“You can safely assume you've created God in your own image when it turns out that God hates all the same people you do.”
― Anne Lamott —Ons sit ons gesprek voort oor die tema: vergroot jou GODSBEELD — hoe sal jy ‘God’ beskryf aan iemand wat nog nooit van ‘God’ gehoor het nie?
Mag ek net weer sê dat ek nie die eienaar van die waarheid is nie en my manier van glo en ervaar is nie die regte of beter manier nie… net ʼn ander manier.
Ons het laas week gevra: gestel jy sit op ʼn eiland en jy het geen Bybel in die hand en geen kerk nie, wat sal jy vir ʼn vreemdeling sê oor dit wat jy glo en hoe jy God ervaar?
Glo my, ek vat die boeke van die Bybel baie ernstig op. Ek lees en bestudeer dit aandagtig en spandeer ure per week om gedeeltes vir myself uit die Hebreeus en Grieks te vertaal omdat die oorspronklike taal dit net soveel beter sê.
Die laaste 20 jaar het ek ook ʼn intense studie gedoen oor die geskiedenis van die Bybel en verstaan baie goed wat die invloed van die Sumeriese, Kanaänitiese, Egiptiese, en Babiloniese godsdienste was op die vroeëre Judaïsme, en die latere Griekse en Romeinse godsdienste op die Christendom.
Daarbenewens is die evolusie van ʼn Godsbeeld baie duidelik deur die ganse Bybel. Wat begin met ʼn beeld van God wat soos ʼn stamhoof (tribal chief) opdrag gee om volksmoord te pleeg tot by die beeld van God se allesinsluitende liefde; van ʼn Godsbeeld wat berus op die Lex Talionis (oog vir ʼn oog) tot by jy moet jou vyande liefhê; van ʼn God wie se liefdevolle goedheid net geken en ontvang kon word as jy die wet nakom tot by ʼn Godsbeeld waar NIKS ons van die liefde van God kan skei nie.
Vir vandag gaan ek jou los om hieroor na te dink as ek DRIE verse met jou deel. Wie weet, miskien herinner dit jou aan die Stem wat jy hoor in jou stiltes, en die Taal van jou Hart wat jy nie eers bewus van is alvorens jy mooi begin luister nie!
♥ Die eerste een kom uit die Evangelie van Thomas wat deel is van die Nag Hammadi geskrifte en wat sterk resoneer met Lukas 17:20-21 —
Jesus het gesê: “as julle leiers vir julle sê: kyk die Koninkryk van God is in die hemel sal die voëls van die hemel julle vooruitgaan.
As hulle sê: ‘dis in die see’ sal die visse julle vooruitgaan. Maar die Koninkryk van God is IN julle en rondom julle. Wanneer jy die twee één maak — die innerlike die uiterlike en die uiterlike soos die innerlike en dit wat bo is, dieselfde as onder, dan sal julle ingaan (in die Koninkryk). Ek is die Lig wat bo alles is, Ek is die alles, die alles kom van My en alles behoort aan My. Split jy 'n stuk hout — Ek is daar; lig jy 'n klip, sal jy My daar kry.”
♥ Die tweede vers kom uit ʼn lied van Herman van Veen wat dit mooi verwoord —
God is die wind
God is die wind my kind Wat deur jou hare waaiGod is die son
God is die son my kind Wat jou gesig verwarmGod is geen byl nie
God is geen wet nie God is geen standbeeld nie God is geen oordeel nieGod is 'n vlok
God is 'n sneeuvlok Wat op jou hand smeltGod is 'n woord
God is 'n naam Wat in jou hart woon God is 'n soenGod is gratis
♥ Die laaste een is ʼn gedig van André Letoit (a.k.a. Koos Kombuis) en hiermee volstaan ek vir vandag —
ek dood, ek kom by hemelse poorte, ek klop aan relings
ek sien petrus vroetel met bos sleutels ek vra meneer god tuis? petrus mompel ek geloofsoortuigings? invul op pienk vorm drievoud ek sê ek nie seker nie, ek my katkisasietoets geslaag destyds in erfurthuis ek trek daarna na hillbrow, ek skree in pinksterkerke ek hande-in-die-lug ek gooi wagtorings uit woonstel, ek glo wederkoms antichris hel engele ek na weskoppies, ek skisofreen, ek roomskatoliek anglikaan ek studeer filosofie, ek séances, ek orals god alleen weet, meneer god petrus krap kop glimlag dan, sluit oop, gaan maar binne god nie godsdienstig, god liefde
Mag die res van die week met ʼn duisend stemme, op ʼn duisend maniere, in ʼn duisend plekke vir jou ʼn manifestasie wees van God se teenwoordigheid.
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.