“Small shifts in your thinking,
and small changes in your energy,
can lead to massive alterations
of the end result.”
― Kevin Michel —
Op Netflix is ʼn reeks, Queen of the South, waar die hoofkarakter se ‘Guardian’ vir haar dié interessante feit vertel — “There's a flower that grows in the darkness. It's called ‘Lirio de los Valles’ (Lilly of the Valley). It actually does better in the shade. It blooms in spite of the darkness.”
Dit is vandag 460 dae sedert ons president die eerste keer ons land op ‘grendel’ gesit het. Meer as 60 000 mense in ons land het hul lewens verloor as gevolg van Kovid-19 en nog is dit het einde niet.
Ons moes inderdaad leer om in die donkerte te groei, om in die skaduwees te blom.
Elkeen van ons, sonder uitsondering, se lewe is op een of ander manier ingrypend verander deur hierdie Kroonpespandemie. Meeste van ons het iemand verloor as gevolg van Kovid, om die waarheid te sê, ek het nie meer vingers oor om te tel hoeveel mense wat ek goed geken het, dood is nie.
Die beroep wat my gekies het, is om in diens van my medemens te staan. Om intellektuele, emosionele, en spirituele leiding te gee en waarde toe te voeg. Om, in die sterwenswoorde van my pa, altyd “bereidwillig te wees” — om behulpsaam te wees, om te bemoedig, om betekenisvol te leef, en betrokke te wees om ʼn positiewe verskil te maak in die lewe van ander.
♥ Neo-Spektrum is hierdie jaar TIEN JAAR oud.
Oor ʼn dekade het ons die lewe van soveel mense op een of ander manier geraak. Ons is betrokke by ons omgewing met projekte wat daagliks ʼn verskil maak aan honderde mense se lewens.
Ons betrokkenheid by Attie van Wyk (ʼn landelike skool in Durbanville) het hul in staat gestel om ʼn ekstra onderwyser in diens te neem wie se salaris ons betaal asook ʼn klashulp om te help met groot klasse. Ons het ingespring met ʼn leesprogram waar ons eie lidmate kinders help om te lees. Ons het finansieel gehelp met die opknapping van geboue en selfs ʼn netbalbaan gebou.
Ons het drie skoliere wat by Attie van Wyk Laerskool was wie se hoërskoolgelde ons betaal, en met ons Alimentasie Fonds help ons gereeld individue wat in nood verkeer.
Ons gee bystand aan Huis Jabes waar vroue uit ʼn situasie van geweld kan kom bly tot hul ʼn ander heenkome het, en ons is aktief betrokke by MES-aksie wat elke dag werk met hawelose mense wat op straat beland het. Dit is net twee van die instansies wat ons trots is om te ondersteun en waar ons Winter- en Somerprojekte ʼn daadwerklike verskil maak.
Dit is net ʼn paar van die plekke waar ons betrokke is, maar bowenal gaan dit oor ons Geloofsgemeenskap.
Alhoewel ons nie die amptelike strukture van ʼn tradisionele kerk het nie, funksioneer ons ook as ʼn Gemeente met Sondagbyeenkomste as ʼn plek van aanbidding en geestelike lering vanuit ons Christelike Geloof.
Hoekom vertel ek vir jou al hierdie dinge? Omdat die invloed en gevolge van Kovid ná 15 maande ook nou vir ons op ʼn plek gebring het waar ons leivore besig is om leeg te loop en die weiding vir ons kudde nie meer genoegsaam is om alles by te bring nie.
Die feit dat ons eredienste se bywoning met 50% gesnoei is deur wetgewing, dat ons nie ʼn enkele werkswinkel, konferensie, of seminaar kan aanbied nie, en dat ons inkomste (kollektes, bydraes, donasies, skenkings, fondsinsameling) met bykans 50% afgeneem het, het ons op ʼn punt gebring waar ons nou jou hulp nodig het.
Ons kan nie net wegstap van ons verantwoordelikhede nie. Te veel mense is direk en indirek afhanklik van ons maandelikse ondersteuning.
Hoe kan jy help? Onderaan hierdie webblad of hier kan jy vir ons elke week ʼn ‘afstand-kollekte’ doen via EFT, Snapscan, kredietkaart, debietkaart, MasterPass of PayPal, of ʼn maandelikse bydrae maak. Jy kan oorweeg om ʼn skenking te maak vir een van ons projekte en omrede ons ʼn geregistreerde Artikel 18a-maatskappy is, kan ons vir jou ʼn belastingsertifikaat gee indien jy jou bydrae uitsluitlik vir hierdie been van ons werksaamhede wil gee.
Ek glo in die ‘Butterfly Effect’ wat beteken dat ʼn klein gebaar in die oomblik kan ʼn enorme invloed hê op die groter prentjie.
Dit is net drie voorbeelde waar enkele gebeure ʼn globale invloed gehad het. In ons eie sirkel van vriende, familie, en kollegas is die invloed van ʼn enkele besluit sigbaar. Elke reaksie van woede en geweld het verreikende gevolge op mense om ons. Net so het elke gebaar van vriendelikheid en vrede ʼn kettingreaksie van soveel liefde en vreugde.
“Each smallest act of kindness, reverberates across great distances and spans of time — affecting lives unknown to the one who’s generous spirit, was the source of this good echo. Because kindness is passed on and grows each time it’s passed until a simple courtesy becomes an act of selfless courage, years later, and far away.”
— skryf Dean Koontz in sy wonderlike boek, ‘From the Corner of His Eye’.
Dit is geen gewone ‘Broodjie vir die Week’ nie, maar ek glo dat dit wel ʼn boodskap het vir iedereen, al is dit net om vandag versigtig te wees met wat jy dink en sê, om sensitief te wees in elke aksie en reaksie, en om êrens betrokke te raak waar daar ʼn daadwerklike verskil gemaak word aan mense se wel en weë.
My hoop is dat hierdie versoekskrif ʼn positiewe reaksie sal hê.
Met liefde en waardering.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Vir enige navrae kontak Edward Smuts by 0827881824
Vir elke bydrae — hoe klein of hoe groot ook al — sê ons dankie.