Potgooi:
“Success is not the key to happiness. Happiness is the key to success. If you love what you are doing, you will be successful.”
— Albert Schweitzer —
Dikwels hoor ons mense sê, ‘Hy is so geseënd om so suksesvol te wees,’ of ‘kyk haar mooi huis, haar werk, haar kinders — what a blessing!’
Is dit regtig wat 'om geseënd te wees' beteken?
In ons moderne samelewing, het ‘seëninge’ sinoniem geword met materiële voorspoed: rykdom, status, en admirasie.
Hierdie welvaart-kultuur is diep ingebed in ons prestasie-gebaseerde samelewing waar ons van kleinsaf hoor — meer is beter, welvaart gee vir jou waarde, en seëninge is 'n beloning van hoe goed jy is.
Hierdie gesindheid het helaas ook in ons Spiritualiteit gesypel waar daar veral uit Amerika ʼn “prosperity gospel” gepredik word wat sê, “As jy geseënd is, sal jy gesond, welgesteld, en suksesvol wees.”
As sukses ʼn teken is van seëninge, dan is teleurstelling, mislukking, siekte, armoede, en hartseer ʼn teken van wat? Vloek? Gebrek aan geloof? God wat ongelukkig is met jou?
Dit is teologies oppervlakkig om so 'n verwronge Godsbeeld voor te hou asof God sommige beloon en ander ignoreer op grond van eksterne prestasies.
In Matteus 5:45 lees ek dat God se liefde onvoorwaardelik en universeel is —
“Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.”
God se seëninge is nie in die ‘reward and punishment’-besigheid nie. Dit is vir mý om my prioriteite agtermekaar te kry, myself reg te ruk, en my kernwaardes belyn met die WIL van God — en wat is die WIL van God?
Om vir mekaar lief te wees met aanvaarding, respek, en deernis. ʼn Vreugde kultiveer wat nie afhang van omstandighede nie. Om ten alle tye vrede te kies bo konflik. Om meer geduld met onsself en ander te hê. Om liefdevol en vriendelik te wees. Waar ons goed is vir mekaar, getrou en betroubaar is. Om nederig te wees in ons voorspoed, en selfbeheersing te kweek sodat ons kan onderskei tussen reg en verkeerd.
Dít is die vrugte wat maak dat ons die seëninge van God raaksien en ervaar. Baie mense is werklik geseënd, sonder om noodwendig suksesvol te wees volgens die wêreld se maatstaf. Sommige oënskynlik suksesvolle mense leef ʼn diep onvervulde lewe, kronies angstig, en deurweek van gebroke verhoudings.
Om bewus te wees van die seëninge is nie om beter as ander te wees nie. En waar ons soms sukkel om die seëninge te sien, beteken nie ek is sleg en moet in skaamte verval nie.
Mens kan net praat van die seëninge om suksesvol te wees as daar met dankbaarheid geleef word, nie deur ons besittings besit word nie en leer om te deel sodat ons seëninge sal oorloop na ander.
Dieselfde kan gesê word van hulle wat min besit maar geseënd is met innerlike vrede, weet hoe afhanklik hulle van God is, vreugde vind in die simplisiteit van die lewe, en selfs onder druk steeds vriendelik is teenoor almal.
Dit bring ons by die enkel grootste rede waarom ons sukkel om die seëninge te sien en tot seën vir ander te wees.
Die mite dat ons nie GENOEG het, of is nie
Soos laas week gesê: die grootste rede waarom ons sukkel om die oorloop – oorvloed – oorgenoeg van die lewe te herken en te ervaar, is vanweë ʼn gesindheid dat ons tekortskiet. Ons skaarsheidsdenke maak dat ons dink ons ly gebrek en het te min.
Ons was almal al daar waar ons sê, as ek net meer finansiële sekuriteit het, sal ek gelukkig wees; as ek net meer tyd het, sal ek kan doen wat ek graag wil; as ek beter gelyk het, slimmer was, dít of dát het, dán sal my lewe meer betekenis hê.
“We are enough. But we don’t believe it. And the fear of not being enough is the origin of our shame.” — Brené Brown
Waar kom die illusie van ‘nie Goed-Genoeg nie’ vandaan?
Van jongs af, direk of indirek, hoor ons dit van ouers, onderwysers, vriende, en die kerk:
Sosiale media voed die leuen — perfect-looking people living perfect-looking lives. Algoritmes forseer advertensies op ons af wat ons oortuig ons moet méér van dit hê, nóg iets om beter te lyk, méér gadgets, nóg wat ek nie nodig het nie.
Die probleem is nie die stuff waarvan ons te min het, of dat ons dink ek moet my waarde verdien, en als wat ek moet doen om aanvaarbaar te wees vir ander selfs al is dit ten koste van myself nie.
Daardie diep gevoel van goed-genoeg gaan oor jou wat verdien om onvoorwaardelike liefgehê te word, aanvaar en ondersteun te word as mens, met respek en deernis behandel te word — want God doen!
So, as daai stem van nie-goed-genoeg-nie in jou oor fluister, sê dan vir jouself: “Dit is nie my waarheid nie! Ek is nie perfek nie, maar ek groei. Ek maak foute, maar ek leer. Ek is dit werd om gehoor en gesien te word en gelief te wees.”
When ‘more’ becomes the measure — dan is ons nooit tevrede nie, is daar geen dankbaarheid nie, besef en ervaar ons nooit die seëninge wat in oorvloed om en by en in ons is nie.
Jy hét, en jy ís genoeg!
En dit, DÍT is meer as genoeg.
Met liefde soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.