Potgooi:
“A poet’s job is to make people feel intensely, to reflect the human condition, and to bring truth to the surface of understanding.”
— Maya Angelou —
Daar is by my ʼn diep hartseer met die dood van Breyten Breytenbach, asof dit die afsterf van ʼn geliefde familielid is. Ek het die voorreg gehad om hom te ken en by verskeie geleenthede met hom te kon gesels waarby ons albei ʼn liefde gedeel het vir ons taal en kultuur.
Ek kon myself vereenselwig met sy mens- en wêreldbeskouing wat weerspieël is in sy digkuns wat voortdurend omgaan met diep geestelike en eksistensiële verkenning oor die aard van ons bestaan, menslike lyding, en die soeke na sin en betekenis.
Ons het beide ʼn groot liefde gedeel vir die mistiek en filosofie, waarby ons een aand op die stoep van die Queen’s Hotel op Oudshoorn tydens KKNK kon gesels het tot die nag se whiskey ons gevat het na die dagbreek se koffie.
Breyten is gebore op 16 September 1939 in Bonnievale. Na sy studie in die kunste aan die Universiteit van Kaapstad het hy sy pad na Europa gevind. In Parys sou hy sy vrou Yolande (van Viëtnamese afkoms) ontmoet. As gevolg van die Apartheid regime was sy huwelik met haar nie geldig in ons land nie, en strafbaar deur die wet.
Sy politieke aktivisme was ʼn rebellie teenoor enige wet wat die menswaardigheid en vryheid van iemand ontneem bloot op grond van ras.
Hy was ʼn deel van die ‘Sestiger’ groep digters wat ingesluit het Ingrid Jonker, Etienne Leroux, Jan Rabie, en Adam Small wat 'n nuwe literêre era ingelui het deur progressiewe en uitdagende idees oor taal, politiek, en kuns wat in die voetspore van Opperman en Van Wyk Louw gevolg het.
Hy skryf:
ek getuig, net hy wie se hart bewe
van liefde vir die medemensmense
sal méns kan wees
net hy wat vuriglik méér vir hulle
as vir homself wil beding…
vryheid, vrede, waardigheid
net hy wat die lewe as heiliger
beskou dan sy geloof en sy gode —
ek getuig slegs hy wat onverpoosd
die haat in hom en om hom bestry
sal méns kan wees
slegs hy wat hom afvra
wanneer sy oë oopgaan op die môre
wat gaan ek vandag doen
om te sorg ek behou my waarde en trots
as méns?
In 1975 is hy gearresteer, aangekla van “terrorisme,” en tot nege jaar tronkstraf gevonnis. Hy het byna sewe jaar daarvan uitgedien. Sy boek “The True Confessions of an Albino Terrorist” (1983) beskryf sy gevangenisskap en die trauma van politieke onderdrukking. Hy het meer as 30 digbundels gepubliseer, asook verskeie kunsuitstallings gedoen.
In sy leeftyd sou hy meer as twee dosyn Literêre Toekennings ontvang waaronder vier keer die Hertzog Prys en vyf keer die CNA Toekenning vir Letterkunde, asook die gesogte Ordre des Arts et des Lettres (Order of Arts and Letters) wat Frankryk se hoogste kulturele toekenning is.
Jy hoef nie met sy politieke siening of affiliasie saam te stem nie maar jy moet toegee dat sy bydra tot ons literêre skatkis van onskatbare waarde is.
Die laaste keer wat ons mekaar gesien het, was toe ons spontaan in mekaar vasgeloop het by Den Anker in die Waterfront. Hy het my aan sy gas voorgestel as “'n Boheemse gatskopper vir wie die kerk nie kon plek maak nie.” Ek het dit as ʼn reuse kompliment gesien.
Ons het gesels oor HOOP in moeilike tye, en gepraat oor wat dit beteken om in die TEENWOORDIGHEID van die oomblik te leef. Ek onthou soos gister hoe hy gesê het, “God is 'n werkwoord van liefde in aksie.”
Lees ek gister weer hierdie roerende gedig van hom:
wanneer ek die dag nie meer daar is nie
moet julle goed omsien na son
en hemel om lig te gee op donker paaie,
sorg dat die heuwels natgelei word
met mildelike reent
sodat valleie mag baat by die klammigheid van lewe
en die hange blink mag glinster,
maak tog seker niks loop verkeerd nie:
sit sneeu opsy vir die winter
sodat elke seisoen op sy tyd kan wit
vir blom en akkedis en sidderende bergpieke,
moenie skrik vir die rou fluite van spookvoëls
helder oordag in die melkhout wanneer hulle roep na maters
wie se vlerke aan kruismaste gespyker is as roulinte nie,
vertroetel verder die mensdom
aan die bors
en onthou om vir Maandag na die Dinsdag
van die vorige week te laat kom
sodat ritmes erken en eerbiedig mag word,
onthou ook om die kinders aan die lag te kry
veral net voor slapenstyd.
Ek het my kant gebring
ek wil net die versekering hê, kamerade,
dat neem en gee veilig sal gedy
in julle hande.
Kom ons sluit ons jaar af en gesels Desember oor die tema — EMMANUEL: Liefde in Aksie. (Emmanuel beteken: God (is) met ons).
Ons kan Sondag begin deur te praat oor: Emmanuel is die belofte dat God is met ons in —
Kom ons maak hierdie jaar se Kersfees die mooiste, beste geskenk vir mekaar.
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.