“I do not feel obliged to believe that the same God who has endowed us with sense, reason, and intellect has intended us to forgo their use.”
― Galileo Galilei —Die vraag in hierdie maand se tema is: wat is jou GODSBEELD — dis nie ʼn vraag oor wat jy glo of weet van Jesus nie, ook nie wat jy verstaan van die Bybel, of wat jy in Sondagskool geleer is nie, maar ʼn vraag oor God self.
Dit is ʼn belangrike vraag omdat jou Godsbeeld bepaal hoe jy dink oor jouself, jou ewemens, en die wêreld waarin jy leef. Dit is ʼn intiem persoonlike vraag omdat nie twee mense dit wat hul beskryf en beleef as ‘God’ op dieselfde manier glo en ervaar nie... en dit tussen mense wat aan dieselfde godsdiens, dieselfde tradisie, dieselfde kultuur behoort.
Hoe sal ons hierdie Godsbeeld beskryf aan hulle wat NIE dieselfde Godsdiens het nie, of aan ʼn totaal ander kultuur behoort — wat nog te sê aan mense wat geen Godsbegrip het nie? Hoe verduidelik jy die smaak van waatlemoen vir iemand wat nog nooit waatlemoen geëet het nie?
Ons kan nie eers ʼn beeld vorm van iemand wat reg voor ons staan nie want ons koppe is so geprop met vooropgestelde idees. Ons dink ons weet iets van iemand anders omdat ons dit op internet lees, of van iemand hoor wat dit van iemand anders gehoor het.
Vir solank as wat ek kan onthou, is daar meestal een of twee reaksies as ek vir iemand vreemd sê dat ek ʼn teoloog, ʼn leraar en geestelike leier is van ʼn Christen Gemeenskap — die eerste reaksie is gewoonlik dat ek ʼn grap maak, wat gevolg word met dat dit gewoon nie waar is nie. As ek vra hoekom dit só vreemd is, sal ek hoor, “Jy lyk nie soos ʼn ‘predikant’ nie; jy klink nie soos ʼn ‘dominee’ nie; jy glo nie soos die ‘kerk’ leer nie!”
Hoe moet ʼn mens lyk, klink, en glo om die toelatingseksamen deur te kom, en waarom is dit só moeilik om ‘anders’ te omarm? Genade, en dit is van iemand wat reg voor jou staan… wat jy kan uitvra en eersterangs beter kan leer ken. Nou wil ons praat oor wie en wat God is en iemand anders oortuig om presies dieselfde te glo.
Dit is my vermoede dat die oomblik wanneer ons dink ons het God uitgepluis in netjies lyne en definisies, het ons nie meer met ‘God’ te doen nie maar met ʼn projeksie van wie ons wil hê God moet wees.
“My religion consists of a humble admiration of the illimitable superior spirit who reveals himself in the slight details we are able to perceive with our frail and feeble mind.” ― Albert Einstein
Ons verstaan nie eers hoe ʼn mier iets kan optel wat 20 keer sy eie gewig is nie; ons verstaan nie hoe swaeltjies 10,000 km twee keer per jaar kan vlieg na dieselfde nes nie; ons weet die aarde lê 23.5° grade op haar as, maar weet nie dat dit direk verantwoordelik is vir lewe op dié planeet nie; en ons verstaan nie hoe alle dolfyne eintlik walvisse is maar nie alle walvisse is dolfyne nie.
As ons DÍT nie eers verstaan nie, hoe op dees aarde is ons só seker daarvan dat ons manier van glo is die regte, beste, en enigste manier om te glo? Wat gaan gebeur as ons erken dat van ons ‘ou’ maniere van glo en dink oor God nie langer werk nie, en dat daar sommige goed oor God is wat ons nie verstaan nie en as ons dit sou verstaan, sal ALLES verander?
Daarom wil ek myself oopstel vir ʼn nuwe verstaan van God wat my totale uitkyk op myself, my ewemens, en die kosmos sal verander. Hierdie ‘nuwe verstaan’ kan nie, mag nie staties wees nie want ons as mens is nie gegiet in ʼn geut nie. Ons hou aan om vrae te vra, nuuskierig te wees en om elke dag iets nuuts te ontdek wat ons brein rek om dinge beter te verstaan. So ‘nuwe verstaan’ bring ons siel, lyf, en denke in harmonie om vir ʼn oomblik ʼn refleksie te wees van die Waarheid.
Waarheid is ALTYD waar — dit was 13.8 biljoen jaar terug waar, en sal tot in ewigheid WAAR wees… my interpretasie en ervaring daarvan verander, pas aan, ontdek, en groei konstant. Goddank!
Soos vantevore gesê, die verhale van ons Heilige Boeke vorm ʼn basis waarin ons die antieke mens se soeke na ʼn verstaan van God hoor en herken. Maar vir my, en dis maar net vir mý, vind ek God ook in die spasies tussen woorde, in die stiltes tussen akkoorde en note, en in die verf tussen die kwas en verfdoek.
Niemand, nie een van ons, se manier van glo kan hoegenaamd maak dat God aanstoot neem, geaffronteerd voel, en dan woedend daarop reageer deur ons te verwerp nie.
Die Griekse woord wat vertaal word met die ‘WIL’ van God is θέλημα (theléma) — soos daardie heerlike rooiwyn hier in die Kaap — en hierdie woord beteken: the splendour, desire, and delight of God. To do the WILL of God, is to become the splendour, desire, and delight of God.
Hoor ek dit in die versugting van Jesaja en in die poësie van Johannes Evangelie? VERSEKER!
Sien ek iets van my eie soeke na ʼn sinvolle Godsbeeld in ʼn hardkoppige Jona en ʼn buierige Paulus? ABSOLUUT!
Maar — ek hoor God ook in die Adagio van Beethoven se Vyfde Klavier Konsert. Ek sien God ook in Van Gogh se ‘Starry Night’. Ek hoor die Stem van God ook in die woorde van Amy-Jill Levine, Ram Dass, Wayne Dyer, Marianne Williamson, en Rabbi Jonathan Sacks. Ek verstaan die Groot Misterie soveel beter in die YouTube video’s van Prof Brian Cox en Carl Sagan.
But that’s just me. Vir jou kan dit totaal anders wees, en dit is okay.
Ek glo in God. Ek glo geloof maak my minder plat.
Kom ons praat Sondag oor hoe ons ons Godsbeeld met ons Mensbeeld versoen.
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.