“The spiritual life does not remove us from the world but leads us deeper into it.”
― Henri J.M. Nouwen —
Hier is ons in Maart — asem in en asem uit! ʼn Geleentheid om weer te begin… om laas maand neer te sit, en dit wat waarde toevoeg in te pak vir die nuwe maand.
Die laaste twee maande het ek in my dagboek van die vrae neergeskryf wat mense vra as hul my kom sien, of epos, of WhatsApp.
Hier is ʼn paar van hulle: waarom is daar soveel lyding in die wêreld; wat is die verhouding tussen godsdiens en wetenskap; waarom is soveel mense depressief; hoekom is ons so bang vir alles; hoe kry ʼn mens innerlike vrede (gemoedsrus); wat beteken dit om in die ‘nou’ (teenwoordige tyd) te leef; het godsdiens nog betekenis in ʼn moderne samelewing; wat is ‘the meaning of life’; en hoe bereik ʼn mens jou volle potensiaal?
Daar is nie net één antwoord vir elke vraag nie, en vandag se antwoord is nie noodwendig dieselfde oor ʼn maand of ʼn jaar van nou af nie. Die lewe is net te soepel en vloeibaar vir dit.
Wat wel waar is, is die feit dat elkeen van hierdie antwoorde ʼn spirituele ondertoon het. Wat bedoel ek hiermee? Ons spiritualiteit (verhouding, verstaan, en ervaar van God) lê geweef in die vrae wat ons vra oor die lewe in die algemeen en my lewe spesifiek.
Daarom is hierdie maand se tema — EVERYTHING IS SPIRITUAL.
Ek het my bes probeer om dit te vertaal, maar ‘alles is geestelik’ of ‘alles is spiritueel’ val vreemd op die oor.
‘Spiritualiteit’ of ‘om spiritueel te wees’ het vir verskillende mense verskillende betekenis.
[... onthou, spiritualisme is wanneer jy geeste oproep - dis nou te sê as jy een kan kry]
Vir sommige het spiritualiteit te doen met hul religieuse ervaring, en vir diegene wat hulself as nie-religieus beskou, het spiritualiteit te doen met wat hul ervaar as Goddelik en hoe dit manifesteer in die natuur, interpersoonlike verhoudings, en die psige van die mens.
Ons word gebore met spiritualiteit. Dit is die naelstring tussen ons en God — hoe jy ook al ‘God’ of die ‘Goddelike’ ervaar en beskryf.
Sommige praat van ʼn ‘Hoër Krag’ en ander van die ‘Groot Gedagte’ — party verwys na God as ‘Lewe, Lig, of Liefde’ en vir ander is dit ‘Energie’ (Life Force). Hoe dit ook al sy, dit is en bly ʼn baie persoonlike ervaring.
Meer en meer mense in die Westerse wêreld sien hulself eerder ‘Spiritueel’ as ‘Godsdienstig’ — en een van die redes is dat die menu van georganiseerde godsdiens nie meer die honger en dors van die postmoderne mens voed en versadig nie.
Dit lyk vir my of daar ʼn groter soeke is na ʼn sinvolle lewe as na die reëls en voorwaardes wat godsdienstigheid voorhou as vereistes. Mense draai hul rug op die kerk maar nie noodwendig op God nie.
Die moderne mens wil bewustelik en aandagtig lewe in elke faset van ons menswees en dit waag om ons eie spore te trap. Daar is nie meer ʼn aptyt om na te praat of goed te sê sonder om ooit betrokke te raak nie.
Vanweë ʼn stortvloed van spirituele en sielkundige literatuur, YouTube video’s, seminare en werkswinkels, is die mens se kennis verbreed en verstaan verdiep. Mense kan onderskei tussen projeksies van die ego (as gevolg van vrees en skuldgevoel) en refleksies van die siel (deur liefde en vergiffenis) sonder religieuse sisteme.
Die wêreld van dualisme (i.e. goed versus sleg, reg versus verkeerd, in versus uit, hulle versus ons) word vervang met groter inklusiwiteit wat lei tot ʼn geïntegreerde mens-, wêreld-, en Godsbeskouing.
Ons spiritualiteit gee betekenis in ons interafhanklikheid met alles wat lewe, ons verhouding met die natuur en ons plek in die Groot Heelal. Bowenal wil ons weet dat ons nieteenstaande, ongeag, desondanks alles aanvaar word deur God.
EVERYTHING IS SPIRITUAL — ʼn gesprek oor liefde, ʼn gesprek oor vrede, ʼn gesprek oor vreugde, ʼn gesprek oor hartseer en weerloosheid, is ʼn spirituele gesprek. Net so is ʼn begrip oor kennis en verstaan, oor wysheid en waarheid, diensbaarheid en roeping, ʼn spirituele gesprek.
If you don’t get it, then you are wasting your life.
Jy kan dit ignoreer en jou rug daarop draai. Jy kan sorg dat jy só besig is met wat jy dink belangriker is maar kort voor lank (much sooner than later) gaan omstandighede jou by ʼn kruispad bring waar die Lewe dit vir jou gaan besluit… of jy nou wil of nie.
Kom ons antwoord Sondag ʼn paar van die vrae waarmee ons begin het. Bring jou wysheid, ervaring, en ontvanklikheid vir ʼn uur se toewyding en stil word voor God. Saam kan ons dan gesels oor:
Vreugde en vrede vir jou week.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“We are not human beings having a spiritual experience.
We are spiritual beings having a human experience.”
― Pierre Teilhard de Chardin ―