Jesus — Opstanding en Lewe II

7 April 2021

“We live and die;
Christ died and lived!”

― John Stott —

Die ‘opstanding’ van Jesus (i.e. anastasis and awakening of Jesus) is vir elke Christen die hoeksteen van ʼn God- en wêreldbeskouing wat ʼn hele nuwe perspektief bied op wat LEWE beteken. Die simboliese taal van die kruisiging is die dood van die ou paradigma, en die opstanding is ʼn ander manier van dink oor mý lewe in die algemeen en dié LEWE (i.e. God) in besonder.

Twintig jaar gelede het ʼn predikant byna bewoë vir my gesê, “As Jesus se fisiese liggaam nie opgestaan het uit die dood nie, wat is daar dan om te glo in of oor Jesus?”

Met gerusstelling het ek hom verseker dat ek geen spanning ervaar met sy geloof wat geborge lê in die fisiese liggaam van Jesus nie. As die opstanding van Jesus se biologiese liggaam vir hom die alfa en omega van sy geloof is, dan het ek steeds respek vir sy interpretasie van die 'opstanding'.

My geloof in Jesus hang nie af van ʼn fisiologiese opstanding nie. Dit lê geanker in sy teenwoordigheid wat ek elke dag ervaar in ʼn duisend maniere op ʼn duisend plekke. Dat hy aan my verskyn in die gewonigheid van elke dag waar hy vra dat ek saam met hom brood sal breek en hom sal onthou in elke gebaar van liefde.

Die Dominee het my verseker van sy HOOP dat ek my sal bekeer en vertrek met die BELOFTE om vir my te bid.

Twee dekades later is ek meer as ooit oortuig dat my geloof, hoop, en liefde in God is ten spyte van die dood. Die ‘opstanding en lewe’ van Jesus is ʼn daaglikse manifestasie van die feit dat om in Christus te leef, is om in God te leef.

Nieteenstaande my eie sterwe, wat so seker soos hierdie letters op ʼn skerm is, glo ek dat dood nie die laaste woord is nie en dat ek sal lewe selfs al sterf ek (Johannes 11:26).

Desondanks die feit dat my liggaam op ʼn dag nie meer sal bestaan nie, kies ek om die ewigheid in elke oomblik van die dag te ondervind. Ek wil die volheid van lewe VANDAG beleef. Ek wil HEMEL vandag ervaar. Ek wil bewus wees van die TEENWOORDIGHEID van God in elke aksie en reaksie, vandag.

Ons tema vir die maand is dan ook — Die Opstanding en Lewe van Jesus — en moet ons ter wille van hulle wat nie die afgelope Sondag in ons Sirkel was nie die ʼn raamwerk gee.

Laat ons begin met ʼn tydlyn van die Bybelboeke. Die briewe van Paulus is geskryf die naaste aan Jesus se leeftyd. Hy skryf tussen 51 en 64AD, wat 17 tot 30 jaar na sy ‘Damaskus-ervaring’ was. Markus is geskryf tussen 70 en 72AD, toe Matteus (82-85AD), dan Lukas (99-93AD) en laastens Johannes Evangelie (95-110AD). Dit is tussen 40 en 80 jaar ná die dood van Jesus.

Die opstanding en verskyning van Jesus volgens die Evangelies was nooit bedoel om ʼn biografiese geskiedenis te wees nie — in other words, the original purpose was not to tell us what actually happened, but to interpret the meaning of what happened.

Paulus maak nêrens melding oor die graf of die vroue wat Jesus gesien het nie. Sy lys van mense aan wie Jesus verskyn is wel interessant dat hy onder andere sê, ‘… Jesus het aan die twaalf verskyn’ terwyl die Evangelies sê, ‘… Jesus het aan die elf verskyn.”

Markus sê dat ʼn man, (nie Jesus nie) sê vir die vroue by die graf dat Jesus aan die dissipels in Galilea (7 tot 10 dae reis van Jerusalem) sal verskyn.

Matteus weerspreek Markus en sê dat die vroue wel vir Jesus by die graf gesien het, en bevestig dan ook dat die dissipels Jesus in Galilea sal sien.

Hierdie verskyning van Jesus was iemand wat beide getransformeer en verheerlik is en nie ʼn liggaam was wat geresussiteer is nie.

Lukas sê dat die vroue by die graf sien twee mans wie se klere soos helder lig gegloei het. Die vroue gaan na die dissipels en vertel wat hul ervaar het. Die dissipels sê hul praat nonsens en net Petrus gaan kyk vir homself. Lukas sê Jesus verskyn in Jerusalem aan twee mans op pad Emmaus toe is. Nie een van die twee erken hom nie.

Johannes borduur verder dat die dissipels kom kyk en die graf leeg gesien het. Net die vroue bly agter en sien twee engele, en dan verskyn Jesus self aan hulle, maar ook hulle erken hom nie en dink dit is die tuinier.

As Jesus die Vrydag teen 6pm begrawe is en hy verskyn aan die vroue teen 6am op die Sondagoggend dan is dit 36 uur later en NIE drie dae later nie. Maar as ons die DRIE DAE verstaan van sononder Vrydag (6pm) tot sonsopkoms Saterdag (6am) tot sononder Saterdag (6pm) tot sonsopkoms Sondag (6am) dan verstaan ons dat dit ʼn liturgiese verwysing is — met ander woorde, deel van ʼn 'drie-fase' erediens wat die volgeling van Jesus in die tempel gevier het.

Hoe is dit moontlik dat die Evangelies so dramaties van mekaar verskil oor wie die vroue gesien en waar Jesus aan sy dissipels verskyn het of wil die outeurs iets anders sê —

  • “For Paul, resurrection clearly didn’t mean being resuscitated back into the life of this world. It meant rather being raised into the life of God.” — John Shelby Spong
  • “In this first described appearance of Jesus to the disciples, the Jesus who appears is the already ascended, glorified Lord from heaven, who comes to them out of the sky. This is more a vision of the triumphant Son of Man than it is a narrative about a resurrected body!” — Marcus Borg

Die dissipels het ʼn ingrypende ervaring met Jesus gehad ná sy dood. Die verskyning van Jesus was ʼn volledige manifestasie van God se teenwoordigheid wat deur hul vrees gebreek het. Hul sig is verander na insig.

Die heerlikheid en verwondering wat hul ervaar het in Jesus wat aan hul verskyn het, het (letterlik) alles in ʼn ander lig geplaas. Die enigste taal wat hul gehad het om hierdie ervaring te beskryf was: opstanding, wedergeboorte, transformasie = resurrection.

Wat beteken dit vir jou …?

Kom ons kyk eerskomende Sondag wat Paulus en die vier Evangelies spesifiek sê oor die ‘Opstanding en Lewe’ van Jesus. Saam vleg die skrywers ʼn formidabele tapisserie wat min van ons in sy geheel sien.

DÍT is die opstanding. DÍT is die Christus-ervaring. DÍT is ʼn lewe in Christus.

Met liefde

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Easter says, 
you can put truth in a grave,
but it won't stay there.
You can nail it to a cross,
wrap it in winding sheets
and shut it up in a tomb,
but it will rise!”

― Clarence W. Hall 

 

Nuwe Sirkel-Flits is uit ... plus 'n paar ander belangrike skakels om te besoek:

 

Neo-Spektrum Byeenkomste

Elke Sondag om 10h00
Kolping Kapel
7 Biccard Straat
Durbanville

Die eerste 50 wat kom
kry 'n sitplek

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights