Die pad terug na God IV

22 Augustus 2021

“There are no ‘if's’ in God's world. And no places that are safer than other places. The centre of His will is our only safety. Let us pray that we may always know it”
― Corrie Ten Boom —

Met ʼn Spirituele GPS in die hand stap ons dié maand ʼn Pad terug na God. Van oorgawe na aanvaarding na verantwoordelikheid wat ons dan vat na ʼn plek van VERANDERING.

Dit is nou maar eenmaal waar: almal soek verandering, niemand wil verander nie.

Alles om ons verander teen ʼn duisligwekkende spoed, maar ons skop vas, want verandering maak ons onseker, en onseker maak ons bang, en bang voel soos verloor.

Dit was Charles Darwin wat bevind het dat dit nie die sterkste van die spesie is wat oorleef nie, maar die mees aanpasbare. Daarby het Einstein sy stem gevoeg deur te sê dat intelligensie word gemeet aan die vermoë om te kan verander. Hierdie intelligensie is natuurlik ʼn fyn balans en harmonie tussen IQ, en EQ (emosionele intelligensie), en SQ (spirituele intelligensie).

Maar hier is die aar van die aarde en die lig van die liggaam — enige verandering wat regtig ʼn verskil in jou lewe maak, gaan gepaard met ʼn (pynlike) afsterf van die oue om geboorte te gee aan iets nuut.

Volgens my is daar DRIE terreine wat móét verander: wat ek glo oor God; hoe ek dink oor myself; en wat ek doen teenoor my ewemens.

Dié drie lê inmekaar geweef, want hoe ek dink en glo oor God gaan bepaal hoe ek glo en dink oor myself, en wat ek dink en glo van myself gaan onvermydelik bepaal hoe ek my medemens behandel.

Dink vir ʼn oomblik oor die volgende sewe punte en dan vra ons onsself in watter een (of meer) vind ons onsself en wat gaan ons doen om dit te verander:

  1. Ons is geleer dat God het ʼn agenda, en God se liefde werk met meriete — so ontstaan behoeftes en verwagtinge.
  2. Die toekoms is onseker, want dis óf hemel, óf hel — die idee van mislukking word gebore.
  3. Ons is los / verwyderd van God, van mekaar, en myself — verwerping vind plaas.
  4. Daar is nie genoeg vir almal nie — teleurstelling en ontevredenheid word gekweek.
  5. Ons gaan iets moet doen om meer te kry / hê om aanvaar te word — afguns en gierigheid word gebore.
  6. Ons kry nie wat ons wil hê nie — bitterheid en verwyte neem oor.
  7. Ons glo ons is sondig, skuldig, sleg en verdien om gestraf te word — skuldgevoelens en vrees bepaal dan elke aksie en reaksie.

In so 'n dualistiese wêreld floreer die ego. As ons begin om gedagtes en gevoelens teen mekaar af te speel, sal ons verhouding met God, myself, en my medemens ook deurweek wees van persepsies en projeksies. Nie een van die twee het enige iets te doen met die Waarheid (i.e. God) nie.

David Steindl-Rast, ʼn Benediktynse monnik het ʼn paar formidabele boeke geskryf wat ʼn enorme invloed op my spiritualiteit gehad het waaronder sy wonderlike boek I am through you so I ... maar dit was, The Music of Silence wat ʼn ingrypende verandering in my manier van glo en dink oor God, myself, en my medemens teweeg gebring het.

Hy skryf onder andere —

“Our affluent society stays affluent by making the containers bigger when they are just about to overflow, like a fountain with its lovely veils of water spilling over. The economics of affluence demand that things that were special for us last year must now be taken for granted; so the container gets bigger, and the joy of overflowing, gratefulness, is taken away from us. But if we make the vessel smaller and smaller by reducing our needs, then the overflowing comes sooner and with it the joy of gratefulness. It’s the overflow that sparkles in the sun.”

Ons wil die wêreld om ons verander sonder om self te wil verander. Ons glo dat as omstandighede om ons verander, dán sal ons gelukkig wees … as ons net meer van dit en minder van dat het, dán sal ek verander. Ons dink steeds dat verandering moet van buite kom.

Onthou jy die woord, ‘bekering’ waarmee ons grootgeword het? Wat is dit anders as ‘om te verander’ …? Ons wéét wat werk en wat nie werk nie, veral as ons iets al ʼn duisend kere probeer het met dieselfde resultaat.

Jesus vra vir die vrou wat deur die priesters en prokureurs gestenig wou word of daar dan niemand oorgebly het om haar te verdoem nie. “Niemand nie!” antwoord sy en dan sê Jesus vir haar, “Ook ek veroordeel jou nie … gaan en sondig nie meer nie.” Wat hy sê, is — VERANDER! (Johannes 8:2-11)

“Life does not get better by chance; it gets better by change” het ek êrens gelees.

Kom ons staan Sondag stil by hierdie rigtingwyser en vra vir onsself WAT moet verander, en HOE gaan ek dit doen?

— mý wil versus die wil van God (inkeer)
— tel jou seëninge en nie jou ontberinge nie (omkeer)
— transformasie (verandering) is ʼn besluit (bekeer)

Vir vandag sal ek fokus op die volgende verandering:

Om te doen wat goed en opbouend is. Besluite te neem wat in lyn met my roeping is. Om te onthou dat ons bestaan is meer as net ʼn lewe van vlees en bloed. Tot die dag wat my lewe verdamp in die son sal ek my bes doen om VANDAG sinvol te lewe … om betekenis te gee aan elke dag, en getrou te bly aan my geloof, hoop, en die liefde wat soos ʼn vuur in my brand.

Wys my hoe, o Heer. Wys my hoe.

Met toewyding en waardering

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

"God can only do for you
what He can do through you."

― Eric Butterworth 

 

Neo-Spektrum Byeenkomste

Elke Sondag om 10:00
Kolping Kapel
7 Biccard Straat
Durbanville

Die eerste 50 wat kom
kry 'n sitplek

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights