“There is no perfection, only beautiful versions of brokenness.”
— Shannon L. Alder —Paasfees is verby. Die invloed daarvan nog lank nie.
Net om ons geheue te verfris: die Griekse woord wat gebruik word om van Jesus se ‘opstanding’ te praat is anistimi waar die woord anastasis vandaan kom. Dit beteken: ontwaking, herlewing, wedergeboorte, transformasie.
Met ander woorde, Paasfees gaan oor: rebirth, renewal, reawakening, revival, restoration.
Om dit bloot as ʼn resussitasie van ʼn fisiese liggaam te sien, mis totaal die dieper betekenis van waaroor dit gaan.
In die Noordelike Halfrond maak Paasfees meer sin omdat dit die begin van Lente vier.
‘Nuwe LEWE’ is oral te sien, en die ganse natuur eggo die ‘opstanding’ — wat ons gedink het is dood, lewe!
Nou is die vraag: wat het verander in ons, en hoe lyk hierdie transformasie in elke aspek van ons lewe?
As Christen is die herdenking van Jesus se dood en die manifestasie van sy teenwoordigheid aan mense wat hom geken het ook ʼn tyd van diep refleksie oor my eie lewe. Elke situasie wat smag na vernuwing met die verlange om my warboel gedagtes tot ʼn ruspunt van vrede en gemoedsrus te bring.
Van tyd tot tyd gaan almal van ons deur ingrypende verandering in ons lewe.
► Vir sommige is dit die begin van 'n huwelik, die geboorte van 'n kind, 'n nuwe werk, om te verhuis, of 'n droom vakansie.
► Vir ander is dit 'n egskeiding, siekte, die dood van 'n geliefde, finansiële druk, of voortdurende spanning by die werk of in jou huis.
Miskien is jy deur so seisoen van ‘dood’ en ‘graf’ in jou persoonlike lewe. Miskien het ʼn verhouding nie uitgewerk soos jy gehoop het nie, of miskien voel jy ‘stuck’ en ongelukkig oor waar jy jouself tans bevind. Ons weet WÁT moet verander maar weet nie HOE nie.
Kom ons kyk hierdie week na ʼn paar goed wat ons kan doen om op te staan uit die dood. Hoe kan ons nuut begin en ons lewe ʼn refleksie maak van Liefde, Dankbaarheid, en Vreugde?
Voor ons met 'n nuwe hoofstuk in ons lewe begin, moet ons verstaan wat het ons gebring tot waar ons nou is. Gebeure uit ons verlede is 'n geleentheid om te leer en te groei. Dit vra eerlikheid met onsself en om verantwoordelikheid te vat vir elke aksie en reaksie.
Om aandagtig te leef, help om perspektief te behou. Dit kweek insig (waarheid) en bring ʼn groter uitsig (wysheid). Dit help om te onderskei tussen wat is sinvol en wat is onsin. Ons wéét as ons onsself besig hou met dinge wat nie goed is vir ons nie.
Ons stel doelwitte vir onsself en het 'n visie oor wat ons wil verander en vernuwe. Om te fokus op als wat verkeerd is, of net te dink aan wat jy verloor of nie het nie, maak 'n mens bitter — do you want to be bitter or better?
Wat dra waarde toe tot jou emosionele, intellektuele, en spirituele groei? As jy goed doen wat maak dat jy vir jouself respek verloor, gaan ander ook nie vir jou respek hê nie. As jy nie getrou is aan jouself nie, gaan ander jou nie vertrou nie.
Die vrees vir mislukking en teleurstelling is soms oorweldigend. Dit vra moed en dapperheid om te besluit dat nie die kruis óf die graf jou plek is nie. Dit vra durf en innerlike sterkte om soms “NEE!” te sê vir mense en situasies wat geen waarde toevoeg nie.
Paasfees is ʼn simbool van vernuwing en verandering. Soos S.D. Gordon dit mooi stel — “Easter spells out beauty, the rare beauty of NEW LIFE.”
ʼn Geleentheid om elke dag opnuut te begin, en om sensitief te wees vir die goed wat maak dat ons ons doel mis.
Hierdie verandering begin in jou gedagtes, dit begin by jou intensies. Ons is die meeste van die tyd net één gedagte, één besluit vêr van ʼn totaal ander ervaring. Of hierdie ervaring positief of negatief gaan wees, is in JOU hande. Selfs al gebeur goed buite ons beheer, is dit steeds in ons hande hoe ons daarop gaan reageer.
DÍT is wat ‘wedergeboorte’ beteken — die metamorfose van ʼn ruspe na ʼn skoenlapper, van ʼn graankorrel na brood wat gebreek en gedeel word.
Mag dit in elke opsig ʼn seisoen wees waar ons uit die kokon breek om ons vlerke te sprei vir ʼn nuwe dans.
Kom ons verken Sondag verskeie praktiese riglyne hoe om te “ontwaak jy wat slaap en staan op uit die dood, en Christus sal oor jou skyn.” (Efesiërs 5:14)
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.