liefde. Net liefde.Liefde genoeg.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“O master of my breath, create a man around these nostrils, and gather my heart toward the gravity of your name. Form me again with an utterance and open my mouth with your praise. There is no life but in affirming you, no world to walk on but the one which you create.”
―  Leonard Cohen 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights