Emmanuel: Liefde in Aksie II

Potgooi:

 

“The beauty of Christmas is not in the presents but in His presence.”
— C.S. Lewis —

Ons tema vir dié maand is — EMMANUEL (God met ons): is liefde in aksie.

Die skrywer van Matteus Evangelie haal aan uit Jesaja 7:14 as hy verwys na die geboorte van Jesus:

“Die maagd sal swanger raak en geboorte gee aan 'n seun en hulle sal hom Emmanuel noem.” (Matt 1:23)

Die dilemma is dat hy sy aanhaling maak uit die Septuagint (die Griekse vertaling van die Ou Testament), want in die Hebreeuse Bybel staan daar:

“Kyk, die jong meisie IS swanger en op die punt om geboorte te gee aan 'n seun, en sy sal hom die naam gee: emmanuel (met ons (is) God).”

Die Hebreeuse woord vir ‘maagd’ is: betula. Jesaja praat van ha-alma (die jong vrou) en waarna Jesaja verwys, is die volgende: God is met die Juda-stam in hul oorlog teen Israel (Noordelike 10 stamme). Die kind waarna Jesaja verwys is tien-teen-een die seun van koning Hiskia wat kort ná hierdie profesie gebore is.

Hoe is dit dat nie een van Paulus se briewe, wat geskryf is die naaste aan die tyd wat Jesus geleef het (51-64CE), en waarskynlik geïnspireer is deur ooggetuies wat Jesus self geken het, enige melding maak van ʼn “maagdelike geboorte” nie?

Die oudste van die vier Evangelies is Markus (70-72CE) maak ook geen melding daarvan nie, ook nie die Johannes Evangelie, of enige van die briewe van Petrus, Johannes, of Jakobus nie.

Die eerste en enigste keer wat dié narratief gehoor word, is in Matteus (82-85CE) en Lukas Evangelies (90-93CE) wat dramaties van mekaar verskil in die weergawe van Jesus se geboorte — of wil Matteus Evangelie iets ANDERS sê? Ek glo hy wil, maar dit is ʼn gesprek vir ʼn ander dag.

Wat belangrik is, is die feit dat Matteus in Jesus se geboorte die vergestalting van Emmanuel (God met ons) sien en ervaar. Vir hom beteken Emmanuel dat ons nooit alleen is nie, en altyd geliefd is.

Soos die Evangelie van Matteus ontvou, is dit duidelik dat God nie net Sy liefde na ons stuur nie, maar die LIEFDE is wat by en om, en in ons leef.

Oor en oor herhaal die refrein homself dat in die Christus wat mens geword het, lê God se diepste verklaring, “Ek is met julle,” wat die klimaks bereik in Matteus 28:20 as Jesus sê, “Waarlik, ek is altyd met julle tot aan die einde van tyd.”

“In Emmanuel, God writes His love story into the fabric of human existence. God’s presence permeates every aspect of life, reminding us that ‘God with us’ is not just a theological idea but a lived reality.” — John Shelby Spong

Wat beteken Emmanuel vir jou?

Vir my is GOD die inwonende krag wat die ganse skepping in balans en harmonie hou waarvan die sterrefisika en kosmologie ons die laaste 30 jaar sóveel geleer het.

God is ‘eindelose potensiaal’ van die kwantum fisika, en die wetmatigheid van die kwantum meganika. God is die gravitasie wat ons aantrek en bymekaarhou in die wentelbaan van Einstein se general relativity.

Kersfees is die brug waar die kosmos aan die aarde raak met LIEFDE, en Emmanuel verander (transformeer) ons vertwyfeling in geloof, ons wanhoop in hoop, en ons vrese in liefde.

Hoe ervaar ek Emmanuel elke dag?

  1. In die skoonheid van die Skepping

Elke sonsopkoms en sonsondergang, die wind in die bome, die golwe en getye, en die reuk van reën. ‘Beauty is my religion’ het ek al baie gesê, want in elke vorm van ‘Beauty’ ervaar ek die teenwoordigheid van God.

  1. In die ritme van die Natuur

In die bekoring van elke seisoen — waar ons Kersfees vier in die seisoen van son en lig en hitte; in die seisoen waar ons ons blare verloor in herfs om te laat gaan aan wat was en plek te maak vir iets nuut; in die winter van stilte en afsondering, self-refleksie en om tyd te maak om weer ons gedagtes en intensies te fokus op dit wat essensieel en belangrik is; maar dan in besonder in die lente as die ritme van geboorte en wedergeboorte ons potensiaal ontsluit.

  1. In gebare van Liefdevolheid (acts of kindness)

Elke vriendelike woord, elke sagmoedige glimlag, elke helpende hand, elke keuse van bereidwilligheid, elke keer wat vergiffenis seëvier, en elke gedeelde oomblik van medemenslikheid en compassion — dit is liefde in aksie!

  1. In die ekstase van elke Verhouding

Of dit is by die werk waar ons ons vaardighede en talente inploeg vir ʼn oes in ons besigheid, of dit in die gee en omgee van ons vriendskappe is, en of dit is in die koestering van ons kinders — in elke verhouding reflekteer ons God se vrede, sorg, en onvoorwaardelike liefde.

  1. In die Buitengewone van Gewonigheid

Elke maaltyd wat ek geniet, in die melodie of lirieke van musiek of foto wat my siel roer, die warm water van ʼn stort, die beskutting van my huis teen die wind, in die soen van my kind en die arms van my beminde, om elke dag iets vir die eerste keer te ervaar, en in elke oomblik waar iets wat onduidelik was my bring tot nuwe insig en verstaan.

Oor en oor, keer op keer, weer en weer soek ek na daardie oomblikke — to find the extraordinary in the ordinary of every day.

Die goue draad wat deur elkeen van hierdie ervarings loop, is dankbaarheid…

DÍT is waaroor die vreugde van Kersfees gaan — dit is die seisoen van dankbaarheid wat ons herinner om elke dag te leef as ʼn geskenk, en ons harte oop te maak as ʼn geskenk vir ander.

DÍT is liefde in aksie.

Soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“At its core, Christmas is about God giving Himself to us in love and asking us to do the same.”  
― Rick Warren ―

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights