Autumn is the mellower season,
and what we lose in flowers
we more than gain in fruits.”
― Samuel Butler —
Soos laas week genoem, Herfs is my gunsteling seisoen. Miskien vanweë die feit dat my lewe nog altyd meer Herfs as enige ander seisoen was. Vir die grootste gedeelte meestal ‘tussen-in’ … voortdurend tussen ʼn somer van uitbundigheid en ʼn winter van spaarsamigheid.
Vermoedelik is dit dan ook die rede waarom my lewe geweef is in nostalgie — ʼn verlange na dit wat was en wat sal wees — die intermezzo van Herfs wat meer te doen het met herinneringe as met seisoene ...
... en Herfs weet iets moet verander … en Herfs vra: is ek bereid om wat was, te laat gaan?
Soos ʼn mens ouer word, is daar meer en meer dinge wat ons moet te laat gaan om plek te maak vir brille en pille en die skelet se grille.
Kom ons gesels hierdie maand oor ʼn paar goed in ʼn mens se lewe wat nodig is om te laat gaan voor die Winter op ons toeslaan met sy kouefront en storms.
1. Laat gaan aan veroordeling
Face it, we are extremely judgmental — teenoor onsself en ander. Tot ʼn mens die dag besef dat die veroordeling waarmee ons ander weeg en meet, is eintlik net ʼn projeksie van die mate wat ons onsself kondemneer. Natuurlik kan ons van mekaar verskil. Natuurlik kan ʼn mens ʼn sekere opinie hê oor iets maar om myself of iemand te veroordeel, vertroebel ons vermoë om te onderskei tussen wat is sinvol en wat is onsin.
2. Laat gaan aan spyt en selfverwyt
Ons almal maak foute en moet met ons wonde saamleef, maar dit kan tog nie jou gemoed en gesindheid vir vandag bepaal nie. Dink daaroor — elke vorm van emosionele pyn is as gevolg van ʼn skuldgevoel — wat nie beteken jy is ‘skuldig’ nie! Ons dra swaar aan al ons skuldgevoelens, en is deurweek van spyt en selfverwyt. Let go, let God.
3. Laat gaan aan vrees vir die onbekende
Om versigtig te wees, is ʼn goeie eienskap. Om noulettend te wees in ons besluite en matig in ons aksies én reaksies is ʼn deug — maar om deur vrees rondgeslinger te word, het geen sin nie en maak jou fisies en psigies siek. Bowenal, liefde en vrees kan nie in dieselfde huis woon nie. (1 Joh 4:18)
4. Laat gaan aan ʼn wit-en-swart mentaliteit
Om te dink en te leef in die ekstreem gaan nooit jou gelukkig maak of vreugde bring nie. Kyk om jou — die lewe is VOL kleur en nie twee mense sien blou of purper op dieselfde manier nie. Maak oop jou gordyne en sien die lewe se reënboog kleure, en laat God se bontkleed van genade jou lewe klee.
5. Laat gaan aan om als te wil beheer
Om als en almal in jou lewe te wil beheer, maak jou moeg en oud voor jou tyd. Eintlik is elke vorm van ‘beheer’ net ʼn ontkenning van ons eie wond. Ons ruk en pluk aan ander wat ons nie in onsself wil regruk en afpluk nie. Laat die lewe toe om spontaan te wees. Delegeer van jou verantwoordelikhede. Aanvaar mense vir wie en wat hulle is. Laat die lewe toe om jou van tyd tot tyd te verras. Leer om te ontvang, met grasie en waardering.
6. Laat gaan aan obsessies
Vir party is dit kos en vir ander is dit koop. Vir sommige is dit die lyf en vir ander is dit geld. Ons hele advertensie-media wil aan jou iets verkoop … nog iets aan jou afsmeer. Nog ʼn illusie van iets wat vir jou ‘perfeksie’ sal gee. Besnoei jou tyd op sosiale media en wees versigtig wat jy deur jou oë en ore toelaat om jou brein te besoedel. Bemoei jou met ʼn beter weergawe van jouself en nie die imperfeksie van mense se handel en wandel nie.
7. Laat gaan aan verwagtinge
Ons almal droom. Ons almal het wense vir onsself en vir ons geliefdes. Ons luister na advies en is nie oorsensitief vir teregwysing nie. Maar om te pendel tussen behoeftes en verwagtinge maak dat ons ons doel mis. Laat los die verwagtinge want dit sal elke verhouding om jou breek. Vermy die doolhof van ander se projeksies, en pasop vir die dryfsand van jou eie persepsies.
Laat die Herfs jou wys hoe bevrydend dit is om te laat gaan aan die goed waaraan ons krampagtig vasklou. Snoei jou heinings, hark jou blare, skoffel jou beddings, en maak seker jou leivore is oop vir die winterreëns.
— HOE …?
“Let all bitterness and anger and rage and clamour and slander be put away from you, along with all malice. Be kind to one another, tender-hearted, and forgive one another, as God in Christ forgave you.” — Ephesians 4:31-32
Dit is meer as genoeg vir vandag.
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
― N.P. van Wyk Louw ―
Elke Sondag om 10h00
Kolping Kapel
7 Biccard Straat
Durbanville
Die eerste 50 wat kom
kry 'n sitplek