Die Skoenlapper-Effek III

15 Julie 2018

LITURGIE: 15_julie_2018

Ek is nie meer bang om te verdwaal nie. Dit het my nog altyd op plekke uitgebring waar ek nooit sou gewees het as dit nie was dat ek verdwaal het nie. In elk geval is ‘verdwaal’ ʼn groter ontdekkingsreis as die same-old-same van uitgetrapte paaie, en het die verdwaal-voetpaaie baie meer herinneringe en stories om te vertel. Een ding weet ek verseker: dit maak nie saak hoe vêr die verdwaal is nie, dit is nooit weg van God nie ... daar is geen spasie (óf tyd) tussen God en my nie. Verdwaal beteken nie verlore nie. Verdwaal is nie verwydering nie. Verdwaal is nie verwerp nie!
Die wonderlike (of is dit ‘wonderwerk’?) van verdwaal is dat ʼn mens oor en oor in verwondering is hoe ʼn pad jou raakloop. Nes jy dink dis die einde, dis ʼn cul-de-sac dan is daar ʼn herberg vir die koue, ʼn oase vir die dors, ʼn rivierstroom vir seer voete, ʼn kaggel van gemoedelikheid, en ʼn dagbreek na ʼn lang nag. Al wat ons moet doen op hierdie reis, is om aan te hou beweeg. Moenie stil gaan staan en stagneer nie. Hou aan beweeg want water wat stilstaan word brak en onbruikbaar. Hou aan roer anders maak dit klonte en brand dit vas, of soos Einstein herinner het, “Die lewe is soos fietsry – as jy jou balans wil behou moet jy vorentoe beweeg.”
Waarom is dit van ALLES in die lewe waar, behalwe as dit kom by ons Godsdiens? Waarom is die Kerk nog altyd aan die verkeerde kant van sosiale geregtigheid? Of dit die Magna Carta was in die 13de eeu; slawehandel; segregasie en apartheid; stemreg en gelykheid vir vroue; die erkenning aan mense se seksuele oriëntasie as volwaardig mens; die totale verwerping van geweld en oorlog insluitende elke gebaar van liefdeloosheid — al hierdie issues was/word deur die kerk geregverdig deur die Bybel aan te haal. Mense se pyn en verdriet word afgemaak as die gevolg van sonde of in uitsonderlike gevalle as die (toelaatbare) wil van God. Ouers wat ʼn kind begrawe moet hoor hoe God die kind “kom haal het” en ʼn man wie se vrou sterf moet tevrede wees met die trooswoorde dat dit “haar tyd was” ... wat ʼn loutere onsin om enersyds met God en andersyds op so manier met ons eie menswaardigheid om te gaan. Dit is daarom nie vreemd dat die meeste mense (en ek oordryf nie) na bogenoemde kyk en luister en dan hul rug op die kerk draai nie. Vir hulle maak die god van die kerk nie meer sin in ʼn moderne, gesofistikeerde wêreld nie. Die god van paradoks hou gewoon nie meer water nie want dis ʼn god wat lief het maar wie jy moet vrees; dis ʼn god wat verwerp én vergewe; dis ʼn god van versoening maar wat jaloers is; ʼn god van eindelose genade maar verwag gehoorsaamheid en onderdanigheid. Wat het ons gemaak van God?
Daarom vat ons dié maand die pad en hoop om te verdwaal en gevind te word in die tema — LIFE IS A JOURNEY --wat veel meer as ʼn goedkoop cliché is. As God en Lewe sinoniem is dan is God ʼn werkwoord. Dis iets waarmee ons konstant besig is. Blywend meedoenend is. God is nie iets waarheen ek op pad is nie maar waarmee ek reis. Om ‘tuis te kom’ lê aan die binnekant en nie êrens, eendag, miskien nie. Ons ervaar God in ons proe, ruik, hoor, sien, en voel maar bowenal in ons intuïsie, sensitiwiteit, en aanvoeling. Daarom begin elke gesprek oor en met God in stilte. Ons fokus ons spirituele oë en ore op die asemhaling en ritme van ons hart. Ons gee dit ʼn stem en laat dit toe om in en deur ons te beweeg. Ons rituele en simbole help ons onthou. Ons heilige boeke is rigtingwysers net soos elke ander paragraaf van elke ander geskrif waarin God se fluistering en asem my lewe ontsluit om in alles, met almal, liefde te kies bo vrees. God is daarom dit wat my nader, en dan verby myself neem sodat God my Self (wat volmaak een is met God) kan inspireer om ʼn beter weergawe van myself te wees as ons ontdek: GOD IS THE JOURNEY.
Jesus, so min as wat ons histories weet, was ʼn eerste-eeuse persoon in wie se lewe mense geglo het hulle iets ervaar wat hul ‘God’ genoem het en dit op hul eie unieke manier probeer versoen het met dit wat hulle as ‘mens’ verstaan het. Hierdie ervaring is wat ons vind in die bladsye van die Nuwe Testament. ʼn Eerste-eeuse verduideliking van ʼn Jesus-ervaring is toe in ʼn vierde-eeuse verklaring gegiet as die enigste ervaring wat die mens kan en mag hê met Jesus. Daarby staan, én val, die kerk van alle eeue. Die verwysingsraamwerk van daardie eerste vier eeue bestaan nie meer vandag nie. Ons verstaan van die ‘wêreld’ is ligjare ver uitgebrei. Ons kennis van die ‘mens’ in die kompleksiteit van fisiologie en psigologie is millennia verder ontwikkel. Ons begrype (verstaan/kennis/weet/wysheid) van die ‘waarheid’ is verreikend en verfyn. Ons besef van God is nie langer ongelooflik nie maar geloofwaardig.
Kom ons verken Sondag nog ʼn roete op die padkaart om die Christus-ervaring in woorde om te sit wat sin, inhoud, en betekenis het as ons na die Bybel kyk as ʼn portret en nie ʼn rolprent, as ʼn skildery en nie ʼn foto nie. Kom ons gesels oor (i) GELOOF as ʼn vertroue in ons lewensreis, (ii) die baie ligstrale van HOOP, (iii) as ons dit waag om met nét LIEFDE in ons rugsak op reis te gaan! — want soos ACIM sê, “Nothing real can be threatened. Nothing unreal exists. Herein lies the peace of God.”

🌺 ACIM — Stad 19h30: 23 April — en Kolping 19h30: 19 April — Lessons 51-61 (which is a REVIEW on everything we’ve been reading the last 3 years!)

Gedagte vir die Week:
“The desire to go home is a desire to be whole, to know where you are, to be the point of intersection of all the lines drawn through all the stars, to be the constellation-maker and the centre of the world, that centre called LOVE. To awaken from sleep, to rest from awakening, to tame the animal, to let the soul go wild, to shelter in darkness and blaze with light, to cease to speak and be perfectly understood.” ― Rebecca Solnit, ‘Storming the Gates of Paradise’

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights