“The beginning of love is to let those we love be perfectly themselves, and not to twist them to fit our own image. Otherwise, we love only the reflection of ourselves we find in them.” —Thomas Merton
Desember — en Boney M blêr (weer) in die winkelsentrums waar plastiek dennebome, met watte wat soos sneeu moet lyk terwyl dit 36°C buite is, ons herinner wat als verkeerd is met ons verbruikersmentaliteit.
Kersfees — wanneer ons (weer) onthou dat liefde weeg meer as goud, en is meer werd as al die geskenke onder ʼn boom; ʼn seisoen van welwillendheid en toegeneentheid in die laaste maand van die jaar waar die meeste mense tradisioneel met vakansie gaan en laat los aan als waaraan ons swaar gedra het die jaar, terwyl ons die beste en mooiste van dié jaar in ons rugsak pak vir die jaar wat voorlê ...
... maar hierdie jaar is alles anders! Ek weet nie of ek moet sug met ʼn “Dank God” of ʼn “Hallelujah!” moet sing nie, want 2020 het net soveel meer gevat as wat dit gegee het. Hierdie Kersfees gaan geboorte moet gee aan ʼn nuwe bewuswording van wat dit beteken om aandagtig te lewe.
“What if Christmas, he thought,
doesn’t come from a store.
What if Christmas … perhaps …
means a little bit more!”
— Dr. Seuss in ‘How the Grinch Stole Christmas’
So paar Sondae terug het ons gepraat oor Ken Wilber se vier fases van spirituele groei — Clean Up (ons voorskrifte, win-lose modelle, wat ons dink is reg en verkeerd, goed en sleg); Grow Up (waardes, deugde, boundaries, identiteit); Wake Up (‘transformasie’ meer as ‘transaksie’; inklusief bo eksklusief; eenheid en versoening bo verwydering en skeiding); Show Up (make a difference, walk the talk, live mindful and have a meaningful life).
Ons gaan dié jaar afsluit en oor hierdie vier komponente van spirituele groei gesels en na elkeen kyk deur die bril van LIEFDE — wat is liefde; uit watter fakulteit van ʼn mens se hart en gedagtes kom die liefde; waarom verwar ons behoeftes en verwagtinge met liefde; hoe kan ons liefde in elke faset van ons menswees kweek, koester, en kultiveer; en hoe vloei die Goddelike liefde in en deur ons menslike liefde?
Tik die woord LOVE in Google en jy slaan 12 biljoen skakels in 0.5 sekondes. Verbysterend!
Daar is geen twyfel dat LIEFDE die een ding is waarna almal soek, waarvoor almal leef, waaroor alles gaan, en waardeur ons sin en betekenis vind. Ongeag jou taal, kultuur of tradisie, almal van ons wil liefhê en liefgehê word.
As ons gesprek begin met CLEAN UP dan is daar ʼn paar goed wat ons net eers vir onsself moet uitklaar oor liefde — daar is nie ʼn Christen-manier, Islam-, Joodse of Hindu-manier van liefde nie. Liefde is liefde is liefde en al manifesteer ons dit anders teenoor my kind as teenoor my vrou, en demonstreer ons dit anders teenoor ʼn ouer as teenoor ʼn vreemdeling, bly liefde LIEFDE in elke vorm, definisie, en dimensie daarvan. Of jy man of vrou, gay of straight, wit of swart, ryk of arm is, soek en vind ons liefde op dieselfde manier.
Liefde is die oortuiging dat ek is genoeg en ek het genoeg. Liefde is ʼn dapperheid om die gedeelte van my wat slordig, gekompliseerd, en nie Instagram-perfek is nie met iemand anders te kan deel sonder vrees vir verwerping. Liefde is die spasie van toevlug en troos, gerusstelling en groei. Liefde word nie geweeg of gemeet nie, en daarom gee liefde sonder om iets terug te verwag.
Ja, die lewe is soms turbulent en ʼn warrelwind. Ja, die lewe is ʼn tuimeltrein tussen uitbundig lag en hartverskeurende trane, maar die liefde, die liefde is ʼn kalmte en ʼn gemoedsrus ten spyte van, desondanks, nieteenstaande die drama van elke dag.
♥ LOVE IS ... doing good beautifully!
Die afwesigheid van liefde (want liefde het nie ʼn teenoorgestelde nie) is vrees. Ons haat en kwaad, ons jaloesie en afsydigheid, ons verwyt en afgunstigheid word gebore uit vrees — vrees dat ek nie genoeg het of goed genoeg is nie.
Die insig (waarheid): Liefde is ʼn keuse. Die uitsig (wysheid): Om altyd, in alle omstandighede, liefde te kies bo vrees.
Wanneer ons die besluit neem vir CLEAN UP is dit belangrik om Brené Brown se woorde te onthou —
“Love comes when manipulation stops; when you think more about the other person than about his or her reactions to you. When you dare to reveal yourself fully. When you dare to be vulnerable. Love is not something we give or get; it is something that we nurture and grow, a connection that can only be cultivated between two people when it exists within each one of them—we can only love others as much as we love ourselves.”
Ons het géén idee wat beteken dit om vir onsself lief te wees nie en is van kleinsaf geleer dat dit egosentries is om vir jouself lief te wees omdat ons liefde (siel-denke) verwar met vrees (ego-denke). Ons gaan soek dan liefde by iemand anders sodat ons geliefd kan voel, en as s/hy dit nie doen soos ons wil hê nie dan sing ons: "Love Hurts" ...
Die hartseerste is dat ons dit ook met God doen — ons dink ook God se liefde werk met voorwaardes en verpligtinge, en dat God se liefde kom met ʼn agenda en verwagting. Dit maak van God ʼn karikatuur.
Kom sluit Sondag by ons aan in ʼn poging om te probeer sin maak van hierdie jaar as ons ons hart, kop, en siel skoon maak.
Tot dan, mag die Liefde wat in en deur jou vloei maar nie van jou is nie sigbaar wees in elke aksie en reaksie.
Soos altyd Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Sondae eredienste om 10 vm in die Kapel van Kolping
Ons doen nie meer besprekings nie
en dit is first-come-first-served ... ALMAL is welkom.
Ons vra wel dat jy steeds met 'n masker sal kom,
steeds afstand hou, en steeds hande was.