“Recognize yourself in he and she who are not like you and me.”
― Carlos Fuentes —Miskien moes ons die maand begin het met ‘Die Brief aan die Galasiërs’ siende dat dit die eerste brief is wat Paulus geskryf het. Dit dateer tussen 50-52AC wat dit dan ook die oudste dokument oor die Christelike geloof in die Nuwe Testament maak.
Om die inwoners van Galasië te verstaan, moet ons verstaan wie die Galliërs (Gauls) was, en om hulle te verstaan moet ons weet wat die geskiedenis van die Kelte (Celts) is, en dit vat ons terug na 2000BC. Met ander woorde, dieselfde tyd toe Abraham uit Mesopotamië verhuis het na die Middellandse See.
Die eerste Kelte was woonagtig noord van die Alpe en sou later versprei na die Weste tot wat ons vandag ken as die Britse eilande, asook Oos na wat ons vandag ken as die Balkan lande tot aan die grens van Griekeland.
Die Galliërs (Gauls) sou sedert 800BC hoofsaaklik vandag se Frankryk bewoon en die Oosterse Kelte sou hul vestig in die middel van vandag se Turkye (250BC), en hulle het bekend gestaan as die Galasiërs. Die provinsie van Galasië het gestrek van Ankara (vandag hoofstad van Turkye) tot so ver suid as Antiochië.
“Although they are often hailed as one of the most successful of the Celts, make no mistake about it; their history was bloody and traumatic. The Galatians survived and found their place, but they suffered over many generations. Fearsome, warlike, and wild, they were a people that fought hard for survival.” — Colin J Campbell
Ons weet so min van hierdie enigmatiese volk. Tog, wat ons sien is 'n ongelooflike reis deur antieke geskiedenis — immigrante, reisigers, krygers, huursoldate, boere, priesteresse, handelaars en slawe ... die Galasiërs was al hierdie dinge en meer.
Oor 'n merkwaardige kort tydperk het hulle ook suksesvol geïntegreer. Hierdie Kelte is deur die Griekse hellenisme, die Romeinse invloed, en uiteindelik gekersten tot die Christelike geloof. Om die aanpasbaarheid van 'n Galasiër te hê, sou inderdaad 'n ‘superpower’ wees.
Met die eerste lees van hierdie brief klink Paulus geïrriteerd, met tye ontsteld en selfs kwaad. Hy klap sy tong omdat hulle so gou moed opgee en weer verval het in hul ou gewoontes. Hy is geïrriteerd met die twis tussen die Joodse volgelinge van Christus wat hul Joodse gebruike wil afdwing op nie-Joodse Christene.
HOOFSTUK 1 begin met ʼn getuienis van Paulus van hoe dit gebeur het dat hy ʼn volgeling van Christus geword het.
Hy maak nêrens in een van die briewe melding van sy ‘Damaskus ervaring’ nie en ons lees dit net in Handelinge wat deur Lukas geskryf is sowat 30 jaar ná sy dood. Paulus skryf dat Jesus IN hom geopenbaar is (1:16) en nie ‘aan hom verskyn’ het soos Lukas daarna verwys nie en dat hy daarna vir drie jaar in Arabië was.
HOOFSTUK 2 verwys na sy 14 jaar terug in sy tuisdorp Tarsus, wat ʼn baie lang tyd is sedert sy ‘bekering’ en eerste sendingreis. Wat het hy daardie 14 jaar gedoen? Wat het hom beïnvloed, en hoe het dit hom geskoei vir wat voorlê?
Interessant is dat hy aanhoudend praat van Sefas (asof hy glad nie weet dat sy naam verander is na ‘Petrus’ nie) as hy verwys na hul uitval in Antiochië. Hy praat oor ‘die WET’ wat vir die Galasiër die ‘Ius Scriptum’ van die Romeinse Ryk en vir die Jode die Torah sou wees. Paulus maak dit duidelik dat hy nie langer onder die veroordeling (‘curse’) van ‘die Wet’ staan nie.
HOOFSTUK 3 begin met, “Julle stomme Galasiërs ...” en praat oor die begrip ‘geregtigheid’. As jy die Joodse geloof in een woord kan opsom, sal dit צָדַק (tzadek = righteousness) wees. Die Griekse woord wat Paulus gebruik is δικαιοσύνη (dikaiosuné) wat in sy grondvorm beteken: to be what you ought to be — i.e. wie ons is IN Christus en NIE wie ons is volgens die ‘WET’ nie.
Hy sluit die hoofstuk af met ʼn kontroversiële standpunt vir sy tyd —
“Daar is nie Jood of Griek, ook nie slaaf of vry man, daar is nie man of vrou nie, want julle is almal EEN in Christus Jesus.” (3:28)
HOOFSTUK 4 borduur verder oor dieselfde gedagte en maak dan ʼn ingrypende stelling —
“... alhoewel Jesus gebore is uit 'n vrou en onder die Wet, het hy ons verlos van die Wet sodat ons nie langer as slaaf leef nie maar as 'n ‘seun’ van God en 'n ‘erfgenaam’ van God.” (saamgevat: 4:4-7)
HOOFSTUK 5 praat oor ‘vryheid’ as hy sê dat ons geroep is om VRY te wees maar nie ons vryheid moet gebruik om die “vlees” (dit wat verganklik is) te dien nie maar om mekaar te dien met LIEFDE (5:13) want volgens Paulus word die WET saamgevat in één sin: “jy sal jou naaste liefhê soos jouself” (Lev 19:17).
Dit bring hom by die kern van die saak van wat dit beteken, en hoe dit lyk om jouself ʼn Christen te noem —
“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, sagmoedigheid, en selfbeheersing.” (5:22-23)
HOOFSTUK 6 waarsku “wat jy saai sal jy maai” en dat ons geroep is om mekaar se ‘laste’ te dra, om te doen wat goed is vir mekaar, en om mekaar lief te hê ... want, sê Paulus, Christus het vir ons die ‘new age’ (ja, jy lees reg) die “new aeons” (6:16) en “nuwe skepping” gebring.
Dan sluit hy af met, “Sien met wat se groot letters skryf ek vir julle ... van nou af, laat niemand langer my ontstel nie!” (6:11,17) en in my gedagtes sien ek hoe die ou man sy voet stamp en sy kierie deur die lug swaai.
Kom ons kyk Sondag hoe dié brief van toepassing is op ons as Christene in die 21ste eeu.
Genoeg vir vandag.
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“Oneness with God is not a dream, it is the only reality. Everything else is an illusion.”
― E'yen A. Gardner ―