“We only live once.” says he.
“Wrong! We only die once.
We live every day!”
― Anonymous —
Vandag se ‘Broodjie’ is seker 10x van vooraf begin ... sal ons iets opbouend en bemoedigend sê oor die jaar wat voorlê, of sal ons praat oor God en Christus noem?
Wat beplan is om oor te skryf, het verdamp in verdriet. My vriend is dood. My beste vriend is onherroeplik dood.
Weereens oorweldig deur droefheid en smart — my pa en my beste vriend in drie maande terwyl ek wonder: hoeveel trane gaan dit vat in die bedding van rou voor blomme van mooi herinneringe weer groei …?
Gun my om die een of ander te sê oor my vriend en dan in ʼn paragraaf of twee te praat oor lewe en dood, en waarom dit belangrik is om sinvol hieroor te dink.
Sedert 1982 was Welmar Ras ʼn integrale deel van my lewe. Hy was waarna Spreuke 18:24 verwys, “a friend who sticks closer than a brother” — waarlik, in elke opsig het hy, ná Kobus se dood in 1993, my emosionele, intellektuele, en spirituele ‘broer’ geword. Nie ʼn week het verbygegaan sonder kontak tussen ons nie, en as hy in die Kaap gekom het, was dit asof daar net ʼn komma tussen ons kuiers was. Ons vriendskap was wat Psalm 133:1 beskryf as, “Behold, how good and pleasant it is when brothers dwell in unity.”
Almal wat Welmar geken het, kan getuig dat hy die vergestalting was van ʼn ‘larger than life’-persoonlikheid. Hy kon inspireer en teregwys; hy kon jou besiel om ʼn beter weergawe van jouself te wees en met vlymskerp humor jou daarop wys waar jy aanjaag. He was a beloved disciple of BEAUTY. Hy het net die mooi gesien in kos en wyn, musiek en poësie, argitektuur en tekstiele, kuns en tegnologie, God en sy medemens.
In die 1980's, diep apartheid-jare, het Welmar ons vriendekring blootgestel aan Township-Jazz. Hy het ons gery na klubs met LIVE MUSIC. Kiepies by die Mark Teater, vandaar na Dog Box en Pool Club in Hillbrow waar ons meestal die enigste ‘wit-gesigte’ in hoofsaaklik swart klubs was. Oujaarspaarties by Roxy’s in Yeoville, en bunny chow op ʼn sypaadjie voor Fontana … ons was daar toe Voëlvry begin het in Jameson’s Bar in Commissioner Street downtown Jo’burg — omdat Welmar altyd die wie, wat, waar, wanneer geweet het van alles. Nou onlangs nog het hy ʼn artikel vir my gestuur oor die Top 20 restaurante in Kloofstraat. Goeie genugtig, ek het nie eers geweet daar is 20 eetplekke in Kloofstraat nie en ek bly loopafstand daarvandaan.
Almal het geweet — sy geloof is onwrikbaar, sy hoop ononderhandelbaar, en sy liefde onvoorwaardelik.
Sy voorbeeld as pa vir sy twee dogters sou die fondasie vorm vir my verhouding met my seun. Sy liefde vir sy ma, susters en broer, was die hoeksteen vir my verhouding met my familie. Niks was ooit te veel gevra nie en in die dae en nagte van vertwyfeling en verlorenheid was hy voor my deur en het geweier om te vertrek voor die gordyne nie weggeskuif is vir die Lig van verligting en heling nie.
Vir bykans 40 jaar was Welmar se vriendskap ʼn inspirasie!
Our friendship was filled with curiosity, it was kind, non-judgmental, honest, stimulating, adventurous, playful, protective, trustworthy, and nurturing ... and this is my requiem for a friend.
So, hoe gaan ons hiermee om?
Hoe moet ons reageer wanneer ʼn groot, sterk, gesonde man binne 100 dae so agteruitgaan en sterf? Hoe gemaak met ons verdriet en verlange? Wat gemaak met die finaliteit van dood en waar is God in dit alles?
Wanneer iemand na aan ons sterf gaan ons deur vyf fases — skok, ontkenning, skuldgevoelens, verwerking, en dan ʼn herinneringsfase. Nie twee mense ervaar en verwerk dit op dieselfde manier nie. Vir sommige duur die fase van skok ʼn leeftyd en kom hul nooit oor die brug na die res nie. Vir ander bly skuldgevoelens die moeilikste — kon ons iets anders doen, was die dokters nalatig, was ons gebede onvoldoende?
Ná drie dekades van doodsbegeleiding en nie eers drie maande van my pa en nou my vriend se dood nie, weet ek, is ek daarvan oortuig dat ek hoegenaamd nie God verstaan as die een wat ‘lewe neem’ of iemand ‘kom haal’ nie. Ek verstaan die metaforiese taal wat ons gebruik as ons oor God praat. Ek het meer as begrip vir die mitologie wat ons geskep het rondom dood.
YES, I believe in LIFE after life. Vir my is dood ʼn deur wat oopgaan. Dood is vir die siel ʼn bevryding om volkome verenig te wees met LEWE (i.e God) sonder om langer gebind te wees aan vorm, definisie, en dimensie. My rou en verdriet lê ook geweef in vrees dat hierdie emosionele pyn gaan vir altyd my realiteit wees omdat ons nie weet hoe om met dood om te gaan nie.
Dit glo ek wel, dat God troos en vertroos en God doen dit deur die harte en hande van vriende en familie. Ja, God dra en steun ons in ʼn tyd van rou en doen dit deur die gebede en liefde van familie en vriende. Ek weet ook dat elke oggend, vir ʼn lang-lang ruk, staan ons op en die eerste ding waaraan ons dink is die een wat 'weg' is. Môre staan ons op en die eerste ding waaraan ons dink is die een oor wie ons rou. En dan, op ʼn dag, staan ons op en die tweede ding waaraan ons dink, is die een wie se naam met trane geskryf word.
Ons is nog nie daar nie. Vandag is ons harte seer en hoor ek weer W.H. Auden se ‘Funeral Blues’ —
“Stop all the clocks, cut off the telephone,
Prevent the dog from barking with a juicy bone …
The stars are not wanted now; put out every one,
Pack up the moon and dismantle the sun …”
Wat wil ek sê — koester jou vriendskappe. Bel vandag jou dierbares en sê dat jy hom/haar mis en dat jy vir hulle lief is. Wees ʼn broer of suster vir elkeen op jou lewensreis. Be a better dad … be a better mom. Kies vergiffenis bo verwyte. Kies liefde bo vrees. Live life alive!
Hou vas aan jou geloof, wees moedig in jou hoop, en wees die een wat liefde na die tafel bring.
Ek drink vandag ʼn Rusty Nail op jou, my vriend!
Soos altyd Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
'n Paar belangrike skakels om te besoek: Ons Somerfees en foto's, ons Sirkelflitse en Jaarprogram vir 2021, asook ons YouTube video's met nuwe Episode 41
“Death is not extinguishing the light;
it is putting out the lamp
because dawn has come.”
― Rabindranath Tagore ―
Ons Sondae Sirkel is voorlopig opgeskort
volgens reëls en regulasies van Vlak 3
Ons hou julle op hoogte
wanneer ons weer hervat