“Dawn and resurrection are synonymous. The reappearance of the light is the same as the survival of the soul.”
― Victor Hugo —Ons het laas week gekyk na die verskille in die vier Evangelies oor die sterwe en ‘opstanding’ van Jesus. Wie hierdie verskille sien as kontradiksies verstaan nie dat die skrywers van die Nuwe Testament dit nooit biografies bedoel het nie. Met ander woorde — die oorspronklike doel was nie om vir ons te vertel presies wat gebeur het nie, maar om die betekenis van wat gebeur het te interpreteer.
Nie Matteus, Markus, Lukas, Johannes, of Paulus verstaan en ervaar die ‘opstanding’ van Jesus dieselfde nie en om te dink daar is net één interpretasie van Paasfees is om gewoon nie die Bybel te lees óf te verstaan nie.
Paulus probeer die ‘opstanding’ verduidelik aan die Korinthe en raak driftig as hy die metafoor van ʼn saadkorrel gebruik —
“Jou dwaas! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie...” en dan, “So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. 'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek.” — 1 Kor 15:36,42-44
Paulus sê dat ‘in Christus’ lê die ervaring van 'n opstanding wat woorde nooit kan omskryf nie. Sy oproep was om 'n nuwe manier van dink (metanoia) te betree, om bevry te word van 'n lewe wat net gaan oor sekuriteit en oorlewing. Om te erken dat binne ons ‘Human Consciousness’ lê daar 'n ‘Divine Consciousness’ wat ons ken en ervaar as die inwonende krag van God.
Markus eindig sy Evangelie met, “Hulle (Maria Magdalena, Maria die ma van Jakobus, en Salome) het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die angs. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.” (Markus 16:8) ... verse 9-20 is ʼn baie latere toevoeging deur ʼn ander outeur.
Matteus vertel dat wat hy van die opgestane Christus gehoor het, is: “Gaan die hele wêreld in.” Gaan verder as jou vrese, jou onsekerhede en jou xenofobie. Gaan na diegene wat jy as anders beskou, en wie verskil van jou interpretasies, en vertel hulle dat die liefde van God alle mense omarm, ongeag hoe divers ons is. Uit Jood en heiden, man en vrou, slaaf en vry, is daar 'n nuwe mensdom geskep.
Lukas hoor hoe hierdie lewende Christus vir hulle sê dat hul getuies moet wees van sy lewensveranderende krag in hulle huise (Jerusalem); in hul onmiddellike omgewing (Judea en Samaria); in die plek van hul diepste vooroordele (Samaria); en tot aan die eindes van die aarde waar 'n universele mensdom geken sal word. Mense gevul met die Gees, sê Lukas, sal ontdek dat taal, etnisiteit, kultuur, en tradisie geen versperring is nie.
Johannes sê dat die dood van hierdie Jesus sy oomblik van verheerliking was en dat die magteloosheid en finaliteit van die dood oorwin is. In die ‘opstanding’ (wat hy ‘anastasis’ [rebirth and awakening] noem), kry ons deel in die allesinsluitende en allesomvattende LEWE van God.
Volgens hom is die sterwenswoorde van Jesus nie Psalm 22:1 (“My God, my God, waarom het U my verlaat”) wat Markus en Matteus aanhaal nie, maar “Dit is volbring!” Die kruis is volgens Johannes nie ʼn tragedie nie maar ʼn triomf.
Hy verwys nie na Jesus se smeekbede om die ‘beker weg te neem’ nie maar eerder: “Hiervoor is ek gebore — this is my destiny!”
Wat al vyf sê: Dit is eers wanneer ons die transendensie van God verstaan dat ons sien hoe wonderlik sy immanensie is.
Jesus het selde, indien ooit, verwys na Godsdiens. Hy praat oor ons alledaagse lewe en hoe om die buitengewone in die gewonigheid van elke dag te vind. Hy praat oor ons verhouding met mekaar.
Menigmale gaan sy gelykenisse oor wat gebeur met hulle wat uitgesluit is, met hulle wat teen die grensdrade van georganiseerde godsdiens vasgewaai het.
Vandag verstaan ek die ‘opstanding’ as ʼn simbool wat ons oproep tot ʼn ‘NUWE LEWE’ — to practice resurrection here and now!
Die realiteit waarin ons leef, het kondisies geskep waar die meeste van ons onsself kruisig tussen die twee rowers wat ek noem: skuldgevoel en vrees. Ons bevind onsself in ʼn graf van teleurstelling, mislukking, emosionele pyn, wat toegedraai is in die emosionele doeke van nie-goed-genoeg-nie.
Die metaforiese klippe voor die grafte is oral te sien — ongelykheid, armoede, geweld, korrupsie, en selfgeregtigheid. Ons het selfs soldate voor die graf wat geken word in ons arrogansie, verslawing, en onbetrokkenheid (indifference).
Wat ook al die woorde ‘infinity’ en ‘eternal’ beteken, weet ek dit begin by VANDAG, hier en nou!
Soos DeWane Zimmerman dit mooi stel —
“The message of Easter is not, ‘Don’t be afraid to die’ but ‘Don’t be afraid to live’ — to live for those things worth dying for.”
Dit gaan lankal nie meer vir my oor my fisiese dood, of enige begeerte om na my dood geresussiteer te word op ʼn ander plek nie maar om vandag op te staan uit die dood van elke beskuldiging wat die ego voor my voete lê.
Elke aanklag van skuld en straf te vervang met vergiffenis. Elke vonnis van vrees te vervang met liefde.
Om te ‘verskyn’ aan elkeen wat seer het, en die wandelstok te wees vir elkeen wat blind is. Om die sleutels te word vir elkeen wat geboei is, en die salf vir elke wond.
Dan sal Paasfees regtig, soos in rêrig, ʼn geskenk wees wat die moeite werd is om oop te maak en te deel met almal om ons.
So word Paasfees ʼn betekenisvolle beginsel van lewe en maak die woorde, “Hy het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan!” vir die eerste keer werklik sin.
Geseënde Paasfees vir jul almal.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.